Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 28 of 330

Vyftig jaar – ‘n Spikkel van die ewigheid

Skriflesing: 2 Kronieke 35; Johannes 8 (1983) 
Teksvers: Joh 8:57,58 

Die Hollanders het ‘n spreekwoord wat lui dat wanneer jy 50 jaar oud word “het jy Abraham gesien“. 

Ons kyk vandag terug op vyftig jaar van genade uit die hand van die ewige God en Vader van ons Here Jesus Christus. 

Soli Deo Gloria!! 

JUBEL WANT GOD HEERS AS KONING

“Hoe lieflik op die berge is die voete van ‘n boodskapper van vreugde, een wat vrede verkondig, wat ‘n goeie boodskap bring, wat verlossing verkondig, wat vir Sion sê: “Jou God heers as Koning!” (Jesaja 52:7) 

Luister hoe Jesus Christus deur sy boodskappers die goeie boodskap van vreugde, vrede en verlossing aan Sy kerk bring en verklaar: “Jou God heers as Koning”. 

Deur die soenverdienste van Jesus Christus, wat vir ons sonde aan die kruis betaal het, het God aan ons vreugde geskenk. Hiervan ís die Nagmaal wat ons vandag vier die verbondsteken. Ons jubel in vreugde tot eer van God oor hierdie liefdesboodskap uit die hemel: Wie in Hom glo, is verlos, en die hoogtepunt: God regeer as Koning

“Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.” (Rom. 13:36) 

Vandag vier ons met vreugde en dankbaarheid die gemeente se stigting op 1 Junie 1975 soos God dit in Sy wil vir ons gegee het. 

Daarom gemeente van Centurion: jubel voor die Here! 

“Sing vir die Here ’n nuwe lied, sing vir die Here, o ganse aarde! Sing vir die Here prys sy naam.” (Ps. 96:1) 

Ons hartlike dank aan Jan en Isabel Nel en die Feeskomitee vir ure se beplanning en organisering om vir ons ‘n lieflike fees te reël. Dae lank hou ons kinderpartytjie, gesellige kuier, fynproewer-ete, koek-en-tee en sluit die fees af met lofprysing. Ons jubel want ons God heers as Koning! 

Kom vier dan fees in vreugde met ‘n ewigheidsperspektief… trek jou mooiste feesklere aan, doen rein dade, …want God heers as Koning

Oudl Pieter Wolmarans 

‘n Geknakte Riet en Dowwe Lamppit

Skriflesing: Jesaja 42:1-13 (2020)
Teksvers: Jesaja 42:3

Die koms van die koninkryk is deur die Dienskneg van God. Hy kom nie met geweld en groot geraas nie, maar stil en nederig. 

Tog is die Dienskneg wat kom, wat die herstel van God se koninkryk bewerk, nie swak nie, al is Hy nederig. Hy is bekwaam, die Een op die Wie die Gees van God rus, maar ook een wat saggies met sterk hande sy kosbare en gebroke skepping herstel. 

‘n Geknakte riet, sal Hy nie breek nie, ‘n dowwe lamppit sal Hy nie uitdoof nie. 

‘n Herstelde verhouding met Jesus

Skriflesing: Matteus 11 (2020)
Teksvers: Matteus 11:28

Terwyl ons nou die langverwagte Feesnaweek nader en ook ons voorberei om saam die heilige Nagmaal te vier, is dit nodig om na te dink oor ons verhouding met ons Verlosser. 

Een van die moontlike slaggate in ons gereformeerdes se geloofmondering is dat ons baie (dalk té) rasioneel oor die Bybel en oor ons Here kan dink. 

Miskien moet ons net weer vra waar ons harte in hierdie verhouding inkom. Miskien gaan dit juis oor hoe ons oor Jesus Christus dink. 

God sorg vir ons, maar…

“Julle is meer werd as baie mossies.” 

Die bekende gedeelte van Christus wat ons in Matteus 10:31 lees sê dat ons vir God meer belangrik is as al die diere op die aarde. Maar beteken dit ons het geen verantwoordelikheid hier op aarde het nie? Kan ons maar net agteroor sit en God sal sorg? Natuurlik nie. God gee vir ons die opdrag van werk in verskeie dele van die Bybel: Genesis 1:28; Genesis 3:19 asook in Handelinge 20:35 (1983) waar Paulus sê – “Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help…” is maar enkele voorbeelde hiervan. 

Nou kom die vraag op, hoe hard moet ek werk en en mag ek myself verryk? In die 10de gebod sê God aan ons, ons mag nie begeer nie, maar ook lees ons in Spreuke 10:4 (1953) “Hy word arm wat met ’n trae hand werk, maar die hand van die vlytiges maak ryk.”; en in Lukas 19:11-27 (1953) die bekende gelykenis van die goue munte en waar die heer aan sy diensknegte se “…Dryf handel daarmee totdat ek terugkom.” 

Dit is belangrik om te verstaan dat God nie ʼn ryk man haat nie, maar wel as geld in ons lewe God se plek inneem, en ons geld méér lief het as vir God. “Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.” (1 Tim 6:10). 

Dus kan ons saamvat deur te sê: God haat luiheid. Hy het immers aan ons talente gegee en om te gebruik. Daardeur kan ons die Gewer verheerlik. Ons word getaak om ons gawes tot die beste van ons vermoë te gebruik. Welvaart moet net nie ʼn afgod raak nie. 

Deel mee aan die wyse, en hy sal nog wyser word, leer die regverdige, en hy sal insig vermeerder.” Spreuke 9:9 (1953) 

Oudl André Pretorius 

« Older posts Newer posts »