Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 18 of 52)

Die Gereformeerde Kerk is Katoliek 

Die kerk glo AAN kerk-wees. Ons glo nie IN die kerk, met die bedoeling dat die kerk ons kan red nie. Ons glo aan die kerk. Ons glo daar moet kerk wees. Want die kerk is die gelowiges wat almal in Christus glo. Ons bely hieroor onder meer in die Apostoliese Geloofsbelydenis dat “ons glo aan ’n heilige, algemene en Christelike kerk”. In die Belydenis van Nicea bely ons “een, heilige, algemene en apostoliese kerk.” 

Die woordjie wat vir “algemeen” gebruik word is die woordjie “katoliek”. Die Latynse beskrywing is De Ecclesia Catholica. Dit is die algemene kerk. Met algemeen, of dan katoliek, word nie die Rooms Katolieke kerk bedoel nie, maar eerder die kerk wat oral op alle plekke voorkom. Dit is eers later, rondom die 5de en 6de eeu na Christus wat die kerk in Rome, haarself as die primus inter pares, die eerste onder die gelykes verklaar het. Gevolglik het die kerk in Rome aangedring om die algemene kerk vanuit Rome te regeer deur die pous. 

Die Heidelbergse Kategismus in Sondag 21 verklaar egter: “Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ‘n gemeente, wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur sy Gees en Woord, in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe, vergader, beskerm en onderhou, en dat ek daarvan ‘n lewende lid is en ewig sal bly” 

Dit is dus nie die kerk in Rome wat regeer nie, maar Christus, ons Here, die Seun van die Lewende God. Die kerk behoort aan Hom. Nie die kerkgebou nie, maar die mense. Die mense is die kerk. En die kerk is almal wat deur die eeue, oral op alle plekke op die aarde deur geloof leef. Dit is die ware kerk. Nie die mense wat hulleself onregmatig die naam kerk toe-eien nie, maar hulle wat in geloof en daad bewys. 

Ons gaan hierdie kwartaal die jaar tema afsluit oor wat ons bely van die kerk. Mag u lewe ook daarvan getuig, nie net dat u in die kerk is nie, maar dat u self die kerk is. Dat u aan Christus behoort en Hom bely saam met alle ander gelowiges reg oor die wêreld en deur alle eeue. Immers, buite die kerk is daar geen saligheid nie. 

Lourens (vdm) 

Wedergeboorte 

’n Voorsmaak van die wederkoms! 

Hoe weet jy dat jy die ewige lewe het? Omdat jy gereeld eredienste bywoon, of dankoffers gee, of nie skinder of steel nie? Omdat jy ’n goeie lewe probeer lei? 

Jesus maak met die gelykenis van die jongman dit duidelik dat ’n mens nie die ewige lewe kan kry op grond van jou goeie dade nie. Jy kan nie die ewige lewe verdien omdat jy gebooie nakom soos die ryk jongman gedoen het nie. Jy kan ook nie die ewige lewe kry omdat jy baie vir God opoffer en Hom volg nie, soos die dissipels gedoen het. Die dissipels was, tipies menslik, ontsteld dat God nie hulle dade in ag neem om die ewige lewe aan hulle te skenk nie. Ons Here Jesus verduidelik God se genade wanneer Hy dit duidelik maak dat God se genade ver bokant ons menslike manier van redeneer uitgaan. Jesus verseker sy dissipels daarvan dat wanneer Hy Self op sy glansryke troon sit, hulle ook op trone sal sit. Hulle sal deel hê in die belangrike taak wat Jesus van sy troon af uitvoer. 

Wanneer gebeur dit? Wanneer alles nuut gemaak, as’t ware weergebore, word. ’n Nuwe bedeling breek dan aan. 

Ons kry hier ’n voorsmakie van dit wat gelowiges met Jesus se wederkoms kan verwag wanneer Hy alles herskep. Ten spyte daarvan dat ons goeie dade nie help om die ewige lewe aan ons te verseker nie, plaas God ons in ’n hoër posisie as wat ons selfs voor die sondeval gehad het. Dit doen Hy deur ons Here Jesus wat ons skuld ten volle vereffen het. Die proses om deel te hê aan die ewige lewe het reeds begin. Iemand wat deur God se Gees wedergebore is, kan uitsien na ’n plek in God se koninkryk wat baie heerliker is as wat ons onsself kan indink. 

Ds. EJ de Beer (Edmund) (Laeveld) Uittreksel uit: Almanak 2023 (Sondag 22 Oktober 2023) 

Vita est Adoratio 

Die lewe is aanbidding 

Ons maak baie graag die onderskeid tussen teorie en praktyk. Dit was egter nie van altyd af so nie. In die Griekse filosofie het theoria nie ten doel gehad om bloot feite te stipuleer nie, maar eerder die nadenke, die oordenking van die ware betekenis van die bestaan van die lewe. Dit het gesoek na die hoogste vorm van kennis en wysheid oor bestaan. 

Hiervoor is die woord filosofie gebruik. Dit is filos – liefde, en sofos – verhewe kennis of wysheid. Hierdie liefde vir die verhewe kennis was nie verwyder van die wyse waarop jy leef nie, inteendeel, jou filosofie het jou lewenswyse bepaal en beïnvloed. 

Daarteenoor was episteme, of bestaan nie die wetenskap of vasstel van iets wat jy doen los van jou theoria nie. Net soos ‘n musikant leef vir musiek, of ‘n wiskundige leef vir wiskunde, kan ons geloof nie losgemaak word van ons aanbidding van die enige ware God nie. 

Ons leef egter nie deur filosofie nie, want Christus self is die wysheid van God. In God se Woord vind ons die hoogste vorm van kennis en wysheid. Christus is die selfopenbaring van God se liefde, sodat ons Hom mag ken en in gemeenskap met Hom mag leef. 

Daarom kan ‘n Christen nie los van Christus leef as teorie en praktyk nie. Vir die Christen is Christus self die lewe. Hy word die Alfa en die Omega. Hy word die doel van jou bestaan en dit waarvoor jy leef. 

So word jou lewensfilosofie die wyse waarop jy jou wetenskap (lees beroep) beoefen. Dit is nie teorie en praktyk nie, maar eerder wysheid wat jy uitleef deur aanbidding in jou hele bestaan. 

Vandag vier ons die Nagmaal. Ons gedenk en glo dat Christus ons Bron en Doel is: Uit Hom en Deur Hom en Tot Hom is alle dinge. Hy versterk ons geloof en gee ons nuwe moed sodat ons kan volhard. 

Hy is ons Rots, die fondament, die Theoria, waarop ons lewe gebou word. Deur sy Woord kan ons nadink oor die ware betekenis van die lewe en dit uitleef as ‘n lewe van aanbidding – Vita est adoratio – die lewe is aanbidding! 

Lourens (vdm) 

JY IS UITGENOOI

As die Here wil vier ons aanstaande Sondag weer die Heilige Nagmaal van die Here om sy dood vir ons en ons sondes te gedenk. Die Here wil ons deur die sigbare herdenking van sy kruisdood versterk in die wete en sekerheid dat Hy volkome versoening gedoen het vir al ons sondes. 

Die Nagmaal is dus nie vir sondelose mense nie! Die Nagmaal is vir sondaars, met die voorwaarde dat dié sondaars werklik in Jesus Christius glo en hulle sondes bely, sodat hulle deur die Vader vergifnis kry omdat Jesus daarvoor betaal en geserf het. 

Die Nagmaal is dus vir sondaars soos ek en jy. Die Here Jesus het hierdie herdenkingsmaaltyd in gestel om ons langs die pad van die geloof te help en alle twyfel weg te ruim. So seker as wat jy die brood eet en die wyn drink… so seker het Hy Homself vir jou en my geoffer. Vir sondaars. Soos ons. Soos jou verloofring getuig dat jy binnekort gaan trou. Soos jou troupand bewys dat iemand is wat jou onvoorwaardelik liefhet. So is die sakramente van Doop en Nagmaal Christus se bevestiging en herinnering dat wat Hy gedoen het en in sy Woord beloof het, alles werklik waar is. 

Jy is dus as kind van die Here genooi na sy verbondstafel. Genooi om saam met Hom aan te sit, al verdien ons dit nie eintlik nie. Uitgenooi om fees te vier omdat die Vader jou en my ons verskriklike sondes nie meer wil en gaan toereken nie. 

Jy is genooi om volgende week saam met die broers en susters van jou gemeente te kom en aan te sit aan sy tafel en versterk te word in die geloof. Mag die Here jou (en ons elkeen) deur sy Heilige Gees bystaan om onsself geestelik voor te berei vir hierdie besondere geleentheid. Sien weer volgende Sondag! 

Ds Maarten 

Viva Vox Evangelii 

Vir baie mense vandag is die Bybel maar net ‘n geskiedenisboek vol interessante ervarings van mense oor God. Hulle glo, deur die eeue het mense hulle persoonlike ervarings verwoord en opgeskryf, net soos baie ander “heilige” boeke soos bv. die Q’uran. Op hierdie manier word die Bybel gereduseer tot ‘n menslike belewenis, en word dit nie erken as gesagvol en van God nie. 

Dit is wat gebeur het in 1709 met die beskrywing van Vox Populi, Vox Dei. Die stem van die mense is die stem van God. So het die mens sy eie god geword. En die mens luister gevolglik net na sy eie stem. 

Ons belydenis spreek hierdie onfeilbaarheid aan in die NGB veral artikels 2-7. God se Woord is deur die Heilige Gees geïnspireer, en is so lewend en kragtig dat selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin beskryf word, waar is. 

Daarmee bely ons: Viva Vox Evangelii… Dit beteken die Evangelie is ‘n lewende stem. Die Evangelie is nie maar net ‘n stem oor God nie, dit is die stem van die Lewende God. Dit is ook die Euangelion – die evangelie, of te wel die Goeie of Blye boodskap. 

Die evangelie is die boodskap van God se verlossing. Dit verkondig aan ons die wonderlike nuus van ons redding in en deur Jesus Christus. Maar hierdie lewende evangelie kan nie lewe as ons nie die woorde daarin hoor nie. 

Soos iemand eendag opgemerk het, dat ‘n Bybel wat uitmekaar val getuig van ‘n lewe wat nie uit mekaar val nie. Moet daarom nie een oomblik huiwer nie, om elke dag jou Bybel te lees, om daarin notas te maak en orals te merk waar hierdie lewende Woord jou hart aangryp nie. 

Want deur God se lewende Woord word ons lewe ‘n blye tyding. 

Lourens (Verbi Dei Minister – VDM: Bedienaar van die Woord) 

Genade, Barmhartigheid en Vrede 

(1Tim 1:2 en 2Tim1:2) 

Nogal lekker om in die Dinsdagaand Bybelskoolklas te sit en die jong dominee laat hierdie ou dominee se oë oopgaan vir die verstaan van bogenoemde woorde. 

Paulus, se liefdevolle pastorale briewe aan die jong ds Timoteus in Efese, word met hierdie oorvloed van woorde en seënwense begin. Mens kan sien dat hulle ’n baie spesiale verhouding het. 

Ds Riaan Anderson wat die Efesiërs-brief in diepte behandel, verduidelik toe vir ons die verskil tussen genade en barmhartigheid (grace and mercy) wat vrede gee. 

Barmhartigheid is eintlik om iemand jammer te kry. Soveel omgee en simpatie het dat jy hom/haar nie die straf gee wat hulle toekom nie. Genade daarenteen, is om iets te ontvang wat jy nie verwag of voor gewerk het nie. 

In ds. Riaan se eie woorde: 

BARMHARTIGHEID (mercy) – As jy nie kry wat jy verdien nie 

GENADE (grace) – As jy kry wat jy nie verdien het nie 

Mooier kan dit nie gestel word nie. So omvattend is God se goedheid dat Hy ons ons sondes nie toereken nie, en boonop ook nog vir ons die hoop gee op die ewige heerlikheid saam met Hom. 

DAN kan daar mos niks meer tussen my en God staan nie. Geen straf nie, maar volkome versoening en vergewing. Geen dood meer nie, maar wel ewige lewe en vreugde saam met Hom en al die gelowiges. Dan ook geen verwyt, selfverwyt en skuldgevoelens nie, maar VREDE! Dan begin God se ewige Sjalom (vrede) nou al in jou hart, en kan julle mekaar ook ten volle vir die ergste misstappe vergewe. Dan is daar weer vrede tussen mense. 

Sien julle, selfs die ou dominee is nie te oud om te leer nie. Sien julle Dinsdagaande by die Bybelskool. 

Ds Maarten 

« Older posts Newer posts »