Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Psalms (Page 9 of 13)

Ons ontrou teenoor God se getrouheid! Die grootste troos van genade! GOD BLY GETROU!

Skriflesing: 2 Tim 2:1-13 
Teksvers: 2 Tim 2:13; Psalm 33:4,5 

Ons sterkte lê nie in ons eie krag, of óns groot geloof nie. Ons sterkte lê in Jesus Christus Dit gaan oor die onverdiende genade wat God aan ons gee deur Jesus Christus. Daarom moet ons in harmonie met ons medegelowiges saamleef. Ons het die wonderlike belofte van genade. God se genade aan ons is onverdiend aan ons gegee. Hierdie wonderlike genade dien tot ‘n ontsettende groot troos vir elke Christen. Dit klink asof hierdie laaste drie verse voorwaardelik is vir redding. Nee, die teendeel is juis waar, vanweë ons geloof uit genade is ons bevoorreg om te weet dat God is altyd getrou. Ons gaan na drie sake kyk: 

  • Ons lewe deur Jesus Christus. 
  • Ons regeer deur Jesus Christus. 
  • Ons leef vanweë Jesus Christus se getrouheid. 

SONDAG, DIE DAG VAN DIE HERE – ‘n RUSDAG, ‘n FEESDAG

Skriflesing: Eks 20:8-11; Psalm 92
Teksvers: Ps 92:1,2,14 (Eksodus 20:8-11)
HK Sondag 38

Die Sabbatsgebod reël die mens se weeklikse roetine. Ses dae werk en een dag rus. So was dit van die begin af. Ja, selfs voor die gee van die Tien Gebooie was dit reeds die reël! (Eksodus 16 – die sewende dag was daar geen manna nie).

Die mens wat as die beeld van God gemaak is, ontvang dus hierdie reël van sy God. Op die sewende dag het God sy werk voltooi deur te rus. Die rus was die kersie op die koek! God laat Hom nie rusteloos voortjaag nie. Hy wil ook dat die mens in ‘n bepaalde roetine kom, en so nie ‘n slaaf van die dolle gejaag van die tyd word nie.

Het jy nog tyd vir die Here? Die Sondag wat in die plek van die Sabbat gekom het, is juis die dag waarop jy en ek kan rus, weer tot verhaal kan kom, om na te dink en weer van Hom te leer hoe ons Hom in die week moet dien!

Laai af

Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal vir jou sorg!

Skriflesing: Psalm 37
Teksvers: Psalm 37:5

Dawid was al bejaard tot hy hierdie Psalm geskryf het. (v25) Dit is belangrik, want met grysheid kom die wysheid, vir die meeste mense wat op God vertrou. Daarom dat Dawid weet op wie hy moet vertrou, Hy wat vir hom gesorg het, nou vir hom sorg en altyd vir hom sal sorg. Dawid het die insig gehad wat gebeur met mense wat hulle lewe aan die Here oorlaat, daar is vreugde in hulle lewens. Maar hierdie vertroue in God het in stilte geskied, nie demonstratief nie, nie deur kwaad te word nie, nie deur onsteltenis nie, want God is soewerein en in beheer. Dawid gee in hierdie Psalm vier bemoedigende en vertroostende sekerhede, hoekom ’n gelowige op God moet vertrou:

  • God kan vertrou word. Ps 37:1-11
  • God verstaan jou omstandighede. Ps 37:12-20
  • God seën sy kinders. Ps 37:21-31
  • God sal oor die goddeloses oordeel. Ps 37:32-40

Laai af

« Older posts Newer posts »