Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Genesis (Page 6 of 10)

Aan ‘n nageslag gee God die Land

Skriflesing: Genesis 15; 17
Teksvers: Genesis 15: 6, 17, 18

Abram het geglo en die HERE het hom dit tot geregtigheid gereken. Die HERE het aan Abram die reg toegereken om sy kind te wees, deur sy onwrikbare geloof. Daarby staan twee beloftes sentraal: ‘n nageslag en ‘n land. Die HERE leer ons dat ‘n toekoms vol hoop nie sonder grond en kinders moontlik is nie. As jy nie ‘n nageslag het nie, sterf jy uit, en as jy ‘n nageslag het, moet hulle tog behoort. Hulle moet ‘n plek hê om te bestaan.

So sluit die HERE met Abram ‘n verbond en gee aan hom en sy vrou nuwe name. Abraham, die vader van menigte. In Abraham, dit is deur die geloof, kom die seën van die HERE deur sy vrou Sara. So word vervul wat ook aan Eva beloof is, die vooruitsig van ‘n Verlosser.

Kyk saam met God na sy reënboog in die wolke

Skriflesing: Gen 9:1-17; 2 Pet 3:3-9; Hooglied 8:6,7 (1953); Jes 54:9-11; 1 Kor 3:9-15
Teksvers: Genesis 9:8-17

Tydens u voorbereiding kan u ‘n bietjie nadink oor die wonderlike
reënboog. Ouers, kan u asseblief indringend met jul
kinders praat oor die wonder van die reënboog: hoe dit
ontstaan na die reën, die verskeidenheid kleure en die
betekenis daarvan by Noag, nl. die belofte dat daar NOOIT
weer so ‘n verskriklike waterramp op aarde sal wees nie. Ja,
so het die Here in sy trou gesweer (belowe) en sal dit nooit
verbreek nie.

En onthou daarby dat jy, nes Noag en die ark, by die Doop
self ook deur die water heen gespaar is… in ‘n heilige
VERBOND wat die Here self reeds ook met jou (deur water)
gesluit het!

‘n Ewige Verlosser aan ‘n moeder beloof

Skriflesing: Genesis 3:1-24
Teksvers: Genesis 3:15

Van kleins af leer ken ons die woorde van Genesis 3:15 as die moederbelofte. Dit is die grootste en die eerste belofte aan die mens na die sondeval. 

Dit is tog vreemd dat die belofte nie aan Adam, die mens nie, maar sy vrou mannin gemaak word. Dit is ʼn belofte aan ‘n moeder, wat nog nie ‘n moeder is nie. ‘n Ewige belofte. Uit die nageslag van die vrou, sal die Verlosser kom wat die slang se kop vermorsel. 

Daarom hernoem die mens sy vrou. Mannin kry ‘n nuwe naam, Eva, met die oog op die belofte van lewe. Ons staan vandag stil by die fondament van God se verbondsgemeenskap met die oog op die nagmaal. 

Om waarlik gereformeerd te wees

Skriflesing: Genesis 39; Psalm 40:8,9; Heb 10:7-10
Teksvers: Genesis 39:6-9
HK Sondag 44

Die gewilligheid waarmee ons soek na die wil van God en die hartlike doen daarvan. is vanaand ter sprake. Nie die uitdink van jou eie beginsels (tradisies en gewoontes) en dit dan tot goddelike status te verhef nie, maar die wedergeboorte van jou hart en denke (kyk Rom 12:1,2), sodat ons alhoemeer dink en vra om te doen wat God wil.
As ons fokus sou wees om slegs te doen wat vir die HERE aanneemlik is, dan vorder ons eintlik eers werklik in die heiligmaking – al het “die allerheiligstes in hierdie lewe maar net die begin van hierdie gehoorsaamheid” – ten minste vorder ons in die heiligmaking.

O, wortel van die kwaad!

Skriflesing: Genesis 37; Matteus 26:1-5; Heb 12:14,15
Teksvers: Genesis 37:18-20
HK Sondag 40

Dit sou u nogal goed doen om weer ‘n slag die hele geskiedenis van Jakob en sy vrouens en kinders te lees – Gen 28-37. In hierdie tien hoofstukke gaan dit in wese oor hoe God ten spyte van sonde sy heilige wil uitvoer en dat die bose (mens of duiwel) nie sy raadsplan kan verydel nie.

Die fokus by vanaand se prediking is egter die moord- en haat-gedagtes van die broers van Josef. In die verklaring van die sesde gebod (Son 40) gaan dit natuurlik om meer as net die daad van moord. Hier is moord sonder dat iemand doodgaan!
Hoeveel keer pleeg ons moord sonder dat iemand letterlik sterf?

« Older posts Newer posts »