Skriflesing: Gen 5:1-5; 6:1-8; Openb 13:11-18
Teksvers: Gen 6:5-6
HK Sondag 3
Die mens wat God geskep het na sy Beeld en gelykenis is so boos en sleg dat dit God berou dat Hy die mens gemaak het. Daar was smart in God se hart. So boos en sleg het die mens geword, dat God geen
ander uitweg sien as om die aarde met al die mense daarop volkome te vernietig nie. Dieselfde mens wat so goed en reg gemaak is, het heeltemal ontaard. Hoe sal ons tog God se oordeel kan ontvlug?
Die enigste uitweg is as God ons weer ‘n nuwe mens-heid maak.
Skrywer: admin (Page 107 of 343)
Skriflesing: Gen 2:18-25; 1 Kor 7
Teksvers: Gen 2:18,21-24; Mat 19:4,5; Tit 1:6
Die huwelik is, buiten ons geloof, die grootste geskenk wat God aan die mens gegee het. Hierdie geskenk moet ons as uiters kosbaar, delikaat en wonderlik oppas en koester. Die huwelik is nie ‘n “gerieflikheidsreëling” nie. Die huwelik het nie uit ’n kultuur ontstaan nie. Die huwelik is deur God ingestel. God het uit die man, die vrou gemaak, “as sy gelyke”, “as wat by hom pas”. Die vrou is dus geensins minderwaardig teenoor die man nie. Die huwelik is daarom heilig, want dit is deur God ingestel.
- Die huwelik is ’n geskenk van God.
- Die huwelik moet heilig wees.
- Die huwelik is ʼn afbeelding van ons verhouding met God.
Ef. 5:21-33
Naas jou verhouding met God is jou verhouding met jou huweliksmaat sekerlik die belangrikste samelewingsverband waarin ’n man en vrou kan staan. God het die huwelik ingestel. God het dit so gewil dat ’n man en ’n vrou met mekaar trou, maar nie enige man met enige vrou nie, maar dié man of dié vrou wat God vir jou uitgekies het.
Dit is ’n baie belangrike en uiters verantwoordelike keuse om te bepaal wie is die regte man of die regte vrou vir jou. Dit vra juis dat jy biddend en ernstig en opreg voor God sal wees oor jou huwelikskeuse. Die beste keuse is sekerlik dat jy met ’n mede-christen trou, wat net so ernstig soos jy is oor jou verhouding met God. Jou huwelik moet gebou wees op die Rots van Jesus Christus. Dan kan daar maar enige aanslae kom en jou huwelik sal dit weerstaan. Om Jesus Christus te ken en die Woord te ken, is om jou huwelik in te rig volgens God se plan.
Liefde is sekerlik die grondslag van die huwelik. Maar nie ’n liefde wat alleen op wêreldse romantiese idees geskoei is nie, maar liefde wat werklik van God af kom. Dit is daarom dat Paulus die verhouding van die man en vrou vergelyk met die liefde van Jesus Christus en wat Hy vir die Kerk, sy bruid, (Open 19:5-10) gedoen het.
- Die vrou se onderdanigheid (vgl. Ef 5:21) word vergelyk met die kerk se onderdanigheid aan Jesus Christus. (v22)
- Die mans se liefde vir hul vrouens word vergelyk met Jesus se liefde vir sy kerk. (v25)
Die eenheid van die liefde word dan ook bewys, deurdat ’n man en vrou hul ouerhuise verlaat en saam gaan bly onder een dak. Die liefde is dan gesetel in ’n onvoorwaardelike, “agape” liefde soos wat ons in 1 Kor 13 van lees. Liefde is ’n werkwoord. Liefde moet letterlik geleef word, bewys word en gedoen word, teenoor mekaar. Liefde word vergelyk met Jesus wat sy Bruid, (die Kerk) so liefgehad het dat Hy sy lewe vir haar afgelê het.
Leef jou huwelik dan in opregtheid voor God. Wees eerlik en getrou aan mekaar. Wees opreg en dra mekaar op die hande. Die huwelik is die grootste geskenk, naas jou geloof, wat jy van God ontvang het.
Ds. Gerrit
God weerstaan die hoogmoediges maar aan die nederiges gee Hy genade.
Donderdag 11 Mei 2023
Lees: 1 Petr 5:5 2020 5) “Net so moet julle wat jonk is, ondergeskik wees aan die ouderlinge. Beklee julle almal met nederigheid teenoor mekaar, want…
“God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”
6) Daarom verneder julle onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle op die regte tyd kan verhoog. 7) Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy gee vir julle om.”
Die Bybel is baie prakties, want God is Alwetende en Hy weet presies wat om aan ons te openbaar. Daarom skryf Petrus hier dat die jongmense van die gemeente moet luister na die ouer mense van die gemeente en spesifiek na die ouderlinge. Die broeders wat ouer is met meer wysheid en lewenservaring, ryper insig en wat al met die kennis van jare kan praat.
Hierdie nederigheid word in die griekse taal beskryf met ‘n voorskoot wat jy aansit om ander te dien. Plaas ‘n voorskoot aan, beklee jou, sodat jy ander kan dien en bedien kan word, sonder om jou klere vuil te laat word met die verkeerde hoogmoed van die wêreld.
Een van die grootste probleme in die lewe is hoogmoed.
Spr 3:34-35
34 “Met hooghartige spotters dryf Hy die spot, maar Hy is goed vir dié wat beskeie is.
35 Wyse mense verkry eer, maar dwase kom al hoe meer in die skande.”
Jak 4:6 – 1 Pet 5:5b
“God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”
Hoogmoed gaan oor mense wat nie hulleself volkome voor God wil buig in ootmoed nie. Dan gaan dit oor hulle eie behoeftes, besluite, en hulle eie lewe. Dan is ek vir myself belangriker as om voor God te buig. M.a.w. mense wat nie ten volle voor Jesus Christus wil buig en hulle volle verlossing en genade van Hom verwag nie. Jesus het juis self ook aan ons geleer in …
Mat 11:29
“Leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele.”
Die kind van God wat in diepe afhanklikheid en nederigheid leef, sal van God rus vind. Vir party is daardie rus alreeds op aarde gedeeltelik beskore. Ten minste is dit vir ons beskore dat ons verseker weet dat God altyd vir ons sorg, of dit mensliker-wys goed gaan of nie. God is in beheer. God is altyd by ons. Maar verseker sal ons God se volle genade ten volle ondervind as ons die hemelse heerlikheid ingaan. Dan sal ons weet, dat God se kragtige hand, deur Jesus Christus, ons ten volle verlos het, dat ons die ewige lewe binnegaan.
Daarom hoef ons oor niks besorg te wees nie volgens Mat 6:25-34. God sorg vir die lelies in die veld. God sorg vir al die wilde diere. God sorg soveel te meer vir ons. Werp al jou bekommernis op God. Vertrou volkome op sy genade in en deur Jesus Christus. Weet dat God deur die Heilige Gees jou lei en dat jy altyd sy genade sal beleef in voorspoed en in druk. Ps 34.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com
Die taak van ouderlinge.
Maandag 8 Mei 2023
Lees: 1 Petr 5:1-4 “1 As mede-ouderling en getuie van die lyding van Christus en ook deelgenoot aan die heerlikheid wat geopenbaar sal word, dring ek by die ouderlinge onder julle daarop aan: 2 Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid; 3 ook nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar deur ‘n voorbeeld vir die kudde te wees. 4 En dan, wanneer die Opperherder kom, sal julle die heerlikheid as onverganklike kroon ontvang.”
Ons beleef vandag baie turbelente tye. Die samelewing is onder druk weens verskeie morele etiese kwessies wat direk indruis teen die Skrif. Goddeloosheid, kerkverval en afvalligheid kom al meer voor.
• Daarom moet daar goeie leierskap wees in die kerk.
Petrus skryf hier juis oor wat goeie leierskap is. Dit is juis in ‘n tyd van lyding en vervolging dat ons as christene goeie leierskap nodig het. Leiers wat uit die Bybel leiding kan gee. Die rede is omdat ons gelees het in 1 Petr 4:17 dat die oordeel by die huishouding van God sal begin. Ja die Satan gaan juis by ons as kerkmense begin om ons afvallig, kleingelowig, ongelowig te wil maak. Satan wil ons graag van God af weglei of verlei. Daarom het ons goeie leiers nodig om ons te lei om in hierdie lewe standvastig en gelowig te bly.
Vir hierdie taak gee God aan die kerk ouderlinge. Ons lees in 1 Tim 3 dat God juis aan die Nuwe Testamentiese kerke ouderlinge en diakens gee om hulle te lei en te regeer en te versorg.
Hierdie is ‘n baie ernstige en spesifieke opdrag. Ons lees in Hand 20:28 spesifiek wat die ouderlinge se opdrag is: “Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ‘n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun.”
Die griekse woord vir ouderling wat Petrus hier gebruik is ‘Biskop” – “presbuteros”. Jesus Christus noem Homself ook die Goeie Herder. Jesus Christus self sorg vir ons, sy skape. Hy het so goed gesorg dat Hy sy eie lewe vir ons afgelê het. So moet die ouderlinge die gemeente versorg met toewyding en erns en opregtheid.
Petrus vermaan daarom die ouderlinge, as mede-ouderling, 1 Petr 5:2 “Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid:”
Ontvang julle ouderlinge dan met gasvryheid in julle huise. Maak dit vir hulle maklik om hulle werk te doen. Bel hulle ook en deel julle lief en leed met hulle. Maak julle harte vir hulle oop, sodat hulle hulle werk kan doen soos wat God dit van hulle verwag.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com