Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 106 of 343)

Die oordeel van God bevry

Skriflesing: Jona 3:1-4:11
HK Sondag 4
Teksvers: Jona 3:10; 4:1

Een van die belangrikste regsbeginsels is dat jy nooit regter kan wees in jou eie saak nie. ‘n Hele land se regstelsel kan inmekaar stort as gevolg van die misbruik van hierdie enkele reël. Uit God se Woord leer ons dat Hy Wetgewer en Regter is. Hy maak die wette en Hy beoordeel dit. Hoe is dit tog moontlik? As ons as mense God se wet oortree dan kan God nie terugdraai op sy eie Woord en die sonde ongestraf laat bly nie… Ons staan vanaand stil by die tema dat God se oordeel bevry.

Koester kinders as geskenk van God!

Skriflesing: Psalm 127; Psalm 128
Teksvers: Ps 127:3,4; Ps 128:3,4,6

Nie alle mense het die voorreg om te trou nie. Nie alle getroude pare het die voorreg om kinders van God te ontvang nie. Maar almal wat getroud is en kinders het en alle volwassenes moet God se kinders waardeer, vir hulle ’n voorbeeld wees van christen-skap, vir hulle bid, hulle bewaar en beskerm as ge-skenke van God. Onthou wat Jesus Christus self gesê het in Mat 18 ivm die kindertjies. Kinders is geskenke van God en moet opgevoed word tot eer van God.

Ons is almal onderling verantwoordelike vir mekaar 

Hand 2:36-47

As gemeente van gelowiges in ons Here Jesus Christus, het ons ’n groot verantwoordelikheid. Hierdie verantwoordelikheid behels of beteken dat ons aan mekaar verbonde is. Ons is aan mekaar verbind deur ons geloofsband in Jesus Christus. Ons is een groot geestelike gesin, een groot geestelike familie, een voor God in en deur Jesus Christus. Daarom kan niemand homself maar afsonder en op sy eie lewe, los van die ander “gesinslede” nie. Ons is gesamentlik verantwoordelik vir mekaar. 

Juis in die moderne eeu raak hierdie waarheid al hoe belangriker. Almal raak meer individualisties en die moderne mens wil as ’n ware “anoniem” op sy eie voortleef. Ons sit heinings om ons huise, bly agter mure en toe deure, weens veiligheid en elkeen is individueel met homself besig. Dit is nie hoe God dit bestem het nie. 

Die beeld van 1 Kor 12 is duidelik dat elkeen van ons ’n gawe van God ontvang het. Ons is elkeen maar ’n ledemaat van die liggaam. Elke ledemaat van die liggaam is belangrik om die liggaam ten volle te laat funksioneer. Daarom is dit nie van belang of jy die oog of oor of hand of tand is nie. Van belang is dat jy jouself gee aan God en aan die gemeente tot voor-deel en uitbreiding en uitbouing van die gemeente en die koninrkyk van God. 

Om dit te kon uitleef het Petrus aan die gemeente geleer in Hand 2 dat hulle hulle moet bekeer, laat doop, laat onderrig in die Bybel en dan saam eet en bid. Dit wys duidelik op die “koinonia” die saamleef in ’n eenheid voor God. Daarom is dit so belangrik as gemeente om saam die Here te dien, om mee te leef en elkeen op sy gebied met die gawes wat God aan jou gegee het, die Here te dien. 

Mag ons almal saam die Here aanbid en die Here dien, tot eer en verheerliking van God en tot opbou van Sy kerk en Sy koninkryk. 

Ds. Gerrit 

Oordenking 18 Mei

Hemelvaart! Jesus Christus is by ons al die dae van ons lewe!

Lees: Hand 1:9-11
9 “Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ‘n wolk het Hom
weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie.
10 Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan.
11 Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

Mat 28:20b “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”

Kort nadat Jesus dit gesê het, is Hy met die wolke weggevoer, die hemel in. Die dissipels het Hom agterna gekyk, totdat hulle Hom nie meer kon sien nie.
Die vraag kan nou onstaan:
– Is Hy dan nie by ons, om ons te beskerm nie?
– Hy het mos so belowe!

Maar dit is nie ‘n nuwe vraag nie, hierdie vrae is al gevra in 1563 toe die Heidelbergse Kategismus geskryf is: Sondag 16 Vraag en Antwoord 47

Vr. 47 Is Christus dan nie by ons tot aan die einde van die wêreld soos Hy ons beloof het nie?
Ons bely dan:
Antw.
• Christus is ware mens en ware God.
• Wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie,maar wat sy, Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy NOOIT meer van ons af weg nie.

Vir die Post-moderne mens van die 23 ste eeu raak dit al moeiliker om te glo.
Hulle vra ….
• As ons ons Here Jesus Christus nie letterlik kan sien en hoor en selfs aan Hom vat nie, hoe weet ons dit wat Hy in die Woord sê is waar?
• Hoe weet ons dit is waar wat verkondig word?
• Hoe moet ons die Bybel verstaan dat Jesus self sê dat Hy by ons is en tog sien, hoor ons Hom nie letterlik nie?

Is hier ‘n teenstrydigheid of onwaarheid in die Bybel?

Daar is ’n baie duidelik bewyse in die Skrif daar dat hier GEEN TEENSTRYDIGHEID of ONWAARHEID is nie.
“Jesus sê aan sy dissipels, dit is sy Kerk, dat Hy met hulle is tot aan die voleinding van die aarde. Dit is tot met die wederkoms.”
Matt 28:20 “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
Mark 16:19 “Nadat Jesus dit vir hulle gesê het, is Hy in die hemel opgeneem en het Hy aan die regterhand van God gaan sit.”

• Is Jesus Christus ook nou nog by en met ons hier in Suid Afrika in 2023?

Broeder en suster, Jesus Christus is altyd en altyd by ons!

Ons bely met oortuiging in die geloof, dat Jesus wel by ons is!

Mt 28:20b “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.”

Hoekom ons dit met oortuiging glo, is omdat God dit in sy Woord aan ons openbaar en leer.
• Daar is geen vaagheid aangaande hierdie belofte nie.
• Want hierdie is ’n belofte, ’n feit in God se Woord.
• Jesus Christus het belowe dat Hy altyd by ons sal wees.
• Hy sal ons nooit verlaat nie.

Jesus is PERSOONLIK hier by ons, by jou teenwoordig.

Mat 18:20 “…want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by julle.”

Mat 28:20b “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van
die wêreld.”

  • Die Here is na sy Godheid by ons… “…om nooit meer van ons te wyk nie.
  • Jesus is by en met ons na sy genade.
  • Jesus is ook hier op aarde na sy majesteit
  • Jesus Christus is ook en veral in die Hemel.
  • Ons is nooit alleen nie, God is altyd by ons!

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 15 Mei

Wees waaksaam! Die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu.

Maandag 15 Mei 2023
Lees: 1 Petr 5:8-11 “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand (die teëstander), die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.
9 Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur.”

In hierdie tweede laaste gedagte-eenheid van die eerste brief van Petrus lees ons van twee sake:
• Satan wat rondloop soos ‘n brullende leeu
En
• God se genade.

Jesus het vir Petrus ‘n paar keer gewaarsku dat Satan agter hom aan is. Satan val christene en veral die leiers altyd aan. Satan se aanval is reël en eg en ons moet as christene altyd teen hom waak. Daar is egter te veel christene wat aan die slaap gesus is en nie werklik waak nie. Die satan werk agteraf en dikwels in die nag. In die gelykenis van die saaier lees ons in Mat 13:25 “Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn.”
39 “…die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel.” Satan werk in die donker, agteraf, op slinkse maniere. Satan is ‘n leuenaar en ‘n moordenaar.

Ons lees van Satan in Joh 8:44 “Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ‘n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen.”

Wat moet ons doen om Satan teen te staan?

Wees waaksaam! Ons moet biddend, altyd op die uitkyk wees teen Satan se aanvalle. Hy doen dit baie slinks en agteraf, sodat jy dit nie maklik agterkom nie. Toe koning Dawid nie uitgegaan het om oorlog te maak saam met sy manne nie, het hy vir kwaadgeld op die paleis se dak rondgeloop en met Batseba onsedelikheid en moord gepleeg. (2 Sam 11) Toe Petrus te vol selfvertroue was, wou Hy Jesus met geweld en moord beskerm en het hy Malgus se oor afgekap.
(Joh 18:10)
Weerstaan die duiwel! V9 Dit beteken dat die christene, in die kerk moet saamstaan om die duiwel teë te staan. Dit is soos ‘n weermag wat saamstaan teen die vyand. Christene moet teen Satan weerstand bied. Fil 1:27-30. “Ons moet volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie.” Ons kan nie op ons eie staande bly nie. Dit is so belangrik om aan ‘n kerk te behoort om daar ondersteuning en onderskraging te kry. Hou saam met jou mede-christene eredienste.

Glo onvoorwaardelik! Ons moet onvoorwaardelik glo dat ons reeds meer as oorwinnaars is deur Hom wat ons krag gee. In Rom 8:31-39 lees ons dat ons die oorwinning al klaar bereik het, dat ons in Christus niks te vrees het nie. Maar juis omdat ons kinders van God is moet ons nooit ophou stry in die geloof nie. Ons moet biddend en doelbewus die Satan weerstaan in ons lewens deur te lewe tot eer van God. Vlug weg van alles wat jou van God af kan aftrek. Die Bybel is die swaard van die Gees wat ons altyd moet gebruik. Lees jou Bybel elke dag en bid elke dag en die Heilige Gees sal jou krag gee om weerstand te bied.

Onthou! Onthou dat jy nie alleen is in die stryd teen Satan nie. Satan val alle christene aan. Satan werk veral in die kerk. Satan werk veral om deur allerhande maniere onmin te saai en wantroue en afval ook in die kerk. Stry dus saam as gelowiges teen die Satan.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

« Older posts Newer posts »