Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Ou Testament (Page 11 of 69)

Ween jy of is jy gespeen?

Skriflesing: Ps 131
Teksverse: Ps 131:2

In ons uur en tyd is groter altyd beter. Ons wil graag manne en vroue van naam wees. Voordat ons onsself kan vind is daar nog take op ons lys. Ons het begeertes en probleme en dit moet in twee minute opgelos word. Ons het ‘n onrustigheid in ons siele. Die wêreld en sy begeerlikheid en sorge vang ons vas. Ons probeer dit oplos deur meer en groter dinge te doen. Wanneer dinge dan te veel raak gaan ons al huilende met ons klagtes na die Here. Die vraag wat Psalm 131 elkeen van ons vra is: “Ween jy of is jy gespeen?”.

Deur Christus en sy Gees sterf ons ons sondige gedagtes af

Skriflesing: 2 Konings 8:7-15 (2020)
Teksvers: 2 Konings 8:11-13

Elia ontvang drie opdragte van die Here in 1 Konings 19:15-16. Dit is, naamlik om Elisa as sy opvolger aan te stel, Gasael tot koning van Aram aan te wys en om Jehu tot koning van Israel te salf. Dit is egter Elisa wat Gasael as koning van Aram aanwys (2 Konings 8:13) en toesien dat Jehu tot koning van Israel (2 Konings 9:1-3) gesalf word. 

In 2 Konings 8:7-14 sê Elisa met groot hartseer dat Gasael, in opdrag van die Here, koning van Aram sal word, met verskriklike tragiese gevolge vir Israel. Gasael het egter heftig ontken dat hy ooit soos ‘n wrede dier sou wees. Hy is immers nie ‘n hond nie. 

Sondige gedagtes van mense soos Gasael, Kain, Judas en Petrus, (en dalk onsself), gebruik die Here om ons die diepgang van ons eie sondige aard en natuur te leer ken. Deur hierdie kennis leer ons dat ons “van nature” geneig is om God en ons naaste te haat. Deur God se Woord en Gees leer ons watter krag daar in Christus Jesus is. Net Hy kan aan ons die oorwinning gee oor ons skrikwekkende sondige aard en gedagtes. 

‘n Geknakte Riet en Dowwe Lamppit

Skriflesing: Jesaja 42:1-13 (2020)
Teksvers: Jesaja 42:3

Die koms van die koninkryk is deur die Dienskneg van God. Hy kom nie met geweld en groot geraas nie, maar stil en nederig. 

Tog is die Dienskneg wat kom, wat die herstel van God se koninkryk bewerk, nie swak nie, al is Hy nederig. Hy is bekwaam, die Een op die Wie die Gees van God rus, maar ook een wat saggies met sterk hande sy kosbare en gebroke skepping herstel. 

‘n Geknakte riet, sal Hy nie breek nie, ‘n dowwe lamppit sal Hy nie uitdoof nie. 

Sinlose Sirkel of Sinvolle Lyn?

Skriflesing: Prediker 3; Galasiers 4:1-7 (2020)
Teksvers: Prediker 3:1,2,11

Die Prediker redeneer vanuit die ongeloofs-perspektief as hy sug dat alles sinneloos en tevergeefs is. So redeneer hy ook in hoofstuk 3 dat die lewe net ‘n wisselspel tussen kom en gaan en ‘n eentonige herhaling van homself is. Hy het selfs plesier en lag ondersoek as oplossing vir die dolle gejaag na nêrens (Pred 2).

Omdat hy eintlik ‘n gelowige is kan hy egter nie anders nie as om reeds vroeg in sy skrywe te laat uitglip dat daar eintlik sin is in hierdie sikliese, byna sinlose herhaling van die lewe.

« Older posts Newer posts »