Daar is verskeie maniere waarop ons die begrip “wet” kan verstaan. Daar is in die eerste plek die 10 Gebooie, wat ook bekend staan as die sedewet. Daarmee saam word ook die eerste 5 boeke van die Bybel die wet genoem. Daarin vind ons die seremoniële wette sowel as burgerlike wette.
Noudat ons die Kategismus behandel het oor al 10 gebooie, kom ons by die vervulling van die wet deur ons Here Jesus. Maar so word ons ook geroep om die wet te vervul.
Ons kyk in besonder na die Nagmaal en die wyse waarop ons hierdie opdrag kan nakom.
So kom die reeks preke oor 2 Korintiërs tot sy einde. Mens het nogal gewonder oor Paulus se bedoelinge in hierdie skrywe. Soms was hy humoristies of sarkasties en soms selfs behoorlik vies of onthuts. In woorde was hy ook nie altyd so sag nie.
Dis nogal te verstane as mens eers sy ware doel of bedoeling snap.
Hy het volgens ons teksvers die gemeente se beste voordeel in gedagte. Hy doen sy werk al ontstel dit soms ook die luisteraars of lesers. Alles in die lyn van hulle geestelike groei tot volwassenheid. Dan kan Paulus en ook ons die sonde nie verdra of té sagkens hanteer nie.
Mag die prediking van hierdie afgelope ses maande ook bydra tot jou geestelike volwassenheid.
Ondersoek jouself, en stel jouself op die proef. Hierdie twee aspekte klink dieselfde maar dit is nie.
Om ondersoek te doen, is om al die besonderhede na te gaan. Dit is om na alle verskillende faktore en elemente te kyk en dan te beoordeel wat goed en wat sleg is. Dink bv. as jy ‘n nuwe voertuig koop. Jy stel ondersoek in watter modelle daar is en hoeveel hulle kos. Wat is die wringkrag en hoeveel kilometer die voertuig kan ry per liter. En dan gaan neem jy ‘n toetsrit. Jy stel die voertuig op die proef.
So moet ons ook toets of ons in die geloof is. Saam met hulle wat openlik hulle geloof bely en die wat gedoop word, berei ons ook voor vir die nagmaal met die ware selfondersoek.
Skriflesing: Markus 14:53-65 (2020) Teksvers: Markus 14:55-60 HK: Sondag 43
Valse getuienis is nie heeltemal dieselfde as om te jok nie. Die negende gebod se inhoud en gewig is baie meer as net om waar en vals teenoor mekaar te stel. Met ander woorde, om nie die waarheid te praat nie is heeltemal anders as om vals te getuig.
Ons hele woordeskat is besoedel met onwaarhede. Dink maar net hoeveel keer beskryf jy dinge uit jou ervaring van die lewe, wat nie presies reg is nie. Jy het gedink dit was ‘n rooi ballon, maar dit was toe al die tyd ‘n donker pienk een. Valse getuienis is egter om doelbewus te sê die ballon was rooi terwyl jy eintlik weet dit is donker pienk.
Uit die verhoor van ons Here Jesus deur die Joodse Raad staan ons vanaand stil by die tema: wat het ons getuies nog nodig?
Die reeksprediking uit 2e Korintiërs nader sy einde. Paulus is besig om sy brief af te sluit. Hy het egter die vrees dat gemeente met alle erns nie op sy skrywe ag slaan nie.
Die vraag wat dus bly is of jy wat deur geloof in Christus ‘n nuwe mens geword het (5:17), ook nou besig is om te verander om aan die beeld van Christus gelyk te word (3:18) en dat die gemeente werklik byna gereed is soos ‘n maagdelike bruid (11:2) wat op haar bruidegom wag.
Die kernwoorde is bekering en opbou. Dít kan nie net by woorde bly nie.