Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Ou Testament (Page 14 of 66)

Ware INTEGRITEIT van die nuwe mens in Christus

Skriflesing: Genesis 39
Teks: Genesis 39:8-12

Skets: Laasweek het ons gesien dat Saul nie ‘n ware diepe hartsvernuwing ondergaan het en by God en sy Woord getrou gebly het nie. Vandag kyk ons na ‘n meer positiewe figuur wat deur die moeilikste teenslae en versoekings aan God getrou bly en dan geseën word.

In die lig van die jongste kerkraadsbesluit dat ons die huwelik as van God moet eer en nie daarmee woer-woer speel asof ons die reëls of beginsels bepaal nie, kom ons by Josef se integriteit daar in die vreemde, in die buiteland, Egipte. Daar waar niemand rêrig weet of sien nie, daar behou hy sy beginsels en eer hy God met ware integriteit en vaste norme en beginsels, gebou op die Woord van God wat in hom leef.

Gereed en bereid tot verandering?

Skriflesing: 1 Samuel 10
Teksverse: 1 Samuel 10:6

In die konteks van vanjaar se tema “Die nuwe lewe in Christus” sal ons ‘n oomblik kyk na die veranderde Saul soos God hom voorberei het vir die koningskap in Israel. Kyk na die betekenis van die drie tekens wat sy roeping en salwing deur die Gees vergesél het.
Miskien moet ons gewoond raak aan die veranderinge wat God in ons lewens wil bewerkstellig, sodat ons meer en meer die veranderde mens kan word wat Hy ons bedoel het om te wees.
Is jy gereed om te verander en is jy bereid om die roeping te aanvaar om die ware Christen te wees wat God vir jou en my in gedagte het. Hou aan bid vir die kragtige ingryping van die Heilige Gees om ‘n ander persoon te word in die werklike sin wat God wil.

Is ek ‘n see of ‘n walvis?

Skriflesing: Job 7:1-21 (2020) 
Teksvers: Job 7:12 

Ons almal is goed bekend met die persoon van Job. Die man wat alles verloor het omdat hy die Here getrou gedien het. 

Ons onthou ook vir Job as die persoon wat so swaar gely het en tog getrou gebly het en nooit God gevloek het nie. 

Vanoggend wil ons stilstaan by ‘n besondere vreemde vraag wat Job aan God vra: 

Is ek ‘n see of ‘n walvis? 

Vrede van God wanneer jy, gestroop vanjou steunpilare, weerloos is

Skriflesing: Psalm 3 (2020)
Teksvers: Psalm 3: 4

Weerloos, gestroop van jou steunpilare

Ons besef nie altyd hoe wankelrig die pilare is waarop ons in hierdie lewe steun nie.

Dawid het hierdie intuimeling van sy steunpilare intens beleef. Sy eie seun het die harte van mense gewen en ‘n opstand teen Dawid gelei. Dawid moes uit die stad vlug.

Om gestroop en weerloos steeds te sien

As gelowige sien ek:

  • die Here as my skild
  • die Here as my heerlikheid
  • die Here as die Een wat my hoof optel!

DIE SESDE GEBOD:LIEFDELOOSHEID IS MOORD

Skriflesing: Genesis 4; Heb 12:24; Ef 4:26
Teksvers: Genesis 4:6-9
HK: Sondag 40

Die geweld van moord en doodslag het deel van ons alledaagse lewe geword. Padwoede en motorkapings, plaasmoorde en gesinsgeweld, dreigemente en wraakgedagtes, gewapende roof en nog veel meer is so alledaags dat ons byna gewoond geraak het daaraan. Maar dit is alles tekens dat die een die ander nie meer die lewe gun nie. Dit lei maklik ook tot ‘n selfsugtige soeke na eie bestaan selfs al is dit ten koste van die ander.

Die sesde gebod roep na nuwe harte, wat aangevuur word deur die liefde van Christus wat sy lewe opoffer vir ons as sondaars. Want die liefde verdra en glo en hoop. Dit is die liefde wat deur die geloof tot dade oorgaan!
Waar is jou broer? Waar is jou suster? Is jy ook jou broer se wagter?

Die gebooie is verbondseise

Skriflesing: Eksodus 20:1-17 (1983) 
Teksvers: Eksodus 20:3 
HK: Sondag 34 

God het hierdie een hoofdeel van die Bybel, die Tien Gebooie, met sy eie vinger geskryf. Daarin kan ons sien dat Hy, God, ag die gebooie as baie belangrik vir jou en elke ander mens se lewe op aarde. Vir Hom is dit belangrik dat jy goed sal verstaan wat die Tien Gebooie is en met watter gesindheid jy hulle moet gehoorsaam. 

As die regte gesindheid ontbreek, kan dit of daartoe lei dat jy die gebooie van God minag, omdat jy nie God se stem daarin hoor nie, of dat jy die gebooie van God – jou afgod maak. Jou vertroue is dan nie meer op God gestel nie, maar op jou eie onderhouding van die gebooie soos jy dit graag wil interpreteer. 

Juis die inleidende woorde van die wet: “Ek is die Here, jou God, wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny verlos het”, verduidelik juis met watter gesindheid jy hierdie gebooie moet onderhou. 

« Older posts Newer posts »