Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 33 of 184)

Ons heiligmaking is nie goedkoop nie

Skriflesing: 2 Korintiërs 11 (2020)
Teksvers: 2 Korintiërs 11:1,2

Onder die oorhoofse jaartema van die Nuwe Lewe van die Christen (2 Kor 5:17) gaan dit vandag oor die heiligmaking. 

Die regverdigmaking (betaling van Jesus vir ons sonde) was gratis maar nie goedkoop nie. So is ook die heiliging of heiligmaking iets wat nogal baie vra. Die Here laat daarom geen steen onaangeroerd om die heiligmaking te bewerk nie. 

Ons bekyk vandag hoeveel dit kos om jou en my en ons as sy gemeente so te heilig dat ons gereed is “soos ‘n maagdelike bruid wat vir haar Man versier is“. 

Vrede van God wanneer jy, gestroop vanjou steunpilare, weerloos is

Skriflesing: Psalm 3 (2020)
Teksvers: Psalm 3: 4

Weerloos, gestroop van jou steunpilare

Ons besef nie altyd hoe wankelrig die pilare is waarop ons in hierdie lewe steun nie.

Dawid het hierdie intuimeling van sy steunpilare intens beleef. Sy eie seun het die harte van mense gewen en ‘n opstand teen Dawid gelei. Dawid moes uit die stad vlug.

Om gestroop en weerloos steeds te sien

As gelowige sien ek:

  • die Here as my skild
  • die Here as my heerlikheid
  • die Here as die Een wat my hoof optel!

God skiet lugkastele plat

Skriflesing: 2 Korintiërs 10:1-18 (2020)
Teksvers: 2 Korintiërs 10:5

Die wonderlike geskenk van Christus se verlossing deur God se genade, maak ons harte blymoedig om self uit genade te kan leef. Tog bou ons forte om ons hart, ons bou vreeslike mure en skanse wat hierdie onuitspreeklike genadegawe met valse kennis en self uitgedinkte lugkastele omring en besoedel.

Christus wat ons so duur gekoop het, moet nou sy eie eiendom oortuig en ons harte wen uit die mag van die sonde! Ja, so veg die Koning sy weg oop na ons siele deur ons self-uitgedinkte lugkastele plat te skiet met sy kragtige wapens. Die stryd om jou gedagtes is ‘n gewetens-oorlog.

Voer dan oorlog, met die wapens wat God gee, en neem jou oorlogsgevangenes, jou denke in ballingskap onder die gesag van die Koning van jou hart.

DIE SESDE GEBOD:LIEFDELOOSHEID IS MOORD

Skriflesing: Genesis 4; Heb 12:24; Ef 4:26
Teksvers: Genesis 4:6-9
HK: Sondag 40

Die geweld van moord en doodslag het deel van ons alledaagse lewe geword. Padwoede en motorkapings, plaasmoorde en gesinsgeweld, dreigemente en wraakgedagtes, gewapende roof en nog veel meer is so alledaags dat ons byna gewoond geraak het daaraan. Maar dit is alles tekens dat die een die ander nie meer die lewe gun nie. Dit lei maklik ook tot ‘n selfsugtige soeke na eie bestaan selfs al is dit ten koste van die ander.

Die sesde gebod roep na nuwe harte, wat aangevuur word deur die liefde van Christus wat sy lewe opoffer vir ons as sondaars. Want die liefde verdra en glo en hoop. Dit is die liefde wat deur die geloof tot dade oorgaan!
Waar is jou broer? Waar is jou suster? Is jy ook jou broer se wagter?

Wees oorvloedig in goeie werke

Skriflesing: 2 Korintiërs 9:1-15 (2020)
Teksvers: 2 Korintiërs 9:9-11

In baie opsigte word geluk vandag bepaal deur dit wat jy ontvang. Mense oor die algemeen is onder die indruk dat besittings, geld en goed ‘n mens sal gelukkig maak. In hierdie hoofstuk leer die Heilige Gees ons deur die apostel, dat dit inderwaarheid die teendeel is. Om te gee bring vreugde. Soos Jesus ook eenmaal sou opmerk: Dit is saliger om te gee as om te ontvang.

Soos ons verlede week uit hoofstuk 8 gehoor het, gaan dit oor die gesindheid waarmee gegee word, baie meer as die hoeveelheid. So was daar reeds in die eerste brief melding gemaak van ‘n kollekte vir die gelowiges in Jerusalem. Paulus het geroem oor die Korintiërs se vrygewigheid al het hulle nie baie nie. Nou kom hy die kollekte haal en stuur Titus vooruit sodat hulle nie onverhoeds betrap word nie. Ons staan vanoggend stil by die gevolge van ‘n gesindheid van seën met die aansporing dat hulle oorvloedig sal wees in goeie werke.

Voorvaders voor die Vader

Skriflesing: Matteus 15:1-20 (2020)
Teksvers: Matteus 15:7-8
HK: Sondag 39

Eer jou vader en moeder. Hierdie is nie onbekende, vreemde woorde nie. Tog is daar soms misverstand oor wat die gebod werklik bedoel. Sommige mense haak vas by outoriteit, veral die owerheid. Hierdie gebod is gegee bykans 400 jaar voordat daar ‘n koning in Israel of owerheid was. Die fokus lê by VADER en MOEDER. Die huisgesin is hier in die oog, nie die regering nie. Ouers moet eerwaardig optree en hulle kinders leer om met eerbied en ontsag veral vir God te leef . 

Ons kyk vanaand na Jesus se optrede as daar ‘n afvaardiging uit Jerusalem opdaag om sy werk te ondersoek. Volgens hierdie geselskap is daar geen ontsag of eerbied vir die voorvaderlike gebruike nie, maar Jesus leer ons ook die voorvaders staan voor die Vader. 

« Older posts Newer posts »