Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Ou Testament (Page 22 of 69)

Die maagdelike geboorte van Jesus Christus 

Skriflesing: Genesis 3; (1953) Luk 1:26-38; Matt 1:18-25; Galasiërs 3:15,16
Teksvers: Gen 3:15
HK: Sondag 14

Wat in HK Sondag 14 geleer en bely word is vir sekere mense onaanvaarbaar omdat dit alle wetenskaplike grense oorskry. 

Wanneer ons egter die werklike diepte van sondeval sou begryp, dan sal jy ook verstaan dat slegs ‘n bo-menslike en bo-natuurlike ingrype, soos ‘n maagdelike geboorte (asook ‘n opstanding uit die graf en dood), die mens en hele skepping van daardie sonde-vloek kan verlos. 

Ons lewe in Pottebakkershande 

Skriflesing: Jeremia 18:1-23 (2020)
Teksvers: Jeremia 18:6
HK: Sondag 9/10

Soos klei in die hande van die pottebakker, so is die kinders van die Here in sy hande. Hierdie troosvolle woorde laat ons tog ook diep nadink oor alles wat soms in ons lewe gebeur. Die reën en droogte, die goeie en die slegte. God is al die tyd besig om ons te vorm en te maak wat ons moet wees. 

Ons staan vanaand stil by die beeld uit Jeremia waardeur die Here ons ook prakties leer hoe ons in Sy vaderlike sorg moet leef en op Hom moet vertrou. 

Die Liturgie: Die Votum 

Skriflesing: Psalm 124 (2020); Romeine 8:31-34
Teksvers: Psalm 124:8 (2020)

Ons begin vandag met ‘n reeks preke oor die liturgie wat tydens eredienste in die gerefomeerde kerke gebruik word. Alhoewel die liturgiese orde sinodaal vasgestel word, is die bedoeling geensins dat dit elke Sondag identies hoef te wees nie. Die vryheid word aan die liturg oorgelaat en aanpassings in die orde mag selfs help dat alles nie net stereotiep (en dalk effe doods) raak nie.

Die erediens neem sy aanvang met die uitspreek van die VOTUM. ‘n Latynse word wat dui op ‘n verklaring aan die begin van die samekoms. Letterlik beteken die Latynse woordjie “votum” iets soos verklaring, begeerte, gebed of verlange. Met hierdie kort verklaring verlang ons die teenwoordigheid van die Here en konstitueer ons die heilige samekoms in sy Naam.

In die oordeel van God vind ons rus en vrede

Skriflesing: Ester 9:1 – 10:3
Teksverse: Ester 9:20-22

In die laaste hoofstukke van die boek Ester breek die oordeelsdag aan. Die 13de Desember is die dag van die Pur, die lot van Juda! Maar die HERE het die lot verander sodat die oordeel oor Juda ‘n oorwinning word. So word die geskiedenis van Ester vir ons ‘n vooruit wysing na die groot dag van die HERE, die Jom Jahwe, die oordeelsdag waarop elke mens voor die troon van God sal staan. Dit is juis in daardie oordeel van God wat ons rus en vrede vind.

In die krag van God lê ons sterkte en vreugde

Skriflesing: Ester 8:1-17
Teksverse: Ester 8:16 en 17

Die spanningsvolle opbou van Ester wat haar lewe waag voor die koning en telkens haar versoek laat uitstel, word ontknoop met ontsaglike verligting as Haman die oordeel ontvang wat hy vir Mordegai beplan het. So verander die HERE self die lot (pur). En tog kry Ester nie waarvoor sy vra nie. Sy het gepleit dat haar lewe aan haar geskenk word, maar die wet van die Meders en Perse is onveranderlik.

Hier in Ester 8 sien ons hoe God die kommernis en oordeel verander in oorwinning en vreugde.

Jou lewe is ‘n geskenk van God

Skriflesing: Ester 7:1-8:2
Teksverse: Ester 7:3-4

“Laat my lewe my geskenk wees” so versoek Ester die koning. Dit is tog ‘n vreemde versoek. Hoe kan die koning aan Ester lewe gee? Hy is tog nie God nie! Maar hy kan wel lewe neem. Ester pleit dat haar lewe gespaar word as sy genade gevind het in die oë van die koning. So word sondaars diensbaar in die koninkryk van God deur hulle geloof in dade om te skakel.

Ons moet egter besef dat God se verbond twee kante het. Die belofte en seën vir hulle wat in die geloof volhard. Maar die vervloeking en wraak teenoor almal wat sy beloftes verontagsaam en misbruik. Ons staan vanaand stil by hierdie seën en vloek van God se verbond met die tema: jou lewe is ‘n geskenk van God.

« Older posts Newer posts »