Daar is min dinge wat ‘n mens se perspektief so drasties verander soos die werklikheid. 

In baie opsigte is daar besluite en opinies wat in ons gedagtes en gemoed gevorm word deur persepsies en opinies van ander mense. Wanneer jy boeke oor die geskiedenis lees, veral ook die Bybel, dan lees jy oor feite wat gebeur het, maar jy het nie altyd die perspektief van die omstandighede of die omgewing waarbinne hierdie dinge plaasvind nie. 

Daar is niemand van ons wat by die skepping was nie, en tog lees ons in Genesis 1-2 oor hoe God geskep het. So kan ‘n mens deur die hele geskiedenis stap, na al die plekke waar God Homself aan die mens bekend gemaak het. Soos daar diep in die woestyn by die berg Sinai, of die see van Galilea. Die werklikheid bring ‘n nuwe begrip, en beter verstaan. 

Eers wanneer jy daar op die berg Karmel staan en afkyk oor die Jisreel vlakte, en agter jou die deinserigheid van die see kan sien, verstaan jy wat gebeur met Elia en die Baalprofete, en die dienskneg wat ‘n wolkie bespeur op die horison. Wanneer jy in die hawe van Perge staan en sien hoe groot die Taurus-berge is, dan het jy begrip vir Johannes Markus wat besluit om huistoe te gaan. 

Tog kan hierdie perspektiewe nie die feite verander nie, hoewel dit help om dit te begryp. So is daar bitter min van ons hedendaagse tyd wat begrip toon vir die skoene waarin Luther homself bevind het op die Ryksdag van Worms. Waar hy gelei deur God se Gees, homself verbind aan die Woord van God alleen as die hoogste gesag. 

In Oktober gedenk ons die begin van die Reformasie waar Luther die 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenberg vasgenael het om daaroor gesprek te voer. Die gevolge was ‘n totale omwenteling van die geskiedenis. 

Die resultaat van daardie gevolge is egter ‘n nuwe perspektief op God se Woord. Mag die HERE ons lei om in ons eie lewe ‘n reformasie te ondergaan, om te kan antwoord teen die tydsgees en wêreldse verleidinge dat God se Woord jou gewete bind aan die waarheid. 

“Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.” Hebreers 4:12 

Lourens (vdm)