Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Ou Testament (Page 21 of 69)

God se boodskap van volmaakte hoop, in ’n stukkende wêreld 

Skriflesing: 1 Kon 19; Jak 5:16b-18; Rom 11:2 (1983)
Teksvers: 1 Kon 19:18

Ons leef in ’n stukkende, gebroke wêreld. Om ons sien ons en hoor ons van korrupsie, moord, diefstal, oorloë, aardbewings ens. Die wêreld is stukkend. Dit raak ook ons gemoedere. Dikwels is ons moedeloos en selfs troosteloos. Daar is iets van ’n hopeloosheid. Elia het na Isebel se dreigemente gevlug en in die woestyn gaan wegkruip en dit nadat God op wonderbaarlike wyse Homself en sy Almag aan Elia en die volk openbaar het. Maar dan ontvang Elia God se boodskap van volmaakte hoop, in ’n stukkende wêreld. Ons gaan na drie sake kyk: 

• Die vyand se boodskap van gevaar. 

• Die engel se boodskap van genade. 

• God se boodskap van hoop. 

God bly getrou, al straf Hy kwynende entoesiasme 

Skriflesing: Rigters 1:1-2:5 (2020)
Teksvers: Rigters 2:1-5

In Rigters 1 en 2 is die Israeliete veronderstel om ‘n groot hoogtepunt te beleef na die uittog uit Egipte en die deurtog deur die woestyn. Hulle begin, in opdrag aan die Here en met sy seën, om die beloofde land in te neem. Maar helaas, die aanvanklike entoesiasme het spoedig begin kwyn. So het een na die ander stamme dinge gedoen wat die volle oorname van die land net ‘n droom gemaak het wat nie gerealiseer het nie. 

As gevolg van die Israeliete se kwynende toewyding aan die Here se opdrag om die land skoon te maak van al die heidene, het die inwoners vir Israel ‘n lewenslange remskoen geword. 

Kom hoor hoe die HERE ten spyte van Israel se onverskilligheid en die straf daarop, steeds getrou bly aan sy verbondsbeloftes. 

Vorm en inhoud

Skriflesing: Genesis 49 (1953); Jesaja 8: 23
Teksvers: Genesis 49: 21

Ons staan stil by die seënspreuk van Jakob oor sy twaalf seuns. Jakob is hier op sy sterfbed en spreek profeties die seën uit oor wat met die nageslag gaan gebeur. Op hierdie stadium het Jakob immers homself reeds bekeer van sy jeugdige sondes en kan hy nou ten volle gehoorsaam aan die Here net uitspreek wat God wil. 

Daar is egter die groot hartseer dat sy seënspreuke ook straf uitdeel en ernstige waarskuwings gee. Wie daarna luister sal egter ook by die evangelie van genade sal uitkom. 

Geen wonder dat Jakob in die middel van sy spreuke bid: 

Op u verlossing wag ek, HERE! (vers 18) 

Die liturgie: Geseënd oppad! 

Skriflesing: Ps 134 (1983); I Kron 9:33 en 23:30; Num 6:22-27
Teksvers: Psalm 134

Ons sluit vandag die reeksprediking oor die Liturgie van ons Eredienste af met die die laaste moment voordat ons weer oppad is huistoe: Ons gaan geseënd hiervandaan. 

Reeds vroeg in die die Bybel lees ons dat die Here die opdrag aan Aäron gee om as priester die volk namens God self te seën (Num 6:22-27). Die geroepe en bevestigde dienaars van die Here het dus die groot voorreg en verantwoordelikheid om dit gereeld te doen. So stuur die liturgie ons elke Sondag weg onder die seënende hand van die Here. 

Dit is dus nodig dat u weer die praktyk om op hierdie stadium van die liturgie u oë biddend te sluit sal heroorweeg. Die priester-leraar staan voor u met sy hande omhoog en spreek die seën oor u uit in die Naam van die Almagtige en Drie-Enige God van die hemel en aarde. Dit is nie ‘n gebed nie. U is dus veronderstel om aan hierdie simboliese handeling deel te neem deur op te kyk en die seën te ontvang. (Hier is geen voorskrif nie, maar miskien moet u hierdie wonderlike oomblik van ons liturgie net weer ernstig oordink ). 

Die liturgie: Die opneem van ons liefdesgawes 

Skriflesing: II Samuel 9 lees ook II Sam 4 en 5 (1983)
Teksvers: II Sam 9 vers 13

Ons kom immers nie na die Nagmaal omdat ons onsself sondeloos of volmaak ag nie, maar omdat ons, ons saligheid buite onsself in Christus soek. Daarom kan ons seker wees dat God ons in genade aanneem en waardig maak om deel te hê aan die hemelse spys en drank… so lees (vir my) die mooiste sin in die Nagmaalsformulier! 

So moes die arme Mefiboset ook maar gevoel het toe hy met vrees en bewing na die paleis van koning Dawid gegaan het en tot sy verbasing aan die koning se tafel kon aansit… elke dag! En dit nogal dieselfde Dawid wat nie juis ooghare gehad het vir die kreupeles nie (I Sam 5:6-8). So bewys God se genade aan sy kinders en dit teen alle verwagting in! 

Jesus drink die oordeelsbeker uit die hand van sy Vader 

Skriflesing: Psalm 75:1-11; Matteus 27:32-52 (2020)
Teksvers: Psalm 75:9
HK: Sondag 15-16

Die lyding van ons Here Jesus Christus is iets wat baie moeilik in woorde beskryf kan word. Tog is sy hele lewe een groot lyding. Van sy menswording en deur sy aardse omwandeling tot aan die kruis.

Hierdie lyding word ook in die Skrif aan ons verduidelik by wyse van ‘n beeld. Die beker van God se oordeel.

Ons gaan vanaand stilstaan by Psalm 75 waar die oordeelsbeker van God beskryf word met die oog op Christus se lyding.

« Older posts Newer posts »