Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Ou Testament (Page 24 of 66)

Oordenking 6 Februarie

Vertrou op die Here, laat feite anders lyk!

6 Februarie 2023
Lees: Num 13:26-14:44

Die eerste maand van die jaar 2023 is al verby. Die jaar het voluit begin. Almal is aan die werk en aan die hardloop. Die uitdagings is steeds daar, beurtkrag, ekonomiese uitdagings, sosiale uitdagings. Ook vir die kerk is daar uitdagings wat al feller en feller word.

Maar is die vraag: Wat is ons toekomsverwagting? Wat is Suid Afrika se toekomsverwating? Wat is jou toekomsverwagting vir die jaar waar jy bly en woon en werk?

In Numerie 13 tot 14 lees ons dat Israel moes nou die land Kanaän binnetrek. Eers stuur Moses 12 verkenners om die land te gaan verken. God het beloof dat Hy Kanaän aan hulle sou gee, die land van melk en heuning. Moses kry opdrag om 12 leiers te kies uit elke stam. Nie enige man kon maar gekies word nie, maar leiers. Dit moes manne van inbors gewees het, wat ’n prominente posisie beklee het. Dit was uitgesoekte manne wat leiers was. Hulle moes goeie oordeel en onderskeidingsvermoë aan die dag kon lê, maar bowenal met ’n vaste geloof in die troue Verbondsgod moes hulle leiding neem.

Die twaalf manne wat gekies word se name het almal besondere betekenisse. Die tien manne wat teruggerapporteer het dat hulle die land nie moes binnetrek nie, omdat hulle bang was vir die inwoners se name het almal positiewe betekenisse gehad. Bv. Sammua beteken, “die gebed van sy moeder,” Safat beteken, die Here het reg verskaf.
Die twee manne wat egter teen die tien ’n minderheidsverslag ingedien het dat hulle wel die land moet intrek se name was Hosea wat die naam Josua – die Here is die Verlosser en dan die naam van Kaleb. En ironies genoeg beteken Kaleb – hond. Dus ’n man met die naam hond, is getrou aan God en sy opdrag. ’n Man met die naam hond, vertrou op God.

Josua en Kaleb het ’n positiewe rapport ingedien afgesien van alles wat so negatief gelyk het om die land in te neem. Ons lees in Num 13:30 dat Kaleb sê: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.”
Kaleb, die leier uit die stam van Juda. Kaleb, soos ’n hond, altyd getrou aan sy eienaar, so is Kaleb aan God getrou en aan sy opdrag. Hy en Josua getuig met lewensgevaar dat hulle die land moet intrek. In vers 30 lees ons dat Kaleb met beslistheid getuig dat Israel die land in besit moet neem want hulle kàn dit doen.
• God het hulle uit Egipte gelei.
• God het hulle gered van die Egiptenaars, deur die Rooisee oop te kloof.
• God het hulle deur die wolk en vuurkolom gelei.
• God het manna, kwartels en water voorsien.
• God was altyd by hulle.
• God sal hulle ook bewaar as hulle die beloofde land intrek.

Vertroue op die Here laat feite anders lyk.

As ons nou aan ons land dink, wat hou die toekoms is? ’n Korrupte regering, diefstal, roof, landvergrype ens. Maar God se verbond is dieselfde van geslag tot geslag. God se belofte dat Hy met sy kinders met sy kerk sal wees, desondanks. Ons weet nie wat die toekoms polities, ekonomies, en maatskaplik vir ons inhou nie.
• Ons het die belofte dat God getrou is.
• Ons het die belofte dat God sy kerk sal bewaar.
• Ons het die belofte dat die poorte van die hel sal die kerk nie oorweldig nie.

Al lyk die toekoms soms bleek en moeilik, God is en was en sal altyd getrou bly. Ons moet met geloofsvertroue op God die toekoms ingaan. Trouens Jesus Christus het in tyd van felle oorheersing deur die Romeine aarde toe gekom as ons Verlosser. Hy het ons verlos en met God versoen. Jesus het die oorwinning behaal. Jesus Christus is ons Koning en Hy berei vir ons ’n plek voor in die hemel. Ook hier op aarde voor die wederkoms, is Hy by en met ons.

Kom ons leef dus voluit as kinders van God.
Kom ons wees getrou soos Kaleb en Josua aan ons opdrag om nie net vir Jesus Christus te leef nie, maar om ook die evangelie in ’n stukkende wêreld uit te dra.

Wat ’n besondere voorreg om te weet en te kan leef uit die wete…

Vertrou op die Here, laat feite anders lyk!

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Aan ‘n nageslag gee God die Land

Skriflesing: Genesis 15; 17
Teksvers: Genesis 15: 6, 17, 18

Abram het geglo en die HERE het hom dit tot geregtigheid gereken. Die HERE het aan Abram die reg toegereken om sy kind te wees, deur sy onwrikbare geloof. Daarby staan twee beloftes sentraal: ‘n nageslag en ‘n land. Die HERE leer ons dat ‘n toekoms vol hoop nie sonder grond en kinders moontlik is nie. As jy nie ‘n nageslag het nie, sterf jy uit, en as jy ‘n nageslag het, moet hulle tog behoort. Hulle moet ‘n plek hê om te bestaan.

So sluit die HERE met Abram ‘n verbond en gee aan hom en sy vrou nuwe name. Abraham, die vader van menigte. In Abraham, dit is deur die geloof, kom die seën van die HERE deur sy vrou Sara. So word vervul wat ook aan Eva beloof is, die vooruitsig van ‘n Verlosser.

Kyk saam met God na sy reënboog in die wolke

Skriflesing: Gen 9:1-17; 2 Pet 3:3-9; Hooglied 8:6,7 (1953); Jes 54:9-11; 1 Kor 3:9-15
Teksvers: Genesis 9:8-17

Tydens u voorbereiding kan u ‘n bietjie nadink oor die wonderlike
reënboog. Ouers, kan u asseblief indringend met jul
kinders praat oor die wonder van die reënboog: hoe dit
ontstaan na die reën, die verskeidenheid kleure en die
betekenis daarvan by Noag, nl. die belofte dat daar NOOIT
weer so ‘n verskriklike waterramp op aarde sal wees nie. Ja,
so het die Here in sy trou gesweer (belowe) en sal dit nooit
verbreek nie.

En onthou daarby dat jy, nes Noag en die ark, by die Doop
self ook deur die water heen gespaar is… in ‘n heilige
VERBOND wat die Here self reeds ook met jou (deur water)
gesluit het!

‘n Ewige Verlosser aan ‘n moeder beloof

Skriflesing: Genesis 3:1-24
Teksvers: Genesis 3:15

Van kleins af leer ken ons die woorde van Genesis 3:15 as die moederbelofte. Dit is die grootste en die eerste belofte aan die mens na die sondeval. 

Dit is tog vreemd dat die belofte nie aan Adam, die mens nie, maar sy vrou mannin gemaak word. Dit is ʼn belofte aan ‘n moeder, wat nog nie ‘n moeder is nie. ‘n Ewige belofte. Uit die nageslag van die vrou, sal die Verlosser kom wat die slang se kop vermorsel. 

Daarom hernoem die mens sy vrou. Mannin kry ‘n nuwe naam, Eva, met die oog op die belofte van lewe. Ons staan vandag stil by die fondament van God se verbondsgemeenskap met die oog op die nagmaal. 

Rig jou oë op die Here

Skriflesing: 2 Kronieke 20:1-30
Teksvers: 2 Kronieke 20:12
HK Sondag 45

Koning Josafat sit vasgevang in ‘n geweldige krisis. Daar is ‘n leermag oppad waarteen hy sy eie volk nie kan verdedig nie. En hulle is al baie naby. Engedi is nie verder as twee dae te voet van Jerusalem af nie. 

Wat sal jy doen as die oorlog op jou voorstoep dreig? Josafat bid. En hy laat roep ‘n vasdag uit. Hy soek sy hulp van die Here. Hy beroep hom op die beloftes van God. 

Ons staan vanaand stil by die aangrypende gebeurtenis waar God self ingryp en vir sy volk oorlog voer, omdat hulle bid. 

Dien die Here met blydskap, as gemeente saam!

Skriflesing: Psalm 100
Teksvers: Psalm 100:4-5

Juig, dien, blydskap, jubel, dankliedere, lofsange, prys sy Naam!
’n Dankpsalm. ’n Psalm by uitstek wat tot eer van God gesing word.

’n Psalm wat die verbond so pragtig bekragtig en verduidelik. ’n Psalm vir die gemeente by die aanvang van die nuwe jaar.

Ons gaan na drie sake kyk:

  • Juig tot eer van die Here.
  • Erken die Here.
  • Dien die Here as gemeente saam.
« Older posts Newer posts »