Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 143 of 192)

Die groot verrassing wat op ons wag!

Skriflesing: 1 Petrus 1:1-15
Teksvers: 2 Petrus 1:11

Hoe ouer ek word hoe meer dringend vind ek dit dat jy jou Doop sal verstaan en onthou. Alhoewel die Doop geen saligmakende kragte het nie (soos Roomse sou beweer), vind ek dit tog van die grootste trooswaarde dat jy onthou dat God Homself aan jou verbind het en dit in die waterteken van die Doop beseël en bekragtig het. Dit is God se verbondstrou! Dit is iets wat jy jou hele lewe lank moet onthou en vashou! Dit gee krag en sekerheid en hoop.

Dit is egter ook so dat die Doop twee kante het en dat die dwaling van sakramentalisme eintlik net die een kant onthou en die ander baie belangrike kant vergeet!

Petrus wat in sy tweede brief die Gnostisisme aanpak wys weer daarop dat die Doop jou oproep tot verbondstrou van jou kant. Daarsonder sal ons God nie sien nie! Kom ons dink vanmôre weer na oor wat die Doop van ons verwag en wat dán op ons wag…’n groot verrassing!

Laai af

Die HERE is vrede en nie teespoed nie

Skriflesing: Rigters 6:1-7; 7
Teksvers: Rigters 6:13 en 23

Magteloosheid lei tot ‘n gevoel van betekenisloosheid. Omdat Gideon voel dat hy niks aan sy omstandighede kan doen nie, voel hy ook nikswerd. Hy voel dat die Here sy kinders vergeet en in die steek gelaat het… Maar dan verander alles… Die Here roep en stuur Gideon met ‘n besondere opdrag!

Soms voel ons ook soos Gideon, en soos Moses, dat ons die genade van die Here nie waardig is nie. Soms tref die lewe so hard dat ons nie eintlik meer kans sien nie. Dan wil ons eerder moed opgee en van die Here vergeet.

Die Here is egter getrou aan sy verbondsbeloftes. Hy wil ons red, Hy wil uitkoms gee. Dit is ook die teken van sy verbond by die doop. Die water is ‘n teken van God se getrouheid in sy verlossing. Ons kan alleen maar in die geloof daaraan vasgryp.

So bring die Here vrede en nie teëspoed nie.

Laai af

Die volkome troos vir God se kinders!

Skriflesing: 1 Kor 2:6-16; 1 Kor 15:35-58
Teksvers: 1 Kor 2:9; 1 Kor 15:36-38,55
HK: Sondag 22: Vraag en antwoord 57,58

Drie maal in die kategismus begin die vrae met die troos.

Vr. 1 Wat is jou enigste TROOS in lewe en sterwe?
Vr. 57 Watter TROOS gee die opstanding van die liggaam aan jou?
Vr. 58 Watter TROOS skep jy uit die artikel van die ewige lewe?

Wat beteken troos? Troos is om iemand wat hartseer is op te beur, moed te gee, te bemoedig, probeer om die verdriet draagliker te maak, om weer hoop vir die toekoms te verkry, om die swaar kry te bowe te kan kom, om weer met vreugde en blydskap te kan lewe? Daarom is die grootste Trooster wat ons het die Heilige Gees wat deur die Woord in ons harte werk. Die Heilige Gees versterk en bemoedig en bekragtig ons met die blye evangelie, met die vaste wete dat in Jesus Christus het ons niks op aarde of hierna te vrees nie. Ons gaan na drie sake kyk:

  • Die troos wat met my siel gebeur as ek sterf!
  • Die troos wat met my liggaam gebeur as ek sterf!
  • Die troos van die ewige lewe!

Laai af

« Older posts Newer posts »