In sy toespraak aan die ouderlinge op pad na Jerusalem, waar die apostel Paulus vir ‘n laaste keer groet, maak hy die opmerking dat Jesus gesê het: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang” 

Ons vind hierdie aanhaling egter nêrens in die Evangelies nie. Hierdie spreuk is ‘n oorlewering wat nooit opgeteken is nie. Die Bybel bevat ook nie ALLES wat ons Here Jesus gesê en gedoen het nie. Wat vir ons in die Bybel opgeteken is, is wat nodig is om te glo dat Jesus werklik die Christus, die Verlosser is, soos Johannes dit beskrywe “Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie; maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.” 

Ons bely in art. 7 van die NGB “Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie – ja, al was dit ook ‘n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê” (Gal. 1:8). 

Alles wat nodig is vir ons verlossing. ‘n Mens kry die indruk dat die Bybel net sê wat nodig is, dit sê nie ALLES nie. As ons die Bybel van hoek tot kant ken, het ons nog net die nodigste inligting, want ons kyk nou soos in ‘n spieël maar eendag sal ons alles ken en sien. (1Kor. 13:12) 

Johannes bevestig ook met die laaste woorde van die evangelie, dat as alles wat Jesus gesê en gedoen het, opgeskryf moes word soos ‘n joernaal, sal al die boeke van die wêreld nie genoeg spasie hê nie. 

Laat ons die kosbare skat van God se Woord nie vergeet of nalaat of onderskat nie, want daaruit is alles wat nodig is vir ons verlossing. Uit God se Woord leer ons Hom ken. Deur die kennis van God in ons harte, kan ons waarlik ons vreugde in Hom vind. 

Lourens (vdm)