Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: Adrian Van Niekerk (Page 1 of 2)

Eljada Huis – 14 Februarie 2019 (16)

ELJADA HUIS

Boekenhoutkloofstraat 949, Claremont
012 377 0503 / 060 984 0809(An) / 079 377 5711 (Petro)
eljadahuis@mweb.co.za / www.eljadahuis.weebly.com
Bankbesonderhede: Eljada Huis, Standard Bank, Montana,
Marketlink spaar, 044396058, Bankkode 051001
***********************************************************

14 Februarie 2019 (16)

Goeiedag Almal,

Vanuit ons konstitusie weereens die volgende vers uit Efesiers 4:28:

Laat die een wat steel,(ander belas) nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het.

Dit is wat ons hier by Eljada Huis baie graag doen. Dien die Here en nie die mens nie maar ai soos Paulus se – dit wat ek wil doen, doen ek nie, en dit wat ek nie wil doen nie dit doen ek. Bid vir ons hier by EH waar gemoedere soms baie hoog loop.

Ons gee daagliks vir 40-50 mense kos asook naweekpakkies wat net genoeg is vir oorlewing. Dit gaan baie swaar op die oomblik om dit te kan bybring. Ons het vanaf 9 Januarie toe ons oopgemaak het tot gister bykans 3000 etes voorsien en dit net met die genade van Bo. Soveel skenkings het dit ook moontlik gemaak en daarom weer my versoek:

‘n Uitdaging: NET 1blikkie/pakkie/boksie/R50 per maand vir Eljada Huis sal die nood hier aanspreek. Ek vra ouers om hul kinders aan te moedig om te deel in die swaarkry van ander deur ‘n bietjie sakgeld, ‘n blikkie groente, vleis, toebroodjiesmere of koffie, ‘n pakkie suiker of pasta, ”n boksie melk of tee eenkant te sit vir iemand net soos hy maar minder bevoorreg wat nie in ‘n mooi huis bly met liefdevolle ouers en alles wat nodig en soms onnodig is nie. Kom kinders, kom deel ook jul tyd met hierdie kinders – ‘n speletjies oggend of uitneem vir ‘n fliek of so-iets.

Bid, Dink en Doen dan soos die Here van ons eis. Baie dankie by voorbaat.

Ons is waarlik ‘n klomp uiteenlopende geaardhede wat soms ernstig bots en kwetsende woorde uitspring. Ek bid elke dag vir verdraagsaamheid met elkeen in nood. Die trane vloei dikwels onbedaarlik uit man of vrou se oë van ‘n baie diep seer wat ook jarelank daar lê. Ek gesels gewoonlik met elke een wat aansluit maar ook dikwels die wat hier is en hul humeur verloor met kinders wat uiteraard vanuit ‘n disfunksionele huisgesin kom. Berading is so noodsaaklik en ek het nie altyd genoeg tyd in my dag om hulle by te staan nie. Kom help as jy kans sien daarvoor asseblief.

Ons het vanaand direksievergadering en vra ek u voorbidding asseblief. Besluite wat geneem moet word wat ons te alles tye met die Here se hulp doen.

Ons is alweer die doelwit van diefstal. Mense wat hier was en mooi die uitleg van alles gesien het, weet net waar ons swakpunte is. Die Westekant van die huis het nie ogies wat die alarm kan afsit nie omdat ons gedink het dit is nie nodig nie. Maar ‘n skelm uitoorlê mens so maklik. Met die finansies wat ‘n probleem is kan ons egter nie daaraan dink om dit op sekuriteit te spandeer nie want kos is belangriker. Ek wag vir ‘n kwotasie van Ubuntu daarvoor.

Die heerlike reenweer bring ook weer ‘n klein probleempie van natreen . Almal het omtrent sopnat hier opgedaag vanoggend en vra ek dus vir sambrele of reenjassies vir elkeen. Laat weet maar as iemand kan help.

‘n Baie geseende naweek vir elkeen van u. Annatjie

$ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $

ELJADA HUIS FINANSIES

Nadat die Januarie uitgawes betaal is, is ons fondse heeltemal uitgeput en ons het waarlik ‘n ernstige nood. Help asseblief sodat ons volhoubaar vir diegene kan sorg wat in ellende lewe.

Deutoronomium 15:11 sê immers vir ons;  Want die arme sal in die land nie ontbreek nie; daarom gee ek jou bevel en sê: Jy moet jou hand wyd oopmaak vir jou broer, vir die ellendige en die arme in jou land.”

$ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $ $

==========================================================

 

Eljada Huis 6 September 2018

(Last updated on Februarie 21st, 2019)

 ELJADA HUIS

Boekenhoutkloofstraat 949, Claremont
012 377 0503 / 060 984 0809(An) / 079 377 5711 (Petro)
eljadahuis@mweb.co.za / www.eljadahuis.weebly.com
Bankbesonderhede: Eljada Huis, Standard Bank, Montana,
Marketlink spaar, 044396058, Bankkode 051001
***********************************************************

6 September 2018(14)

Goeiemôre Almal,

Waarlik ‘n voorreg om met ander te gesels oor die Here en wat Hy vir ons doen. Hierdie was ‘n dolle week van dink en doen en dankbaarheid onbeskryflik groot.

Maandag het ons gaan patats laai in East Lynn waar bykans 14ton afgelaai is. Bevoorreg soos altyd het ons ook ‘n uitnodiging ontvang om te gaan haal soveel ons wil. Dadelik het elke individu en ander instansies se name in my kop gerol om seker te maak dat soveel moontlik ander swaarkry mense ook voordeel kan trek. Hierdie onbekende donateur het hierdeur ontelbare mense ‘n stukkie kos op die tafel gegee. Eljada Huis het 40kg verwerk en gevries en verder vir bykans 500 mense kon gee. Dit is nogal die pienk patat en gevul met baie meer vitamines as die wit een. Selfs my hondjies het van die afval stukkies begin vreet en dit baie geniet. Ja wanneer die nood op sy hoogste is tree God self in om te voorsien. Ons dank Hom daarvoor.

Ons opedag verlede Saterdag het weer ‘n heerlike kuier oggend geword en ek wil elkeen wat hier was weereens bedank vir die moeite wat hulle gedoen het. Om met medegelowiges oor die Eljada Huis te praat is altyd vir my die hoogtepunt van elke dag. Om ook vir almal wat betrokke is deur veral gebed, kos, kontant, klere en ander lewensmiddele wil ek my opregte dank uitspreek.

Ons het ‘n skootrekenaar gekry en was die man se oë vol trane toe ek hom vertel. Hulp vir die jongman wat verder wil studeer wat nie kan verstaan dat ons soveel het om te gee net omdat ons in volkome afhanklikheid leef en werk hier nie. Ek het vir hom gesê dat solank dit nodig sal wees vir hom om sy studie te voltooi sal ons hulle ondersteun met kos, klere en ander behoeftes en die onbegryplikheid in sy oë wat met trane gevul was het my weer laat besef hoe groot ons God is. Dankie Vader. Amen

Ons was gister by oom tandmaker en die 4 wat hy na gekyk het moet nou eers tande laat trek en stop en skoonmaak voordat hy kan begin. Ek sal julle op hoogte soos die behoefte vir die maak van die tande en draadjies verbykom. Dankie reeds daarvoor.

Ons dogter is baie goed versorg vir haar leirskapskamp in Oktober en wil ek aan die onbekende borge weereens my dank uitspreek.

Ons het ‘n groot behoefte aan klere vir die Koningskinders by GK Daspoort. Saterdag 15 September is daar ‘n werwingsdag om meer kinders en ouer betrokke te kry. Ek is self ‘n Daspoorter en wil graag help.

Twee dogters wat by ‘n spesiale skool is se skoolsakke is flenters. Sal waardeer as ons dalk vir hulle nuwe tasse kan gee. Onderskeidelik 16 en 15 jaar oud dus ‘n tas wat baie kan akkommodeer. Dankie by voorbaat.

Ek vra ook vir appelbokse en kratte want baie van die wat ek gehad het is in die brand verwoes. So ook 2 van ons staaltafels. Baie dankie.

Ek herhaal my versoek van verlede week:

Ja ons bly steeds in die NOOD vir suiker, koffie, pasta, boksmelk, nie-bederfbare blikkies of pakkies, tee, ontbytpap, broodsmere, en toiletware.  Ek wil graag weer die voorstel of uitdaging rig vir elke gemeentelid om net EEN blikkie, bottel of pakkie elke Sondag by die kerk af te gee. As al die lidmate dit doen van al die gemeentes sal ek nooit weer hoef te noem dat daar ‘n NOOD by Eljada Huis is nie en sal die kaste kreun van oorloop. Elkeen wat ‘n pakkie kos hier wegdra WEET dit kom nie uit ons hande nie maar van BO. Amen.

Lekker naweek                                                                                   Annatjie

*************************************************************************************

Eljada Huis Opedag

Datum:       1 September 2018
Tyd:            09h30 vir 10h00

RSVP:        voor of op 30 Augustus 2018

Plek:          Eljada Huis
                   Boekenhoutkloofstraat 949
                   Claremont
                   Pretoria

Eljada Huis Nuusbrief

ELJADA HUIS
Boekenhoutkloofstraat 949, Claremont
012 377 0503 / 060 984 0809(An) / 079 377 5711 Petro)
eljadahuis@mweb.co.za / www.eljadahuis.weebly.com
Bankbesonderhede: Eljada Huis, Standard Bank, Montana,
Marketlink spaar, 044396058, Bankkode 051001

***********************************************************

2 Augustus 2018(10)

Goeiemôre Almal,

My gebed: “Dankie Vader vir U beskerming, troos, liefde, genade en versorging, Amen”

Die huis se alarm maak my vir die tweede keer hierdie week wakker. Toe my oë oopgaan is dit daglig in my kamer en die besef van iets groots en angswekkend is besig om buite te gebeur tref my op die krop van my maag. Ek spring op en trek die gordyn weg. Met afgryse en ‘n totale gevoel van hulpeloosheid staar ek na die vlamme wat besig is om die lapa te verteer. Dis 00:32 27 Julie. My onmiddelike reaksie is om vir Ubuntu, ons sekuriteit te skakel en ek skree-sê vir die operateur die adres en dat hulle die brandweer  moet laat weet want dit brand buite. Die alarm skree steeds onder en ek de-aktiveer hom sodat ek kan uitgaan en gaan kyk. Buite staan daar reeds ‘n skare mense wat kom probeer help maar hulle kannie inkom nie. ‘n Man wat op ‘n manier oor die hek geklim het en plat op sy boude sit by die westelike hek, ruk en pluk om hom oop te kry maar vergeefs. Ek skree vir hom om op te hou want ek het die sleutel van die slot by my. Ek maak die hek oop en almal storm in om te kom help maar weet nie waar om te begin nie. Intussen het die krag uitgeskop toe die drade begin smelt het en dis donker om ons behalwe vir die verterende vuur wat hoog brand. Dankie Vader daar was geen wind nie en die lapa is ‘n entjie van die huis af maar, ten spyte daarvan het die verksriklike hitte my kamervensters laat kraak. Die brandweer daag op en die manne begin spuit. Bykans ‘n uur later lyk dit asof die vuur geblus is maar bly smeul. Ek staan steeds stil, in my (ordentlike) slaapklere, kaalvoet(voel nie eens die dorings wat steek nie) en staar verstom en verslae na wat oorgebly het – ‘n swart massa. Daar was kosbare items in bokse gestoor onder die lapa wat ons Woensdag en Donderdag gaan laai het by ‘n huis waar beide man en vrou gelyktydig in ‘n motorongeluk gesterf het en die kinders veroek het dat ons dit gaan haal as dit bruikbaar is vir ons. Ja dit was, maar die Here het ook besluit om deur die satan alles van ons weg te neem en daardeur vir ons laat besef dat ons dit nie nodig gehad het nie. Ek berus my daarin.

Maandag laataand het iemand ook die hek se motor aan die brand gesteek om op die manier toegang tot die perseel te kry. Satan nie sy sin gekry nie want die  buurtwag manne en vroue het op die brand afgekom en toe die hek oopgaan is die huis se alarm geaktiveer wat my wakker gemaak het. Hulle het dadelik die brandblussers wat buite was gegryp en die brand geblus. Die motor is egter totaal vernietig en ek het geen antwoorde vir enige van die twee gebeurtenisse wat soos die Here dit wou hê in dieselfde week gebeur het nie.

Dankie GK Centurion wat dadelik bereid was om die uitgawe vir die vervanging van die hek se motor te dek ten spyte daarvan dat die versekering ook ‘n deel betaal het. Ons waardeer sulke vriende in nood onbeskryflik baie. Ons uitgawes verder was om weer die brandblussers aan te vul en addisionele blussers – een in my kamer en een by die kantoordeur – aan te bring @ R2200. Die besef tref my dadelik dat die “veldkombuis” wat ‘n gasbrander is met ‘n 48kg gasbottel daarnaas ook beveilig en gesertifiseer moet word as wetlik. Dit kos ons R4000. Hierdie uitgawes maak ‘n duik in ons finansies, maar is nie onderhandelbaar nie maar noodsaaklik. Ek moes ook kos gaan aankoop om vir die naweek genoeg te kon hê vir ons gesinne. Dit het R6500 beloop.

Steeds is ons kosnood groot, maar ons weet dat die Here ons sal seën met dit wat ons wel nodig het. Dankie nou reeds aan Hom.

Ons behoefte is nie-bederfbare blikkies of pakkies, koffie, tee, boksmelk, suiker, ontbytpap, broodsmere, pasta en toiletware. Enige iets wat in ʼn huis gebruik word behalwe luukshede(vir ons bederfies) is welkom. Ook daardie klein komplimentêre sepies, sjampoo en ander toiletware wat so lastig in jou huis rondlê kan baie goed aangewend word hier by my.

Ek het ook ‘n uiters verdienstelike dogter hier by my wat R900 vir haar veldskool kamp benodig.

Ek wil weereens my dank aan elkeen oordra wat getrou maandeliks bydraes vir die huis maak. Klere, kos, meubels, finansieel en die heel belangrikste dat julle aan ons dink in jul gebede. Sonder hierdie dinge sal Eljada Huis verval in maar net nog ‘n gemeenskapsprojek wat gefaal het. Die bewyse is daagliks sigbaar hoe God vir ons sorg  en iemand het vir my ‘n baie mooi kompliment gegee naamlik dat satan ons sal beproef want iets wat hier gedoen word is vir God aanvaarbaar en Hy sal sorg. Hy is in beheer hier en ek, kleingelowige moet dikwels my kop in skaamte laat sak oor Sy almag. Dankie weereens.

Lekker naweek

Annatjie

« Older posts