Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Psalms (Page 4 of 13)

Die liturgie: Geseënd oppad! 

Skriflesing: Ps 134 (1983); I Kron 9:33 en 23:30; Num 6:22-27
Teksvers: Psalm 134

Ons sluit vandag die reeksprediking oor die Liturgie van ons Eredienste af met die die laaste moment voordat ons weer oppad is huistoe: Ons gaan geseënd hiervandaan

Reeds vroeg in die die Bybel lees ons dat die Here die opdrag aan Aäron gee om as priester die volk namens God self te seën (Num 6:22-27). Die geroepe en bevestigde dienaars van die Here het dus die groot voorreg en verantwoordelikheid om dit gereeld te doen. So stuur die liturgie ons elke Sondag weg onder die seënende hand van die Here. 

Dit is dus nodig dat u weer die praktyk om op hierdie stadium van die liturgie u oë biddend te sluit sal heroorweeg. Die priester-leraar staan voor u met sy hande omhoog en spreek die seën oor u uit in die Naam van die Almagtige en Drie-Enige God van die hemel en aarde. Dit is nie ‘n gebed nie. U is dus veronderstel om aan hierdie simboliese handeling deel te neem deur op te kyk en die seën te ontvang. (Hier is geen voorskrif nie, maar miskien moet u hierdie wonderlike oomblik van ons liturgie net weer ernstig oordink ). 

Jesus drink die oordeelsbeker uit die hand van sy Vader 

Skriflesing: Psalm 75:1-11; Matteus 27:32-52 (2020)
Teksvers: Psalm 75:9
HK: Sondag 15-16

Die lyding van ons Here Jesus Christus is iets wat baie moeilik in woorde beskryf kan word. Tog is sy hele lewe een groot lyding. Van sy menswording en deur sy aardse omwandeling tot aan die kruis.

Hierdie lyding word ook in die Skrif aan ons verduidelik by wyse van ‘n beeld. Die beker van God se oordeel.

Ons gaan vanaand stilstaan by Psalm 75 waar die oordeelsbeker van God beskryf word met die oog op Christus se lyding.

Die Liturgie: Die Votum 

Skriflesing: Psalm 124 (2020); Romeine 8:31-34
Teksvers: Psalm 124:8 (2020)

Ons begin vandag met ‘n reeks preke oor die liturgie wat tydens eredienste in die gerefomeerde kerke gebruik word. Alhoewel die liturgiese orde sinodaal vasgestel word, is die bedoeling geensins dat dit elke Sondag identies hoef te wees nie. Die vryheid word aan die liturg oorgelaat en aanpassings in die orde mag selfs help dat alles nie net stereotiep (en dalk effe doods) raak nie.

Die erediens neem sy aanvang met die uitspreek van die VOTUM. ‘n Latynse word wat dui op ‘n verklaring aan die begin van die samekoms. Letterlik beteken die Latynse woordjie “votum” iets soos verklaring, begeerte, gebed of verlange. Met hierdie kort verklaring verlang ons die teenwoordigheid van die Here en konstitueer ons die heilige samekoms in sy Naam.

Koester kinders as geskenk van God!

Skriflesing: Psalm 127; Psalm 128
Teksvers: Ps 127:3,4; Ps 128:3,4,6

Nie alle mense het die voorreg om te trou nie. Nie alle getroude pare het die voorreg om kinders van God te ontvang nie. Maar almal wat getroud is en kinders het en alle volwassenes moet God se kinders waardeer, vir hulle ’n voorbeeld wees van christen-skap, vir hulle bid, hulle bewaar en beskerm as ge-skenke van God. Onthou wat Jesus Christus self gesê het in Mat 18 ivm die kindertjies. Kinders is geskenke van God en moet opgevoed word tot eer van God.

Hy wat reg lewe sal gered word!

Skriflesing: Psalm 50 
Teksvers: Ps 50:21-23 

Dit is so maklik om met die mond God te vereer, maar met gedagtes, woorde en werke doen jy anders. Dit is so maklik om die regte dinge te doen, maar hoe is jou werklike gesindheid. 

Dit is so maklik om jouself, die wêreld om die bos te lei, maar vir God kan jy nooit iets wegsteek nie. Daarom die ernstige waarskuwing in die Psalm om in opregtheid voor God te lewe. Dan sal daar vir jou redding wees. 

Opregtheid en eerlikheid is wat God van ons vra. 

Dien die Here met blydskap, as gemeente saam!

Skriflesing: Psalm 100
Teksvers: Psalm 100:4-5

Juig, dien, blydskap, jubel, dankliedere, lofsange, prys sy Naam!
’n Dankpsalm. ’n Psalm by uitstek wat tot eer van God gesing word.

’n Psalm wat die verbond so pragtig bekragtig en verduidelik. ’n Psalm vir die gemeente by die aanvang van die nuwe jaar.

Ons gaan na drie sake kyk:

  • Juig tot eer van die Here.
  • Erken die Here.
  • Dien die Here as gemeente saam.
« Older posts Newer posts »