Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Nuwe Testament (Page 44 of 129)

Oordenking 6 Maart

Alle christene is een familie

Maandag 6 Maart 2023
Lees: 1 Petr 1: 22-2:3 ‘83 “22 Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê. 23 Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.”

Die voorreg van ‘n familie. Dit is ‘n baie groot voorreg om in ‘n familie gebore te word waar daar liefde en respek en omgee vir mekaar is. Om ‘n pa en ma te hê met broers en susters wat vir mekaar omgee is ‘n genade van God. Om deel van so ‘n familie te wees waar julle mekaar werklik liefhet vul jou met groot dankbaarheid en blydskap.
Hoe word jy deel van so ‘n gesin of familie.
Eerstens deur ‘n pa en ‘n ma uit wie jy gebore word.
Tweedens as jy ‘n wettig aangenome kind van so ‘n familie is.

Elke ware christen is deel van so ‘n besondere familie. Ons almal wat werklik in Jesus Christus glo en Hom liefhet en dien, is deel van die gesin van God. Ons is deel van die geeste-like familie. Ons is broers en susters deur ons Here Jesus Christus. God is ons Hemelse Vader.
Hoe word jy deel van die geestelike gesin van God?
Eestens en laastens deur die wedergeboorte.
Hierdie wedergeboorte word duidelik aan ons beskryf in Joh 3:1-16.
Jy word deur die Heilige Gees wedergebore om te kan glo in ons Here Jesus Christus as ons Verlosser en ons Koning. Soos daar twee ouers nodig is om fisies gebore te kan word, is daar by die wedergeboorte die Heilige Gees en die Woord.
1 Pet 1:23 “Julle is immers weergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.”

Ons eerste geboorte was ‘n geboorte van die natuurlike liggaam. ‘n Natuurlike liggaam verouder en sterf af. Soos ‘n pragtige blom net ‘n tyd lank bestaan is dit ook met ‘n mens die geval. Jy blom vir ‘n tyd en dan word jy ook oud. Orals in die Bybel, vanaf die toringbou van Babel in Gen 11 tot met die groot Babilon in Open 17-18 het die mens se pogings tot ewige heerlikheid gevaal.

Ons tweede geboorte was ‘n geestelike geboorte, die wedergeboorte deur die Heilige Gees.
As ons eenheid in die kerk wil bou ons fisiese en natuurlike sake en middelle, sal dit faal.
As ons eenheid in die kerk egter bou op die eenheid van ons wedergeboorte, sal dit groei.

Elke ware gelowige het dieselfde Heilige Gees wat in hom/haar woon en werk. Rom 8:9
“Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle.”
• Alle christene het net een Vader. 1 Petr 1:17
• Daarom is ons een groot Geestelike Familie.
• Daarom moet ons mekaar as broers en susters, ongeveins lief hê, vurig liefhê.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Vergifnis vra en vergifnis gee!

Skriflesing: Lukas 7:47; Psalm 51 
Teksvers: Lukas 7:47 
HK Sondag 51 

Die VYFDE BEDE is die onmisbare verootmoediging wat God ons in sy teenwoordigheid leer. Die Kategismus het immers drie dele, waarvan die eerste en kortste deel (Son 2-5) handel oor ons kennis van ons eie sonde en ellendigheid. 

Voordat jy nie eerlik by jou eie sonde gaan staan en met ‘n gebroke hart voor God belydenis doen nie, sal die nood-saak en erns van vergifnis en verlossing in Christus ook nie by ons posvat nie. Omgekeerd is dit egter wel waar en troosvol en lei dit tot groter liefde teenoor God en veral ook teenoor ons naaste, ja soveel dat ons werklik meer en meer probeer om te vergewe soos God vergewe. 

Die Laaste Adam is Lewe

Skriflesing: 1 Korintiërs 15:1-58 
Teksvers: 1 Korintiërs 15:45 

In die Moederbelofte het ons gehoor van die ewige vyandskap tussen die nageslag van Eva en die satan. Daardie profesie getuig van lewe na die dood. Dit is die hoop van die belofte soos vermeld in Handelinge 24:15 et al. Uit die natuurverbond het ons die behoud van Noag gesien, hoe die Here rus gee aan die natuur vanweë die sonde van die mens en die heerlike teken van die reënboog. By Abraham het die Here sy genade bevestig, en Abraham vrygespreek op grond van sy geloof. Hy het ook die teken ontvang deur bloed in die nageslag, sowel as ‘n land om in te woon. 

Hierdie beloftes is herbevestig by Isak, Jakob en Moses. Die wet dien as grondwet van die koninkryk en getuig van God se verlossing en gemeenskap. Dit word bevestig deur Josua en later ook Dawid. Vanoggend wil ons graag stilstaan by die gewaarwording van hierdie ewige genadeverbond waaraan ons en ons kinders deel kry in Christus, die laaste Adam. 

Oordenking 3 Maart

Losgekoop met die bloed van Christus

Vrydag 3 Maart 2023
Lees: 1 Petr 1: 18-19 ‘83 “Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. 19 Inteendeel, julle is logeskoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.”

Losgekoop is vir ons as christene vandag ‘n verstaanbare, teologiese term. Ons is losgekoop met die bloed van Jesus Christus van ons sondes. Jesus Christus het vir ons sondes betaal met sy bloed. Maar ons sal die begrip nog beter verstaan as ons dit lees in die konteks van die tyd waarin Jesus Christus geleef het, dit is in die eerste eeu na Christus. In Jesus Christus se tyd was daar baie slawe. ‘n Slaaf het ten volle aan sy eienaar behoort en ‘n eienaar van ‘n slaaf kon met die slaaf doen net wat hy wil. Hulle kon die slawe gebruik en misbruik soos wat hulle wou.

Hoe kon’n slaaf weer ‘n vryman of vrou word? Daar was twee maniere:
Eerstens Hy kon geld bymekaar maak en ‘n losprys betaal, of
Tweedens, iemand anders moes die geld vir hom betaal.
As ons nou dink, daar was na berekening, ongeveer 60 miljoen slawe in die Romeinse ryk.

Die Israeliete het goed geweet wat slawerny was. In Egipte was hulle slawe wat hande-arbied moes verrig. God het hulle egter bevry deurdat Moses hulle uit Egipte gelei het. Daarna was hulle weer slawe toe hulle weggevoer is na Babilonië toe, maar God het hulle weer daar bevry deurdat Koning Kores van Persië hulle teruggestuur het na Israel. (2 Kron 36:23) Nou is Israel weer slawe maar onder die Romeine, dit is ook in die tyd wat Jesus gebore is en geleef het.

Ons was ook slawe van die sonde, MAAR ons is losgekoop van ons sondige bestaan.
Tit 3:3-7 “3Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat. 4 Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. 5 Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. 6 God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser. 7 So is ons dan deur sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag.”

Verlossing of losgekoop beteken dus om vry te word deur die betaling van ‘n bedrag of prys.

  • Vir ons as sondaars wat slawe van die sonde was is daar betaal met die bloed van Jesus Christus, een maal vir altyd.
  • Ons is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekkeloos en sonder liggaamsgebrek is.
  • Geliefde, jy wat luister en hierdie boodskap lees.
    • Glo dit wat die Bybel verkondig.
    • Leef uit dankbaarheid in afhanklikheid van God.
    • En jy sal die ewige vreugde van God in en deur Jesus Christus ervaar.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 27 Februarie

Watter rol speel die Bybel in jou lewe?

Maandag 27 Februarie 2023
Lees: 1 Petr 1: 16 ‘83 “Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.”
’20 “Daarom staan daar geskryf: “Wees heilig, want Ek is heilig.”

 Watter rol speel die Bybel in jou lewe?
 Hoe belangrik is dit vir jou om die Bybel elke dag te lees?

Die Woorde: “Daar staan geskrywe…” dra baie groot gesag. Dit beteken daar is vir die gelowige ‘n baie groot opdrag en troos in hierdie woorde.

Die Woord was vir ons Here Jesus Christus van so groot belang, dat hy die Satan daarmee tereggewys het, met sy versoeking in die woestyn, lees ons in Mat 4. Telkemale as die Satan Jesus probeer versoek het met ‘n verleiding van kos vir sy honger, om sy Vader te versoek en om aan Hom rykdom te gee, het Jesus hom geantwoord met wat daar in die Bybel staan.

Die Bybel is daar vir ons as ‘n verdediging teen die aanslae van die wêreld.
Ef 6:17 “Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God.”
Maar…
Die Bybel is nie net daar vir selfvedediging in die wêreld nie, maar die Bybel is ook vir ons ‘n gids om ons in hierdie donker sondige wêreld te lei…

Ps 119:105 “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.”
2 Petr 1:19 “En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig. Hierdie
boodskap is soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte.”

Die Bybel is ook jou geestelike kos vir elke dag.
Dit is trouens wat ons Here Jesus Christus self gesê het.
Mat 4:4 “’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.”
1 Petr 2:2 “Soos pasgebore kindetjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike
melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry.”

Die Bybel reinig, was ons ook skoon, elke dag.
Nou ons weet dat ons skoongewas word deur die bloed van ons Here Jesus Christus van ons ons sondes, maar die Woord wat elke dag gelees word, reinig ons ook deurdat ons daardeur leer hoe ons moet lewe. Dit is die geopenbaarde wil van God. Dit is wat God ons leer hoedat Hy wil hê dat ons moet lewe.
Ef 5:26,27 “ 26 Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, 27 sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik.”
• Kom ons gee die Bybel opnuut prioriteit in ons lewens, deur die Bybel elke dag te lees en te bestudeer.
• Kom ons leef volgens alles wat God in die Woord aan ons leer.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

God praat met ons deur sy Woord

Skriflesing: Hebreërs 1:1-14
Teksvers: Hebreërs 1:1-3

  • Ons moet steeds luister na God wat met ons praat.
  • In die ou bedeling het Hy oor eeue heen met sy kinders gepraat, deur sy dade en sy woorde.
  • Met Jesus se koms het God Hom op ʼn besondere manier deur sy Seun geopenbaar.
  • Die kern van die boodskap bly steeds die geboorte, lewe, dood en opstanding van God se Seun.
  • Hiervan getuig God se Woord en daarvolgens moet ons leef.
« Older posts Newer posts »