Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Etiket: Oordenking (Page 2 of 26)

Oordenking 12 Junie

Ons Roeping en Verkiesing!

Lees: 2 Petr 1:10-11
10 “Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie.
11 En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.”

In ons Skrifgedeelte merk ons ’n stygende lyn van dringendheid, waarmee Petrus skryf.
In verse 3-9 skryf Petrus van die deugde wat God aan ons, die gelowiges geskenk het.
Die geloofsketting en hoe ons ons geloof moet verryk en versterk.

Petrus waarsku ons nou, op hoe ’n wyse ons, ons verkiesing moet sien. Petrus skryf aan ons dat ons ons verkiesing moet vas maak. Ons moet deur ons lewe bewys dat God ons uitverkies het.

Dit moet ons met ywer doen. Ons moet dit haastig doen. Ons moet geen moeite ontsien om dit te doen nie. Ons lewe moet ‘n getuienis en ‘n bewys wees daarvan, dat God ons uitverkies het.
In ons Skrifgedeelte verleen Petrus ook verder krag aan sy bevel deurdat hy ons as broers aanspreek wat natuurlik ook die susters insluit. Broers dui hier op die intiemse geloofsband waarmee Petrus tot die gelowiges staan.

Die feit dat Petrus aan gelowiges skryf, hulle aanspreek as broers, en hulle beveel om te ywer om hulle verkiesing te bewys, dui op die besondere verhouding wat daar tussen die uitverkorenes en God bestaan. Uit genade alleen, sonder verdienste, Ja, selfs van voor ons geboorte af het God ons in sy ewige Raadsplan uitverkies.

Ons het dan ook ’n sekere heilsorde of verlossingsorde wat ons uit die Skrif bely:

  • Die eerste en belangrikste hiervan is ons uitverkiesing,
  • Daarna word ons geroep.

Ons lees in Rom 8:28-30:

28“En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy besluit of voorneme geroep is.
29Die wat Hy lank tevore verkies het, het hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê, van wie Hy die eerste is.
30Die wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep.
En die wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek.
En die wat Hy vrygesrpeek het, het Hy ook verheerlik.”

God het ons dus uit genade alleen uitverkies. Ons kan of kon niks doen om uitverkies te word nie. God het ons egter nie uitverkies en net so laat staan nie.
Nee, ons is uitverkiesing stel ook seker eise aan ons. Dit plaas ’n verantwoordelikheid van dankbaarheid en gehoorsaamheid op die uitverkorene. Ons as gelowiges moet ons verkiesing sigbaar in ons lewens laat uitkom. Dit moet sigbaar wees nie net vir ons mede-broeders en susters nie, maar ook vir onsself.
Prakties in ons lewens vandag, plaas hierdie bevel van Petrus ’n baie skerp oproep op elkeen van ons. Ons moet oppas om nie wêreldgelykvormig te word nie. Die aanslae van die wêreld is so fel en sondig, sonde word aan ons voorgehou asof dit alles maar reg is.

Die wêreld wil die christen al meer en meer dwing om wêreldgelykvormig te word en sodoende sy ywer om sy verkiesing te bewys af te plat.

Ons kan tog nie twee here dien nie, want ons sal of die een haat en die ander liefhê, of die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God en Mammon dien nie. Mat 6:24 Ons uitverkiesing plaas ’n verantwoordelikheid op ons wat ons moet nakom.

Dit bring ons by die tweede punt.

2 Ywer in die roeping deur Christus.

Vir die ware gelowige is dit nie net noodsaaklik nie, maar verpligtend om die roeping op te volg.

God roep die ware gelowige deur Jesus Christus. Ons word geroep om skoon en vlekkeloos te wees in God se teenwoordigheid.

Daar is egter ook ’n vals roeping. Ons lees in Mat 22:14 “Baie is geroep, maar min is uitverkies.” Genooides is nie vanselfsprekend ook uitverkorenes nie. ’n Vroom lewe alleen is ook nie noodwendig ’n bewys daarvan dat ’n persoon uitverkies is nie. Mense lei soms ’n vroom lewe om hulle-self daardeur te verheerlik. Hulle wil graag dat ander mense hulle vroomheid raaksien en daardeur wil hulle gerespekteer en geëer word. Ons hele lewe moet tog wees tot eer van God alleen.

In vers 5 lees ons dat jy jou geloof moet verryk. Dit is ’n baie interessante woord in die griekse taal.

Die oorspronklike betekenis van die woord was as volg:
In die ou Griekse teater of toneelwêreld het hulle welgestelde ryk persone gekry wat ’n opvoering geborg het. Hierdie borge was dan ook in kompetisie om te sien wie se opvoering die beste en die skouspelagtigste was. Daarvoor het hulle geen onkostes of uitgawes ontsien nie.
Hulle was soms in ’n titaniese stryd gewikkel gewees om te sien wie se geborgde vertoning die beste is.

Petrus gebruik dan nou ook hierdie woord om aan die gelowiges te skryf en aan hulle te verduidelik hoe hard hulle moet ywer om hulle roeping en verkiesing te bevestig.
Hulle moet geen moeite onkoste, tyd of ywer ontsien om hulle roeping te bevestig nie.

Kom ons wees dan ywerig in ons geloof, om ons roeping en verkiesing in Jesus Christus vas te maak.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 8 Junie

Ons geloofsketting!

Lees: 2 Petr 1:3-8
3 “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag.
4 Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het.
Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur.
5 En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis,
6 die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug,
7 die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.
8 As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken.”

Geloof is jou kosbaarste besitting. Geloof is die kosbaarste geskenk van God aan ons.
“Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien.” V3a
God het deur sy “krag” aan ons alles geskenk wat nodig is.
Daarom moet daar geloofs-groei by ons wees.

Ons geloof is soos ‘n ketting met sewe skakels. Op sy eie is ‘n ketting-skakel nutteloos, maar aanme-kaar is die ketting ‘n baie sterk gereedskapstuk. So is daar sewe skakels waarmee ons ons geloof moet versterk. Jou geloof moet verryk word met deugsaamheid..
• Deugsaamheid met kennis…
• Kennis met selfbeheersing
• Selfbeheersing met volharding
• Volharding met godsvrug
• Godsvrug met liefde onder mekaar
• Liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.

Ons kan hierdie sewe eienskappe in drie groepe opdeel:
• Eerstens die wat handel oor die karakter van ons geloof.
• Tweedens die wat handel oor die gesindheid van ons geloof.
• Derdens handel die wat handel oor intermenslike verhoudinge in die geloof.

Die karakter van ons geloof.

Deugsaamheid Deugsaamheid beteken om volkome in jou doel te slaag. Ons as christene se doel is om God te verheerlik. As ons dan God met ons hele lewe verheerlik slaag ons in ons doel.

Kennis Die betekenis van kennis hier is kennis wat toeneem. Kennis gaan nie net oor intellektuele kennis nie, maar dit gaan oor ’n verstaan van die Woord en die uitleef daarvan deur ’n intiem persoolike verhouding met God en met jou medemens.

Die Innerlike gesindheid van ons geloof.
Selfbeheersing Selfbeheersing gaan daaroor om die verkeerde wêreldse plesiere van die lewe, wat tot sonde lei te weerstaan.

Spr 16:32 “’n Geduldige mens het meer waarde as ‘n bedrewe vegter,
‘n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ’n stad inneem.”

Spr 25:28 “’n Stad sonder ‘n muur om hom te beskerm,
so weerloos is ‘n mens as hy nie selfbeheersig het nie.”

Volharding/lydsaamheid/geduld van ons geloof.

Jak 1:3,4 “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want soos julle weet as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet enduit volgehou word, sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”

Volharding is iets waaraan ’n gelowige biddend en in diepe afhanklikheid van God moet werk. Dit gebeur nie outomaties of kom vanself nie. Ons lees juis in Rom 5:3,4 “Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4 en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop;”

Godsvrug Hierdie woord beteken vrug te dra tot eer van God. Dit beteken om geloofsvrugte te dra. Iemand wat in die regte verhouding met God staan sal ook in die regte verhouding met sy naaste staan. Hy sal vrugte dra wat by die bekering pas. Dit gebeur met almal wat na die wil van God soek en dit biddend in geloof nastrewe.

Interpersoonlike verhoudinge in ons geloof.

Liefde onder mekaar / Broederliefde Petrus skryf juis in sy eerste brief, 1 Petr 1:22, dat die wedergebore kinders van God mekaar moet liefhê. 1 Petr 1:22 “Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê.”

Liefde vir alle mense / Naasteliefde Hierdie liefde is die agape liefde wat God bewys het teenoor alle sondaars toe Hy aan die kruis vir ons gesterf het. Dit is die liefde wat die Heilige Gees in ons harte uitstort as ons in die Gees wandel. Rom 5:5 “…God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”

Om mee af te sluit

Kom ons werp alles in die stryd om ons geloof te verryk.
Kom ons bid dat God ons sal seën, om met oorgawe en entoesiasme, die deugde by ons geloof te voeg.
Mag ons lewe so verryk word dat ons ‘n verdieping en ‘n verinniging in ons verhouding met ons Verbondsgod ervaar.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 5 Junie

Ons kosbaarste geskenk van God!

Lees: 2 Petr 1:1,2
1 “Van Simon Petrus, ‘n dienaar en apostel van Jesus Christus. Aan dié wat deur die regverdige
beskikking van ons God en Verlosser, Jesus Christus, dieselfde kosbare geloof as ons
ontvang het.
2 Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus
ons Here!”

Wat is jou kosbaarste geskenk in die lewe?
Wat is jou kosbaarste, veral geestelike besitting, in die lewe?

In 1 Pet 1:7 kry ons die antwoord: “Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan.”

Dit gaan natuurlik oor die inhoud van die geloof. Dit gaan oor dit wat ons glo. Geloof is so kosbaar en belangrik dat ons in die Heidelbergse Kategismus ‘n hele vraag daaraan afstaan.
Die vraag is ook nie net:
• Wat glo jy nie?
MAAR
• Wat is ‘n ware geloof?

Ons bely dan in Sondag 7 van die Heidelbergse Kategismus, vraag en antwoord 21:
“’n Ware geloof….
• Is nie alleen ‘n vasstaande kennis, waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het, vir waar aanvaar nie,
• Maar ook ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk
o Naamlik dat God nie net aan ander nie,
o maar ook aan my,

  • uit loutere genade,
  • slegs op grond van die verdienste van Christus,
  • vergewing van sondes,
  • ewige geregtigheid en
  • saligheid geskenk het. “

Ons as Nuwe Testamentiese gelowiges, as christene het dieselfde kosbare geloof as wat die apostels gehad het. Hulle het God gesien, gehoor en saam met Hom gewandel, 2000 jaar gelede en persoonlik al Sy wonderwerke en dade en onderwysing ervaar.
Ons het dieselfde kosbare geloof.

Die vraag is: Wat doen ons met hierdie kosbare geloof?
Dit is nie net ‘n geskenk wat ons ontvang het en nou kan ons maar daarmee maak en doen wat ons wil nie.
Dit is nie ‘n geskenk wat ons in ons harte moet bêre en daarvan vergeet nie.
Hierdie is ‘n geskenk wat ons moet gebruik en uitbou tot eer van God en tot opbou van ons geloof.

Petrus roep ons op om hierdie geloof te gebruik. 2 Pet 1:5-8
5 En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met
deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis,
6 die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met
godsvrug,
7 die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.
8 As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus
Christus beter leer ken.”

Volgende keer DV gaan ons kyk na die geloofsketting, na elke skakel wat God van ons verwag hoe Hy wil hê ons moet lewe.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 1 Junie

Vervulling met die Heilige Gees!

Lees: Joh 14v15,16,17
15 “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.
16 Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te
wees,
17 naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom
nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”

Bron Kruger GS Julie 27 2018 Gereformeerde kerk Centurion.

Hoe word jy vervul me die Heilige Gees?
Wat beteken dit om vervul te wees met die Heilige Gees?

“In die Nuwe Testament word daar nêrens aan die mense die eis gestel: word wedergebore of word met die Heilige Gees gedoop nie. Maar wel verneem ons telkens met betrekking tot die Heilige Gees ’n hele aantal bevele:
• “word vervul met die Gees” (Ef 5:18);
• “wandel deur die Gees” (Gal 5:16);
• “as julle deur die Gees gelei word” (Gal 5:18, voorwaardelik gestel);
• “wees heilig” (1 Petr 1:16).” (Floor.1979:116)

God gee in Christus, uit vrye genade, aan al Sy kinders, sy lewendmakende Heilige Gees. Jesus Christus het ook aan ons geleer in Joh 14:16,17, “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17) die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”

Ons moet onderskei tussen die “inwoning” en “vervulling” van die Heilige Gees. Die Heilige Gees word aan al God se kinders gegee, (Ef 1:13) die oomblik van wedergeboorte, sodat hulle kan glo. Niemand kan uit eie inisiatief in God glo en die verlossing verkry as God dit nie aan jou gee of dit aan jou openbaar nie. (Gal 3:2) Daarom bly die Heilige Gees in al God se kinders.
Maar omdat ons die Gees ontvang het, die kosbare heilige geloof, moet ons ook groei in die geloof, in kennis en vertroue, Gal 3:2.

Daarom moet ons ook biddend die Bybel lees, en doelbewus van die sonde wegvlug en ons volmaak met die sake van God. In Psalm 19:14 leer ons: “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!”

Om daarom met die Heilige Gees vervul te word, beteken dat ons elke dag biddend ons sondes moet bely, wegvlug van die sonde af, en in gehoorsaamheid ons aan God toewy in gedagtes, woorde en werke. Dan het die Gees ’n vrye werking in ons om ons te lei. Sodoende word ons ook elke dag deur God se genade gelei om ’n al heiliger lewe te lei en meer en meer met die Heilige Gees vervul te word.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 29 Mei

Pinkster!

Lees: Hand 2:1-13 veral 1-4
1 “Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar.
2 Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek
gevul waar hulle gesit het.
3 Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het.
4 Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit
aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.”

“Die Pinsterfees, (die uitstorting van die Heilige Gees), is 50 dae na die Paasfees, die kruisiging van ons Here Jesus Christus, gevier.
Jesus is met die Paasfees gekruisig en het volgens die boek Handelinge, 40 dae later na die Hemel opgevaar.
Die Heilige Gees is 50 dae na die Kruisiging en 10 dae na sy Hemelvaart oor die gelowiges uitgestort. ”
(Bybel in Praktyk. 1993:1651)
• Het jy al gebid om vervul te word met die Heilige Gees?
• Is die Uitstorting van die Heilige Gees en die vervulling van die Heilige Gees dieselfde saak?

Die mees prominenste Persoon, Persoon hier met ‘n hoofletter, in die boek Handelinge is, die Heilige Gees. Die Heilige Gees word ongeveer 90 keer in die boek Handelinge genoem. Dit beteken tog baie duidelik dat die Heilige Gees, self God, die derde Persoon van die Goddelike Drie-eenheid, ‘n baie belangrike rol vervul, of werking het in die gelowige se lewe.

Ons belydenis-skrifte is ook baie duidelik wat ons bely oor die Heilige Gees.
• Wie Hy is!
• Watter werk Hy doen …vir en in die gelowiges!

NGB – Artikel 11
DIE GODHEID VAN DIE HEILIGE GEES
Ons glo en bely ook
• dat die Heilige Gees van ewigheid van die Vader en die Seun uitgaan;
• dat Hy nie gemaak of geskep of gebore is nie, maar van albei slegs uitgaan;
• dat Hy in orde die derde Persoon van die Drie-eenheid is;
• dat Hy van een en dieselfde wese, majesteit en heerlikheid as die Vader en die Seun is;
• dat Hy inderdaad ware en ewige God is, soos die Heilige Skrif ons leer.

Maar waar kom Pinksterfees vandaan?

Die griekse woord vir Pinkster is – πεντηκοστή – pentēkostē. Dit beteken vyftig.
Die eerste plek waar ons van die Profetiese voorspelling van Pinksterfees lees is in Lev 23:15-17

15) “Van die dag ná die sabbat af, die dag waarop julle die are as beweegoffer vir die Here aanbied, moet julle sewe volle weke tel.
16) Die dag ná die sewende sabbat, op die vyftigste dag, moet julle vir die Here ‘n graanoffer bring uit die pas geoeste graan.
17) Elke gesin moet twee brode vir ‘n beweegoffer na die heiligdom toe bring. Dit moet van drie kilogram meel met suurdeeg gebak wees en is ‘n gawe aan die Here uit die eerste opbrengs van die oes.”

Jesus Christus openbaar Homself in Joh 6:35: “Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.”

In Hand 2:5-11 lees ons met die uitstorting van die Heilige Gees dat daar ten minste 15-17 groepe mense of kulture bymekaar was wat in hul eie taal die evangelie gehoor het.
• God het die Heilige Gees laat uitstort oor uitverkorenes uit alle volke tale en nasies.
• Ons opdrag is om die evangelie uit te dra.

Die Christelike pinksterfees is dus op die dag waarop die Ou Testamentiese pinksterfees gevier is, vervul.
Die 50 dae tussen die beweegoffer van die eersteling-gerf en die pinksterfees het aan die begin van die Nuwe Testament tussen die opstanding van Jesus en die uitstorting van die Heilige Gees verloop.
Ná die Sondag van Jesus se opstanding
• het 40 dae tot by sy hemelvaart verloop (Hand. 1:2-3), en
• ‘n verdere tien dae tot by die uitstorting van die Heilige Gees.
Ná die Donderdag van die hemelvaart het die dissipels hulleself tien dae lank in die bovertrek verootmoedig en gebid om die belofte van die Heilige Gees te ontvang.
Op die dag ná die sewende sabbat sedert paasnaweek is die Heilige Gees oor hulle uitgestort.

Bid dat jy elke dag met die Gees vervul sal word en dat die Heilige Gees jou elke dag sal lei!

Hierdie volmaakte tydsberekening vir die uitstorting van die Heilige Gees dui onmiskenbaar daarop dat…
• die bedeling van genade,
• wat ook die bedeling van die kerk of
• die bedeling van die Heilige Gees genoem word,
• die bedeling van die wet in God se raadsplan vir die mens vervang het.

Wat leer dit ons vandag?

Daarom bid ons nie meer vir die uitstorting van die Heilige Gees nie.
Ons moet daagliks bid om met die Heilige Gees vervul te word.

Toepassing

Ek moet my ou, vleeslike natuur afsterf en saam met Christus in ‘n nuwe lewe opgewek word.
Ek moet met die nuwe mens beklee word wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.
• Net die Heilige Gees kan my met die opstandingslewe van Christus beklee.

Dit is waarop die dissipels in daardie tien dae tussen die hemelvaart van Christus en die uitstorting van die Heilige Gees gewag het.

Verootmoedig jouself dan in hierdie tyd voor die Here.
Vertrou Hom vir volkome verlossing.
Verklaar jouself opnuut bereid om leeggemaak te word, sodat sy Gees jou lewe vervul.
Kom ons vertrou en bid tot die Here om …
• ons met sy Gees te vul en
• ons met sy Gees te lei, elke dag van ons lewens.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 25 Mei

‘n Seën van vrede vir almal wat in Christus is!

Lees: 1 Petr 5:12-14
12 “Silvanus, wat na my mening ‘n getroue broer is, het vir my hierdie kort briefie aan julle op skrif gestel. Ek het geskrywe om julle te bemoedig en julle te verseker dat hierdie dinge die ware genade van God is. Staan hierin vas!
13 Die gemeente in Babilon, ‘n uitverkore gemeente net soos julle, asook Markus, my seun, stuur vir julle groete.
14 Groet mekaar met ‘n soen van Christelike liefde. Vrede vir julle almal wat in Christus is!”

Petrus sluit hierdie eerste brief af met groeteboodskappe en in vers 14:
“Groet mekaar met ‘n soen van Christelike liefde.”
Ons lees op ten miste vier plekke in die Nuwe Testament dat ons mekaar met ‘n christelik kus of soen, moet groet. Rom 16:15; 1 Kor 16:20; 2 Kor 13:12; 1 Tess 5:26;

Rom 16:15 “Groet mekaar met ’n heilige soen…” Paulus

Hierdie is nie ‘n opdrag wat beteken dat ons mekaar vandag nog so moet soen nie. Nee dit was die manier van groet in daardie tyd. ‘n Man het ‘n ander man op die wang gesoen. ‘n Vrou het ‘n ander vrou op die wang gesoen. Dit was ‘n standaard manier van groet in daardie deel van die wêreld, in daardie tyd spesifiek.
• In die ooste groete hulle mekaar met ‘n buiging.
• In die weste groete ons mekaar met ‘n handdruk.
Maar Paulus veral praat van: “soen mekaar met ‘n heilige soen of kus”.
Heilig dui juis daarop dat dit geen ander bedoeling het as ‘n afgesonderde gebruik, tussen christene, wat mekaar erken en liefhet in Jesus Christus nie.

Kan ons onsself indink hoe dit moes wees as ‘n slaaf sy eienaar met ‘n heilige kus gegroet het, want alhoewel die verhouding steeds slaaf en eienaar is, is hulle nou ook broers in ons Here Jesus Christus.

Maar dan sluit Petrus hierdie brief af met ‘n seënspreek:

“Vrede vir julle almal, wat in Christus is.”

Petrus sluit die brief af met sekerlik die grootste en belangrikste en betekeniswaardigste wens.
• Genade vir julle en vrede word vermenigvuldig.
• Die seëninge wat vir hulle verlang word, is genade en vrede.
Genade. Die vrye guns van God, met al sy behoorlike uitwerking, vergifnis, genesing, bystand
en redding.
Vrede. Allerhande vrede mag hier beoog word, huislike, burgerlike, kerklike vrede in die kerk
en geestelike vrede met God, met die sekerheid wat vrede bring.

So word afgesluit met ‘n seënwens, wat hy beperk tot diegene wat in Christus Jesus is, met hom verenig deur geloof en gesonde lede van sy liggaam, die kerk is.

Amen, in teken van sy ernstige begeerte en ongetwyfelde verwagting dat die seën van vrede die deel van al die gelowiges sou wees.

So het ons ook hierdie brief, die Eerste brief van Petrus dan vir die afgelope vier maande bestudeer.
• Mag God ons almal se lewens verryk met Sy Genade en Vrede en Liefde.
• Mag God elkeen van julle seën met ryklike seëninge daar waar julle is.
• Mag julle God se liefde ontvang, dit uitleef in julle lewens en mag ons die lyding wat ons nou moet verduur met geduld en liefde ervaar, want ons weet, ons Burgerskap is in die hemel waar alles nuut en volmaak en ten volle in vrede sal wees.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

« Older posts Newer posts »