Kategorie: Ou Testament (Page 47 of 66)
Skriflesing: 1 Konings 21; Levitikus 25:23
Teksvers: 1 Koning 21:29
Daar bestaan onder ons as gelowiges maklik die gedagte dat as ‘n mens iets reg doen, slegte goed nie met jou gaan gebeur nie. Slegte dinge gaan nie gebeur, net omdat God aan ons kant is nie!
Hierdie idee word deur die verhaal van Nabot en Agab die nek in geslaan. Slegte goed gebeur ook met goeie mense. Eerstens omdat die Here al daar in die paradys die aarde aan sy vloek onderwerp het, en ook omdat God die bose magte toegelaat het om sy kinders te versoek en te beproef sodat ons daardeur kan groei.
Natuurlik is God by magte om dit van ons weg te keer, maar as Hy, soos in die geval van Job, die duiwel toelaat, dan bereik Hy altyd ‘n groter doel daarmee. So kan u en ek nader kom aan die Here en word ons geloof in sy wese geoefen tot groei in die heiligmaking.
Vra jouself vandag net die vraag: Met watter een van die partye in hierdie verhaal sou jy graag identifiseer?
Skriflesing:Jes 55
Teksvers: Jes 55:1,2,10,11
HK: Sondag 25
Elke kind van God, sal in sy lewe, besef dat hy/sy dors is. Maar hierdie dors is meer as net ‘n natuurlike dors na water, hierdie is ‘n dors na werklike vertroosting. Dit is die dors na iets wat meer blywend is as net die tydelike verligting van die fisiese dors. Daarom hierdie baie bekende oproep in ons teksverse dat almal wat dors is na God toe moet gaan om hulle dors te les.
Ons gaan na drie sake kyk:
- Die Heilige Gees BEWERK die geloof deur die Woord.
- Die Heilige Gees VERSTERK die geloof deur die Sakramente.
- Die Heilige Gees SKENK die geloof deur die Wedergeboorte.
Skriflesing: Rigters 13:1-5; 14:1-4 en 15:1-16:4
Teksvers: Rigters 15: 17-19
Die verhaal van Simson begin by die sonde van Israel. Toe die kinders van Israel weer doen wat verkeerd was in die oë van die HERE, het die HERE hulle oorgegee in die hand van die Filistyne, veertig jaar lank… (13:1). En steeds bekeer die volk hulle nie tot die HERE nie.
Na die optrede van Gideon wat die volk bevry het van die Midianiete, het hulle weer verval in sonde. Hulle het weer dieselfde sonde gepleeg deur met die onderlinge volke te ondertrou en hulle nie te verdryf nie. Daar was na Gideon nog 6 ander Rigters wat opgetree het, en die volk gerig het. Maar soos die tyd van die Rigters bekend staan, het elkeen weer gedoen wat goed is in hulle eie oë…
Die HERE is egter nie te vrede met die haglike geestelike en sosiale toestand van die verbondsvolk nie. Hulle is juis uit Egipte bevry van onderdrukking sodat hulle in vreugde kan leef om God te dien. Dit is asof hulle te vrede is om in ongelukkigheid terug te verval, om oorheers te word, om weer slawe te word.
Om hierdie bevryding te bewerk stuur die HERE vir Simson, met buitengewone krag om sy volk uit te red. Ons staan vandag stil by kakebeenshoogte: die plek wat roep om verlossing.
Skriflesing: Hosea 11
Teksvers: Hosea 11:1
In die profesie van Hosea gebruik die Here baie beelde (2:1; 5:14; 13:7; 14:7) om die volk te laat verstaan wie Hy is. Dit is asof die Here hulle wil wakker skud, sodat hulle Hom as ‘n werklikheid sal beleef en nie maar net aan Hom sal dink as ‘n vae idee nie.
In Hosea 11 stel die Here Homself voor as ‘n liefdevolle Vader en ook as ʼn Leeu. Die Here se troue sorg en liefde word in Hosea 11 afgewissel met die beskrywing van sy volk se ontrou.
Die Here roep ons deur sy liefde om by Hom te kom leef.