Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Ou Testament (Page 19 of 66)

Vorm en inhoud

Skriflesing: Genesis 49 (1953); Jesaja 8: 23
Teksvers: Genesis 49: 21

Ons staan stil by die seënspreuk van Jakob oor sy twaalf seuns. Jakob is hier op sy sterfbed en spreek profeties die seën uit oor wat met die nageslag gaan gebeur. Op hierdie stadium het Jakob immers homself reeds bekeer van sy jeugdige sondes en kan hy nou ten volle gehoorsaam aan die Here net uitspreek wat God wil. 

Daar is egter die groot hartseer dat sy seënspreuke ook straf uitdeel en ernstige waarskuwings gee. Wie daarna luister sal egter ook by die evangelie van genade sal uitkom. 

Geen wonder dat Jakob in die middel van sy spreuke bid: 

Op u verlossing wag ek, HERE! (vers 18) 

Die liturgie: Geseënd oppad! 

Skriflesing: Ps 134 (1983); I Kron 9:33 en 23:30; Num 6:22-27
Teksvers: Psalm 134

Ons sluit vandag die reeksprediking oor die Liturgie van ons Eredienste af met die die laaste moment voordat ons weer oppad is huistoe: Ons gaan geseënd hiervandaan

Reeds vroeg in die die Bybel lees ons dat die Here die opdrag aan Aäron gee om as priester die volk namens God self te seën (Num 6:22-27). Die geroepe en bevestigde dienaars van die Here het dus die groot voorreg en verantwoordelikheid om dit gereeld te doen. So stuur die liturgie ons elke Sondag weg onder die seënende hand van die Here. 

Dit is dus nodig dat u weer die praktyk om op hierdie stadium van die liturgie u oë biddend te sluit sal heroorweeg. Die priester-leraar staan voor u met sy hande omhoog en spreek die seën oor u uit in die Naam van die Almagtige en Drie-Enige God van die hemel en aarde. Dit is nie ‘n gebed nie. U is dus veronderstel om aan hierdie simboliese handeling deel te neem deur op te kyk en die seën te ontvang. (Hier is geen voorskrif nie, maar miskien moet u hierdie wonderlike oomblik van ons liturgie net weer ernstig oordink ). 

Die liturgie: Die opneem van ons liefdesgawes 

Skriflesing: II Samuel 9 lees ook II Sam 4 en 5 (1983)
Teksvers: II Sam 9 vers 13

Ons kom immers nie na die Nagmaal omdat ons onsself sondeloos of volmaak ag nie, maar omdat ons, ons saligheid buite onsself in Christus soek. Daarom kan ons seker wees dat God ons in genade aanneem en waardig maak om deel te hê aan die hemelse spys en drank… so lees (vir my) die mooiste sin in die Nagmaalsformulier! 

So moes die arme Mefiboset ook maar gevoel het toe hy met vrees en bewing na die paleis van koning Dawid gegaan het en tot sy verbasing aan die koning se tafel kon aansit… elke dag! En dit nogal dieselfde Dawid wat nie juis ooghare gehad het vir die kreupeles nie (I Sam 5:6-8). So bewys God se genade aan sy kinders en dit teen alle verwagting in! 

Jesus drink die oordeelsbeker uit die hand van sy Vader 

Skriflesing: Psalm 75:1-11; Matteus 27:32-52 (2020)
Teksvers: Psalm 75:9
HK: Sondag 15-16

Die lyding van ons Here Jesus Christus is iets wat baie moeilik in woorde beskryf kan word. Tog is sy hele lewe een groot lyding. Van sy menswording en deur sy aardse omwandeling tot aan die kruis.

Hierdie lyding word ook in die Skrif aan ons verduidelik by wyse van ‘n beeld. Die beker van God se oordeel.

Ons gaan vanaand stilstaan by Psalm 75 waar die oordeelsbeker van God beskryf word met die oog op Christus se lyding.

Die maagdelike geboorte van Jesus Christus 

Skriflesing: Genesis 3; (1953) Luk 1:26-38; Matt 1:18-25; Galasiërs 3:15,16
Teksvers: Gen 3:15
HK: Sondag 14

Wat in HK Sondag 14 geleer en bely word is vir sekere mense onaanvaarbaar omdat dit alle wetenskaplike grense oorskry. 

Wanneer ons egter die werklike diepte van sondeval sou begryp, dan sal jy ook verstaan dat slegs ‘n bo-menslike en bo-natuurlike ingrype, soos ‘n maagdelike geboorte (asook ‘n opstanding uit die graf en dood), die mens en hele skepping van daardie sonde-vloek kan verlos. 

Ons lewe in Pottebakkershande 

Skriflesing: Jeremia 18:1-23 (2020)
Teksvers: Jeremia 18:6
HK: Sondag 9/10

Soos klei in die hande van die pottebakker, so is die kinders van die Here in sy hande. Hierdie troosvolle woorde laat ons tog ook diep nadink oor alles wat soms in ons lewe gebeur. Die reën en droogte, die goeie en die slegte. God is al die tyd besig om ons te vorm en te maak wat ons moet wees. 

Ons staan vanaand stil by die beeld uit Jeremia waardeur die Here ons ook prakties leer hoe ons in Sy vaderlike sorg moet leef en op Hom moet vertrou. 

« Older posts Newer posts »