Met die behandeling van die belydenis tydens die aanddiens, het ons die afgelope tyd veral geleer oor die betekenis van die Naam en die titel van ons Here Jesus. Hy is Jesus omdat Hy red, Hy is ons Verlosser, maar Hy is ook die Christus, die Gesalfde, wat ons laat deel in die salwing van die Heilige Gees. 

Hy is egter ook “ons Here”. Hy is die Een wat ons as eiendom koop. Hy is ons Meester en Heiland. Hy is die Middelaar, die tussenganger tussen God en mens. 

Ons vergeet soms so gou wat ons Here Jesus kom doen het, om na hierdie wêreld te kom, en as mens die vernedering van die kruis aan te durf. Omdat ons so bekend is met die Bybel en so goed weet waaroor die Bybel gaan, word ons soms afgestomp om die mooi dinge wat daarin staan raak te sien. Ons raak so besig om in die wêreld te oorleef, dat ons vergeet om te drink uit die fontein van lewe. 

Wanneer laas was jy opgewonde om jou stiltetyd te hou? Of om iemand te vertel wat jy leer ken het van God se Woord? 

Net soos liggaamlike fiksheid, moet ons geestelik fiks wees. Maar jy kan nie as jy onfiks is, dink jy gaan fiks word as jy op een dag 50 keer om die blok hardloop nie. Jy moet elke bietjie vir bietjie oefen. Jy oefen jou liggaam om gewoond te raak aan die oefening. So is dit ook in ons geestelike onfikse lewe. Moenie uitstel vir môre nie, begin vandag. Bietjie vir bietjie. Elke dag nader aan God. Elke dag toegewyd. 

“Vermy goddelose en dwase mites. Oefen jouself om godvresend te leef; want liggaamlike oefening is wel in ‘n geringe mate nuttig, maar godvresendheid is nuttig in alle opsigte. Dit hou belofte in vir die huidige én die toekomstige lewe. Dié uitspraak is betroubaar en werd om ten volle aanvaar te word. Want hiervoor werk ons hard en stry ons, omdat ons ons hoop geplaas het op die lewende God, wat die Verlosser van alle mense is, veral van die gelowiges.” 1 Timoteus 4:7-10 

Kom ons doen dit vir Jesus Christus, ons Here. 

Lourens (vdm)