Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Nuwe Testament (Page 43 of 129)

Oordenking vir 20 Maart

Jesus Christus is ons Herder en Bewaker wat ons lei om God se wil te doen!

Maandag 20 Maart 2023
Lees: 1 Petr 2:25: Joh 10; Luk 15:1-7; Heb 13:20-21
25 “Julle het immers soos skape rondgedwaal, maar nou het julle teruggekom na julle Herder en die
Bewaker van julle lewe.”

Heb 13:20 “God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring.
Heb 13:21 Mag dié God julle toerus met alles wat goed is, sodat julle sy wil kan doen.
Mag Hy deur Jesus Christus in ons tot stand bring wat vir Hom aanneemlik is.
Aan Hom behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

In die Ou Testament is skape geslag vir die herder en in die Nuwe Testament is die Herder op Golgota geslag vir die skape.

Die beeld van die herder met sy skape word tale kere in die Bybel gebruik.
• Josef se broers het skape opgepas.
• Moses was ‘n skaapherder van sy skoonpa Jetro. Ex 3:1
• Dawid was ‘n skaapherder. Psalm 23
• Amos was ‘n skaapboer uit Tekoa. Amos 1:1

Daarom word hierdie beeld van skape en herders dikwels in die Bybel gebruik om aan ons te leer…
• Hoekom Jesus Christus ons Herder is.
• Hoekom ons sy skape is.
• Wat die doel van ons skaapwees is.

Hoekom Jesus Christus ons Herder is, is omdat skape sonder ‘n herder, ronddwaal en verdwaal.
Sonder ‘n herder is skape rigtingloos en doelloos en loop agter weiding en water aan, sonder om daarna te weet waar hulle kraal is. In Luk 15:1-6 vertel Jesus juis die gelykenis van die verlore skaap. Elke skaap is vir die herder belangrik. Hy tel hulle gereeld. En dan as een weg is, los hy die ander nege en negentig en gaan soek die verlore skaap. Die vergelyking is juis dat as een van Jesus Christus se skape weg is, gaan Hy hom soek en bring hom terug en dan is daar blydskap in die hemel, omdat die verlore skaap gekry is. Elkeen van ons is van lewensbelang vir God. Ja, God het elkeen van ons, sy kinders so lief dat Hy Jesus Christus, sy eie Seun gestuur het om ons wat verlore is te kom loskoop. Heb 13:20 “God wat vrede gee, het ons Here Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die groot Herder van sy kudde is, uit die dood teruggebring.”

Hoekom ons God se skape is, is omdat God ons gekoop het met die bloed van sy eie Seun. God het ons immers uitgekies nog lank voor ons geboorte. God het sy kudde uitgekies. Soos skape het ons rondgedwaal en weens ons sonde en ellende sou ons verdwaal het, weg van God af. Maar toe het God sy eie Seun, Jesus Christus gestuur as die groot Herder, wat ons nie net gekoop het met sy eie bloed en liggaam nie, maar wat ons ook lei en dra en versorg. Jes_40:11 “Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie.”
Wat die doel van skaapwees is! Geliefdes ons is nie skape om op ons eie te leef net tot ons eie geluk en voordeel nie. Nee ons is skape wat moet lewe tot eer van God, volgens sy wil. Ons lees in 1 Petr 2:24b dat ons moet lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Die Heilige Gees is ook uitgestort om in ons te woon, ons te lei hier op aarde, sodat ons, nadat ons wedergebore is, deur die Gees gelei kan lewe tot eer van God. Jesus Christus is egter ook die Opper-Herder wat oor ons waak en elke dag by ons is en in ons woon. Hy is die Bewaker van ons lewens, Deur in Sy voetspore te volg en Hom te dien en eer, is daar vir ons die heerlike blydskap en vreugde dat Hy ons sal lei na groen weivelde , na waters waar daar rus is, na die ewige lewe by ons Hemelse Vader.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking vir 16 Maart

Volg in Jesus se voetspore, al beteken dit lyding!

Donderdag 16 Maart 2023
Lees: 1 Petr 2:18-25
20 “As julle gestraf word wanneer julle oortree het, watter verdienste is daarin as julle dit verdra? Maar om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God.
21 Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ‘n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg.
22 “Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit ‘n leuen gekom nie.”
23 Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel.
24 Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees.”

Alles wat Jesus Christus op aarde gedoen het, is die perfekte voorbeeld vir ons om na te volg!

Soos wat ‘n klein kindjie op die sand of stofpad dikwels in sy pa se voetspore probeer trap, moet ons altyd probeer om in Jesus se voetspore te trap!
Ons moet in sy voetspore volg!
Want alles wat Jesus op aarde gedoen het, was goed en reg en moet ons navolg.
In besonder moet ons navolg wat Jesus gedoen het ten opsigte van swaarkry en lyding.

Dit klink vir ons nie reg nie. Hoekom moet ons Jesus navolg ook in sy lyding?

Daar is tog ‘n algemene gedagte wat mense wil glo en dit is dat as jy in gehoorsaamheid aan God lewe sal jy nie swaarkry of lyding ervaar nie. Is God dan nie die God wat net goed is nie? Is God dan nie die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is nie, soos wat ons bely in die Nederlandse Geloofsbelydenis art. 1 nie?

Jesus Christus was sonder sonde. Hy het NOOIT enige sonde gedoen nie. Uit sy mond het daar NOOIT ‘n leuen gekom nie. En dan lees ons dat Jesus ter wille van ons beledig is, gely het, gedreig is met die dood en dat Hy aan die kruis vir ons sondes betaal het met sy liggaam en bloed. Hy was totaal en al onskuldig, maar is skuldig verklaar.

Jesus het nie gesterf, omdat Hy ooit iets verkeerds gedoen het nie, maar omdat Hy reg gedoen het. Dit is wat ons moet navolg, ons moet altyd reg te lewe, volgens die Woord van God, uit dankbaarheid en gehoorsaamheid.

En dan die swaarste vir ‘n christen, wanneer iemand iets verkeerd teen jou doen of as jy moet opstaan vir wat reg is volgens die Woord van God, dan moet ons in Jesus Christus se voetspore volg. Al word ons beledig en kry swaar of word selfs in die tronk gegooi, omdat ons in Jesus se voetspore volg, moet ons nie terugdeins nie.

Geliefdes ons moet nie deelneem aan die sondige wêreldse praktyke nie!
• As iemand jou vloek moet nie terugvloek nie.
• As iemand jou vra vir omkoopgeld, moet dit nie doen nie.
• As iemand jou beledig omdat jy getuig van wat die Bybel sê, moet nie terugdeins nie.
Jesus Christus se onderdanigheid aan die owerheid toe Hy onskuldig veroordeel is, was nie ‘n teken van swakheid of onmag nie, inteendeel, ons lees met sy gevangeneming het Jesus die volgende gesê: Mat 26:53 “Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie?
Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel.”

Ons word nie verlos en gered omdat ons in Jesus se voetspore volg en doen wat Hy vra nie, nee, ons word verlos omdat ons glo in wat Jesus Christus vir ons gedoen het aan die kruis en met sy versoeningswerk.

Kom ons volg ons Herder en die Bewaker van ons lewens deur in gehoorsaamheid in Sy voetspore te volg!
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Die Doksologie! Die Lofverheffing! Die Amen van die gebed!

Skriflesing: Open 5:1-14; Mat 6:9-13
Teksvers: Open 5:9,10,13,14
HK Sondag 52

Satan versoek die mens maar God beproef die mens 

Wanneer laas het jy gesê: “Wyk Satan, wyk!” Satan die wêreld en ons eie vlees val ons elke dag aan. Waarmee God ons beproef, om ons geloof te louter en te versterk, gebruik Satan om ons te versoek. Deut 13:1-3. God versoek nie die mens om hom tot sonde te beweeg nie, maar God laat ons soms in versoeking kom, 

Die Lof aan God die Vader en die Seun as die Lam van God kan nooit genoeg wees nie. Die kring van engele wat rondom die vier en twintig ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan het, was duisende der duisende, miljoene der miljoene. So geweldig is die lof, wat aan God, die Lam gebring word. En met hierdie selfde lofverheffing sluit ook die gebed af wat ons Here Jesus Christus ons geleer het om te bid. Hier het ons die gebedsgrond en gebeds-vertroue waarmee ons die Onse Vader mee afsluit. 

‘n Nuwe verbond met ‘n lieflike uitsig!

Skriflesing: I Kor 11:23‑29; Markus 14:22-25; Matt 26:17‑19,26‑30; Jeremia 31:31
Teksvers: Markus14:24-25 (Matt 26:29)

Ons het nou al vir weke aaneen gepreek oor God wat met sy volk ‘n reeks verbonde sluit om gemeenskap met ons te beoefen. Die besondere daarvan is dat die heilige God met sondaars ‘n verhouding soek en onderhou en aan hulle groot beloftes maak. Aan Adam en Noag en Abraham… by Sinaï en aan Dawid en Jeremia maak die HERE groot beloftes, maar stel ook sy verbondseise waaraan sy kinders gehoorsaam moet wees. Hierdie beloftes word in die koms en lyde en sterwe van Christus vervul. Beloftes van verlossing en vergifnis. 

As Jesus dan die Nagmaal instel as ‘n NUWE VERBOND is dit vervulling van al daardie verbonde, maar ook weer nuwe beloftes en nuwe hoop, en nuwe gehoorsaamheid. 

Oordenking 9 Maart

Die volmaakte bouplanne vir die volmaakte huis.

Donderdag 9 Maart 2023
Lees: 1 Petr 2:2-2:10 ‘83 “4 Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is. 5 Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. 6 Daarom staan daar in die Skrif: “Kyk, Ek lê in Sion ‘n hoekklip, uitverkies vir die ereplek. Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.”

Ek het gelees van ‘n groot boukontrakteur wat ‘n dubbelverdieping huis gebou het. Hy het ‘n subkontrakteur gekry wat die steenwerk moes doen. Die eienaar van die huis het die bouplanne ‘n paar keer gewysig. Toe hulle die eerste verdieping klaar gebou het, het alles goed verloop, maar met die tweede verdieping wou niks werk nie. Na ‘n lang ruk het hulle agtergekom hulle het twee verskillende stelle bouplanne. Toe hulle die oue weggegooi het, het die bouwerk sonder probleme verder gevorder.

So is dit dikwels met die kerk van die Here. Die bouplan vir die kerk is die Woord. Daarom moet die Woord noukeurig bestudeer word en ons moet daarvolgens die geestelike bouwerk van die kerk doen.

Hoekom is daar dan soveel verskillende kerke, denominasies? Dit is sekerlik omdat alle christene nie die “Bouplan” dit is die Woord biddend, in afhanklikheid, in gehoorsaamheid, in totale onderworpenheid aan die Woord lees nie. Daar is net een Verlosser Jesus Christus en daar is net een geestelike gebou en dit is die ware kerk.

“Wat was ‘n sluitsteen in ou geboue, en wat ‘n hoeksteen? Wanneer ‘n boog gebou is, soos by ‘n poort of selfs ‘n brug, was daar ‘n wigvormige steen in die middel wat skuins na beide kante
toe gekap was. Dit voeg dan die twee dele van die boog van weerskante saam tot ‘n eenheid. Hierdie steen as sentrale fokuspunt van die boog, was dikwels versier. Sonder hierdie steen
tuimel die twee dele van die boog ineen. Paulus en Petrus sê dat Jesus hierdie SLUITSTEEN is.” (https://bybelverskille.wordpress.com/2019/02/26/155hoeksteen/)

“Maar wat was dan ‘n “hoeksteen”? Dit was ‘n groot, perfek gekapte steen wat as deel van die fondasie van die gebou heel eerste op die hoek in presiese plek geplaas is. Al die afmetings en rigting van die mure van die gebou is dan van hierdie hoeksteen geneem sodat die hele gebou haaks en perfek gebou kon word.” (https://bybelverskille.wordpress.com/2019/02/26/155hoeksteen/)

In Ef 2:20 lees ons “Julle is ‘n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ‘n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is.”

Jesus Christus is beide die Hoeksteen en die Sluitsteen. As ons vanaf Jesus Christus werk as die Verlosser en die Hoof van die Kerk, as ons die Woord volg as die volmaakte bouplanne van die kerk, as ons die bouwerk biddend onder leiding van die Heilige Gees doen, as ons alles doen tot eer van God die Vader, dan sal die kerk waarlik die lewende geestelike gebou wees wat Jesus Christus self van gesê het in Mat 16:18 dat die poorte van die doderyk sal die kerk nie oorweldig nie.

Geliefdes maar ons moet ons volgens 1 Petr 1:5 die volgende laat welgeval: “Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.”
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

« Older posts Newer posts »