Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Ou Testament (Page 23 of 69)

Geloof maak sondaars diensbaar

Skriflesing: Ester 5:1-6:14
Teksverse: Ester 6:6-9

Nie alle gelowiges is diensbaar nie want nie almal wat sê dat hulle glo, se dade getuig daarvan nie. Of soos Jakobus waarsku: geloof sonder werke is dood. So was ook Mordegai en Ester “dood-gelukkig” in hulle eie gemak. Maar die edik van Haman het alles verander. Die oproep van Mordegai het Ester se hele wese geskud! Sy kan haar nie langer verbeel dat sy nie deur die dood geraak sal word nie. Daar is net een ding om te doen: om voor die koning te verskyn en te pleit vir die lewe van haar volk.

So gaan staan Ester voor die koning, met die bereidwilligheid om haar lewe op te offer. Hierdie daad gryp die hart van die koning aan. Hy sien die waagmoed en die waardigheid van sy koningin, en eer haar daarvoor. Hierdie daad het skynbaar ‘n verdere uitwerking op die koning, dat hy ‘n slapelose nag het, en deur die beskikking van die hand van God, word gevind dat Mordegai geen eer ontvang het vir sy aandeel om die sluipmoord op die koning te fnuik nie.

Ons staan vanoggend stil by hierdie radikale ommekeer en sien hoe geloof sondaars diensbaar maak in die koninkryk van God.

Moenie jou verlossing verbeel nie

Skrifgedeelte: Ester 4:1-17
Teksverse: 13 en 14

Wie nie wil luister nie, moet voel, so ken ons die bekende spreuk. Daar sit egter baie meer hieragter as net ongehoorsaamheid of geweld. In die hart van elke mens is daar bepaalde begeertes en ambisies. Soms wil ons nie ag gee op dinge wat ons toekoms in gedrang kan bring nie. God ontbloot egter alle vorme van voorgee. Hier in Ester 4 sien ons hoe God ingryp om onwillige en onsekere harte diensbaar te maak in sy koninkryk.

Die lot van ons lewe is in die hande van God

Skriflesing: Ester 3:1-15 (2020-vertaling)
Teksverse: Vers 8-9

Terwyl Haman en koning Ahasveros sit en drink, is die hele stad Susan in beroering oor die ingrypende wet wat pas afgekondig is regoor die koninkryk. Hier in die derde hoofstuk van Ester vind ons die eindelose stryd tussen kerk en wêreld, tussen geloof en ongeloof, tussen lig en duisternis.

Ons staan vanmôre stil by die gebeure waar Haman die doodsklokke laat lui vir die Joodse volk en hoe God deur beproewing die harte van sy kinders op Hom rig.

In die Sprokie van ʼn Weeskind bly God getrou 

Skriflesing: Ester 2:1-23
Teksvers: Ester 2:2-7

‘n Ware sprokiesverhaal: dit is wat hier in Ester 2 gebeur. ‘n Arme weeskind, wat haar pa en ma verloor het, en ‘n oorlogsgevangene is in ‘n vreemde land, wen die mej. Wêreld skoonheidskompetisie en trou met die koning. Dit klink te goed om waar te wees. Dit is sekerlik iets waarna elke meisie moet streef… Of dalk nie! 

Ons staan vanaand stil by die sprokie van ‘n weeskind waarin God steeds getrou bly. 

Wie is jou baas? 

Skriflesing: Ester 1:1-22
Teksvers: Ester 1:22

Die boek Ester handel oor die gebeure tydens die ballingskap van Juda en die wyse waarop die HERE sy volk bewaar deur die wegvoering. Hierdie boek is bekend daarvoor dat die Naam van die HERE nêrens vermeld word nie, en tog is dit die sentrale tema. Dit is ook hier, in die ballingskap waar die grootste uitdaging die volk in die gesig staar nl. die totale uitwissing van die oorblyfsel van Juda. Op merkwaardige wyse gebruik die HERE sy kinders in die beproewing van hulle geloof om te doen wat reg is. 

Ons gaan vir die volgende 4 weke saam deur die boek Ester wandel in die Sprokie van ‘n Weeskind 

Hemel op aarde

Skriflesing: Genesis 18:16-33
Teksvers: Genesis 18:17-19
HK Sondag 5

Die paradys is verlore, die tuin van Eden is vir die mens gesluit. Die enigste manier hoe die mens ooit weer in die hemel kan kom, is om te betaal. Maar die hemel se hek-fooie is duur. Dit is so duur, dat jy dit nie kan bekostig nie. Want die prys om in die hemel te kom, moet jy betaal met jou lewe. Nou sit die mens met ‘n geweldige groot krisis. Daar is ‘n manier om die verlore paradys terug te kry, maar die prys is onmoontlik.

Ons staan vanaand stil by Abraham se gebed vir Sodom en Gomora waarin hy pleit vir God se geregtigheid om te geskied. So sien ons hoe God weer die hemelse belofte op aarde herstel.

« Older posts Newer posts »