Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Ou Testament (Page 29 of 66)

JALOERS is die Naam van die HERE

Skriflesing: Eksodus 34:1-16
Teksvers: Eksodus 34:12-14

Jaloesie is ‘n eienskap wat nie baie positiewe optrede kweek by mense nie. Oor die algemeen is dit ‘n negatiewe kenmerk wat baie sterk op jou eie belange fokus. Ons hou nie van mense wat jaloers is nie, want hulle tree uiters selfsugtig op. Die Bybel leer ons ook dat jaloesie die ondergang van die huwelik, verhoudinge en lewe kan veroorsaak.

Waarom dan sal die HERE Homself Jaloers noem?

Ons staan vanoggend stil by die tema: JALOERS is die Naam van die HERE.

‘n Verbond van genade of ‘n Verbondsoutomatisme!

Skriflesing: Jes 42:1-9; Mat 12:9-21; Gen 17:7,9; Jer 31:31-34; Heb 8:6-13
Teksvers: Jes 42:6-9; Mat 12:20; Jer 31:33; Heb 8:10

God het met Israel ‘n verbond gesluit dat Hy sal hulle God wees. Dit noem ons die “monopleuriese” deel van die verbond, die opstelling van die verbond het van God af uitgegaan. Die tweede deel van die verbond is die “duopleuriese” deel, waar die volk uit dankbaarheid vir God ‘n volk moet wees, gehoorsaam aan God. Ons lees in Heb 8:10
“Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.”

Hoe moet ons as “verbonds-gelowiges” die verbond verstaan en daarvolgens leef?

  • God sluit ‘n Verbond
  • God is getrou aan sy Verbond
  • God vra getrouheid aan sy Verbond

Staan op HERE, en keer terug!

Skriflesing: Eksodus 34:1-23; Numeri 10:29-36
Teksvers: Eksodus 34:14-15

Terwyl Moses op bevel van die HERE bo op die berg was vir 40 dae, het Aäron die volk verlei tot afgodery met die goue kalf. Met oorvloed goud en weelde, was die versoeking net te groot. Moses doen voorbidding vir die volk en die HERE sien hom gunstig aan. Maar die HERE wil nie onder die sondige volk bly nie, want sy heiligheid sal hulle dood veroorsaak. Daarom rig Moses ‘n tent op buite die laer. 

Tog kom die pleidooi: Wat sal al die voorspoed en weelde help as die HERE self nie teenwoordig is nie. Wat beteken al die rykdom van die wêreld sonder God? Ons staan vanog-gend stil by die oproep van Moses dat die HERE self hulle Leidsman mag wees. 

Die evangelie sluit die hemele oop

Skriflesing: Job 12:1-25
Teksvers: Job 12:18 en 22
HK Sondag 31

Job worstel met die onreg wat hy moet verduur. Sy vriende probeer hom vertroos deur te wys dat God hom straf vir sy sonde en hy homself moet bekeer. Dan sal God genade bewys. Hierdie worsteling laat ook by ons die vraag, hoe word die hemel vir ons ontsluit? 

Is die geheim van die lewe, om God te vrede te stel en dan toegang te kry tot sy genade? 

Ons staan vanaand stil by die Heidelberger met die laaste vraag oor ons verlossing: Hoe word die hemel vir ons oop gesluit? 

DIE HERE SE PAD IN MENSLIKE DOODLOOPSTRATE

Skriflesing: Eksodus 14:1 -15:3; 15:20,21; Jes 43:1-5
Teksvers: Eksodus 14:14-16

Die wêreld was lanklaas so deurmekaar soos die laaste tyd. Dit gaan van kwaad na erger en mens voel letterlik die prooi van allerlei boosheid en korrupsie en skelmstreke. 

Dit lyk of ons niemand meer kan vertrou nie. Ja, nie eens ons eie leiers nie. Die prentjie het maar somber geraak en dit voel soms of ons in ’n doodloopstraat beland het. 

En dit is juis in hierdie tye wat die Here ons leer om op Hom alleen te vertrou. Hy sien die groot prentjie, maar meer as dit, Hy beheer/regeer dit ook. Daarom is dit juis dan die tyd vir geloofsvertroue op Hom alleen! 

« Older posts Newer posts »