(Aramees: ABBA Grieks: Patēr)

’n Mens loop dikwels die uitdrukking “abba” raak in meer populêre geestelike geskrifte. Daarom is dit goed dat ons ’n slag dieper daarna kyk. Abba is die Aramese vorm van die Hebreeuse ‘ab’ en kom voor in die uitdrukkings ‘abi’ (“my vader”) en abba (“ons vader”). Ons vind dit ook in ’n titel, soos byvoorbeeld by rabbi’s, soos abba Gamaliël.

Volgens die woord abba se gebruiksgeskiedenis was dit oorspronklik net deel van ’n kindergebed. Die pa van die gesin sou dan aan sy kinders sê: Julle kan die aanspreekvorm Abba vir God gebruik solank julle nog kinders is, maar nie langer as julle volwassenes is nie, en dan feitlik uitsluitlik in kultiese en liturgiese verband van eredienste.

Volgens die Ou Testament kom abba baie min voor en is dit dan te verstane in die sin van die Hebreeuse ‘ab’ (vader). Dit is die vaderfiguur wat die familie konstitueer, die orde in die familie handhaaf, familielede beskerm en die taak het om hulle op te voed. Hy moet ook toesien dat die verbondsbepalinge nagekom word. Vir koning Dawid is God ’n Vader volgens 2 Sam 7:14: “Ek sal vir hom ’n Vader wees en hy sal vir My ’n seun wees.” God se Vaderskap van die skepping loop soos ’n goue draad deur die hele Ou Testament.

Die Nuwe Testament gebruik abba slegs drie keer, telkens in ’n noemenswaardige verband: een keer in die Markus-Evangelie en twee keer by Paulus in die briewe aan die Romeine en Galasiërs.

Gewoonlik word die Griekse woord vir Vader, patēr, gebruik, en nie Abba nie, maar in die beslissende en intense momente kry ons abba. Ons kan dus tot die gevolgtrekking kom dat Abba as aanspreekvorm vir God “gereserveer” is vir die besondere momente. Selfs wanneer Jesus aan sy dissipels se versoek voldoen om ’n eie gebed te hê, net soos die ander rabbi’s en hulle skole, gebruik Matt 6:9-13 en Luk 11:2-4 nie Abba nie, maar die gewone Patēr.

’n Mens sou dink dat Jesus aan sy groep dissipels die besondere toestemming sou gegee het en hulle selfs sou aanmoedig om Abba te gebruik. Trouens, Jesus sou later van laster beskuldig word omdat Hy God sy Vader noem. Dit bevestig net weer die vasgestelde gebruik dat die Jode uit respek vir God Abba vermy het. Wat wel uitstaan, is dat daar tussen Jesus wat Abba in sy lydensgebed gebruik en sy hemelse Vader ’n unieke verbintenis was. Dit herinner ons nogal aan die Griekse patria potestas wat die mag van ’n vader beklemtoon het in die tipiese Griekse familie.

In die Nuwe Testament kom die term vader (patēr) in ʼn godsdienstige sin 245 keer voor. God is die goeie Vader (Matt. 7:9-13) wat verstaanbaar net soos aardse vaders versorgend en beskermend optree. Hy is ook geestelike Vader (1 Kor. 4:14). Abba verskil wel deeglik van Patēr wat algemeen gebruik is. Die Evangelies (vgl. Markus) plaas Abba slegs in Jesus se intense oomblikke van lyding (vgl. Mark. 14:30) en die bedoeling is dat ons as Christene dit moet respekteer. God se vaderskap word wel in biologiese sin in die Ou Testament in Genesis 1:28 vermeld. Psalm 103:13 verklaar die volgende oor God se geestelike vaderskap: “Soos ’n vader hom ontferm oor kinders, ontferm die Here Hom oor die wat vir Hom ontsag het.”

’n Belangrike aspek van God se Vaderskap is die eskatologiese betekenis daarvan. Die Gees as eindtydse gawe van die Vader begelei gelowiges om deel te wees van die eindgebeure en God daarom met die grootste respek Abba te noem.

God is die Vader van die skepping (Ef. 3:14) en ook van die verlossing, deur sy Seun se kruisdood. Die natuurlike beeld van die vader in die Joodse en Christelike huishouding kom voor, maar eintlik is sy Vaderskap die oorsprong en onderhoud van die hele skepping. Sy Vaderskap het alle verskille tussen Jode en Grieke, tussen slawe en vryes en tussen man en vrou in die eindtydse perspektief geplaas (Gal 3). Deur Jesus het die Vader ’n nuwe geslagsregister van gelowiges as familie van die Vader begin. En dié register sluit aardse en hemelse familie in. God se Vaderskap, deur die intieme Abba te gebruik, bevestig sy koningsheerskappy vir tyd en ewigheid.

Daarom buig ons eerbiedig saam met Paulus in Efesiërs 3:14 “… voor die Vader van Wie elke geslag in die hemel en op aarde sy naam ontvang”.

Verkorte uittreksel: Die Kerkblad dd Okt 2018 – Prof Jan Du Rand