Kategorie: Preke (Page 141 of 192)
Skriflesing:Jes 55
Teksvers: Jes 55:1,2,10,11
HK: Sondag 25
Elke kind van God, sal in sy lewe, besef dat hy/sy dors is. Maar hierdie dors is meer as net ‘n natuurlike dors na water, hierdie is ‘n dors na werklike vertroosting. Dit is die dors na iets wat meer blywend is as net die tydelike verligting van die fisiese dors. Daarom hierdie baie bekende oproep in ons teksverse dat almal wat dors is na God toe moet gaan om hulle dors te les.
Ons gaan na drie sake kyk:
- Die Heilige Gees BEWERK die geloof deur die Woord.
- Die Heilige Gees VERSTERK die geloof deur die Sakramente.
- Die Heilige Gees SKENK die geloof deur die Wedergeboorte.
Skriflesing: Rigters 13:1-5; 14:1-4 en 15:1-16:4
Teksvers: Rigters 15: 17-19
Die verhaal van Simson begin by die sonde van Israel. Toe die kinders van Israel weer doen wat verkeerd was in die oë van die HERE, het die HERE hulle oorgegee in die hand van die Filistyne, veertig jaar lank… (13:1). En steeds bekeer die volk hulle nie tot die HERE nie.
Na die optrede van Gideon wat die volk bevry het van die Midianiete, het hulle weer verval in sonde. Hulle het weer dieselfde sonde gepleeg deur met die onderlinge volke te ondertrou en hulle nie te verdryf nie. Daar was na Gideon nog 6 ander Rigters wat opgetree het, en die volk gerig het. Maar soos die tyd van die Rigters bekend staan, het elkeen weer gedoen wat goed is in hulle eie oë…
Die HERE is egter nie te vrede met die haglike geestelike en sosiale toestand van die verbondsvolk nie. Hulle is juis uit Egipte bevry van onderdrukking sodat hulle in vreugde kan leef om God te dien. Dit is asof hulle te vrede is om in ongelukkigheid terug te verval, om oorheers te word, om weer slawe te word.
Om hierdie bevryding te bewerk stuur die HERE vir Simson, met buitengewone krag om sy volk uit te red. Ons staan vandag stil by kakebeenshoogte: die plek wat roep om verlossing.