Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 159 of 192)

Die gelowige se roeping in’n bose wêreld

Skriflesing: 1 Pet 2:11-17
Teksvers: 1 Pet 3:8-12

  1. Die wêreld waarin ons geroep is. Die apostel Petrus skryf vir “vreemdelinge en bywoners” wat ter wille van hulle geloof ly. Die mens wat in Christus verlos is, gaan ʼn vreemdeling wees in die wêreld en ter wille van Hom gespot word. Die wêreld se stryd teen die kerk duur al vanaf die sondeval voort tot vandag toe.
  2. Die inhoud van ons roeping. Petrus sê egter ons is geroep om in hierdie bose wêreld in liefde te lewe. Dit geld in die eerste plek vir medegelowiges onder mekaar in die kerk, maar dit sprei ook uit na buite om selfs die mense wat jou kwaad aandoen, te seën.
  3. Die seën op ons roeping. Hierdie roeping behoort die gelowige vol te staan sodat ons die seën van God kan erf (v. 9). Hierdie erfdeel is in die eerste plek die ewige lewe wat ons deur genade alleen van God af ontvang, maar gedeeltelik word die seën in hierdie wêreld reeds sigbaar in God se teenwoordigheid ten midde van ons swaarkry.

Laai af

‘n Nuwe mens in en deur Jesus Christus

Skriflesing: Romeine 8:1-17
Teksverse: Romeine 8: 1-3

In 2 Korintiërs 5:17 staan daar dat elkeen wat in Jesus Christus glo, ‘n nuwe mens word. Die vraag is of ek werklik ‘n nuwe mens in en deur Jesus Christus wil word? Immers wat is nou so verkeerd met my huidige lewe? Kyk ons na Romeine 8:1-3 dan is dit duidelik dat ons sonder Jesus Christus veroordeeldes is. Die Heilige Gees skep in die gelowige se hart ‘n innige verlange om al hoe meer nuut te word in Christus. Deur Jesus Christus se versoeningsdood het ons die wet van die Gees ontvang. Hierdie wet van die Gees maak elkeen vry van die dwingende en verwoestende mag van die wet van die sonde en die dood. Hierdie nuwe wet skep ‘n nuwe lewe en ‘n nuwe identiteit in Christus. Dit is moontlik gemaak toe God sy eie Seun mens laat word het en die sonde van die mens op Hom geneem het.
Dit is die verlange van elke gelowige om die wet van die Gees sy eie te maak. So sal jy as gelowige nie meer in die mag van die wet van die sonde en die dood vasgevang bly nie, maar werklik vry word om in en deur Jesus Christus oor die sonde te heers. Mag jy groei in die nuwe lewe in Christus alleen.

Laai af

God se huis en Salomo se hart. God woon in ons harte

Skriflesing: 1 Kon 8:12-21; 1 Kor 3:9b-22
Teksvers: 1 Kon 8:12,13,27-30; 1 Kor 3:9b,16,17

1 Kon 8:12-13,27-29 “Toe het Salomo gesê: “Die Here het gesê Hy wil in duisternis woon. 13) Daarom, Here, het ek vir U ‘n waardige huis gebou, ‘n verblyf waar U altyd kan woon. 27) “Sou God werklik op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het! 28) Hoor tog, Here my God, die gebed van u dienaar, hoor sy smeking, luister na die hulpgeroep, die gebed wat u dienaar vandag tot U rig. 29) Hou hierdie tempel dag en nag onder u sorg, die plek waarvan U gesê het dat U u Naam daar wil vestig, sodat U die gebed kan hoor wat ‘n dienaar van U na hierdie plek toe bid.”

1 Kor 3:9,16,17 “Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God. Julle is ook die gebou van God. 16) Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? 17) As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle.”

Ons gaan na drie sake kyk:

  • God woon in ons hart.
  • God vra getuienis vanuit ons hart.
  • God vra gebede vanuit ons hart.

Maak oop

Gee wat God jou gee vir sy diens

Skriflesing: I Kron 29:1‑19
Teksvers: I Kron 29:5b,14,18

Dawid se hart was brandende vir die Here. Hy wil sommer ‘n huis, ‘n tempel vir die HERE bou. Dan word hy verbied en moet hy dié groot voorreg oorlaat aan sy seun, Salomo, wat ná hom koning sou word.

En dan sien ons hoe sy hart staan.. hy begin versamel en oorvloedig. Eintlik gee hy net terug! En dan volg hierdie belydenis wat ook op ons gedenksteen staan en wat die preekteks was tydens die ingebruikneming van ons kerkgebou 40 jaar gelede: “ Alles kom tog van u af en ons gee aan U wat ons van U gekry het” (I Kron 29:14). Vergelyk dit nou met ons tema en lees dan Romeine 111:33-36, veral vers 36.

Laai af

Belofte, belydenis, troos en verwagting – Jesus Christus kom weer

Skriflesing: 1 Kor 11:14-34
Teksvers: 1 Kor 11: 26

Elke keer as ons nagmaal gebruik, word ons opgeroep om te besef dat ons deel het aan die Here se maaltyd. Hy is die Gasheer wat ons uitnooi om sonder enige bybedoelings of skynheiligheid of onverskilligheid, te kom aansit aan die tafel van die Here.

Die Here Jesus het in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem, en nadat Hy die seën uitgespreek het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam vir julle. Doen dit ter herinnering aan My.” So ook met die beker ná die ete, met die woorde: “Hierdie beker is die nuwe verbond deur my bloed. Doen dit, so dikwels as wat julle daaruit drink, ter herinnering aan My.”

Dan volg die woorde van ons teksvers (vers 26): “Want so dikwels as wat julle hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom”.

Mag jy deel hê aan die nagmaal deur vas te hou aan sy belofte dat Hy weer kom. Mag jy vashou aan sy belofte dat Hy weer kom. Mag jy hierdie nagmaal en elke dag vertroos word en uitsien na Jesus Christus se wederkoms.

Laai af

« Older posts Newer posts »