Die lewe is aanbidding 

Ons maak baie graag die onderskeid tussen teorie en praktyk. Dit was egter nie van altyd af so nie. In die Griekse filosofie het theoria nie ten doel gehad om bloot feite te stipuleer nie, maar eerder die nadenke, die oordenking van die ware betekenis van die bestaan van die lewe. Dit het gesoek na die hoogste vorm van kennis en wysheid oor bestaan. 

Hiervoor is die woord filosofie gebruik. Dit is filos – liefde, en sofos – verhewe kennis of wysheid. Hierdie liefde vir die verhewe kennis was nie verwyder van die wyse waarop jy leef nie, inteendeel, jou filosofie het jou lewenswyse bepaal en beïnvloed. 

Daarteenoor was episteme, of bestaan nie die wetenskap of vasstel van iets wat jy doen los van jou theoria nie. Net soos ‘n musikant leef vir musiek, of ‘n wiskundige leef vir wiskunde, kan ons geloof nie losgemaak word van ons aanbidding van die enige ware God nie. 

Ons leef egter nie deur filosofie nie, want Christus self is die wysheid van God. In God se Woord vind ons die hoogste vorm van kennis en wysheid. Christus is die selfopenbaring van God se liefde, sodat ons Hom mag ken en in gemeenskap met Hom mag leef. 

Daarom kan ‘n Christen nie los van Christus leef as teorie en praktyk nie. Vir die Christen is Christus self die lewe. Hy word die Alfa en die Omega. Hy word die doel van jou bestaan en dit waarvoor jy leef. 

So word jou lewensfilosofie die wyse waarop jy jou wetenskap (lees beroep) beoefen. Dit is nie teorie en praktyk nie, maar eerder wysheid wat jy uitleef deur aanbidding in jou hele bestaan. 

Vandag vier ons die Nagmaal. Ons gedenk en glo dat Christus ons Bron en Doel is: Uit Hom en Deur Hom en Tot Hom is alle dinge. Hy versterk ons geloof en gee ons nuwe moed sodat ons kan volhard. 

Hy is ons Rots, die fondament, die Theoria, waarop ons lewe gebou word. Deur sy Woord kan ons nadink oor die ware betekenis van die lewe en dit uitleef as ‘n lewe van aanbidding – Vita est adoratio – die lewe is aanbidding! 

Lourens (vdm)