Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Eksodus (Page 2 of 4)

DIE HERE SONDER ONS AF VIR HOMSELF

Skriflesing: Eksodus 14:9-31
Teksvers: Eksodus 14:13-14

Die HERE sonder ons af van ons vyande. Die deurtog deur die Rietsee was van uitsonderlike betekenis vir die volk Israel. Hierdeur het God hulle bevryding van die slawerny in Egipte bevestig. Deur sy oordeel oor sy vyande gee Hy vryheid vir sy volk dat hulle nooit weer die Egiptenare hoef te vrees nie. Des te meer mag ons terugkyk op Christus wat ons van die slawerny van sonde verlos het deur ons vyande te oorwin. Die doop beeld af hoe ons eenkant geplaas word van die sonde, soos die Rietsee vantevore reeds daarop gewys het (vgl. 1 Kor. 10:2).

Die HERE sonder ons af vir Homself. Die HERE sonder sy volk nie net af van hulle vyande nie, maar Hy sit hulle in besonder eenkant vir Homself. Die verlossing deur die Rietsee heen moes vir hulle daarop wys dat hulle aan God alleen behoort. Dit is dieselfde belofte waarop ons gewys word deur die doop – dat God Homself aan ons verbind as ons Vader. Ons word opgeroep om van ons vryheid te geniet in Christus alleen, deur Christus en tot eer van God alleen.

Gedenk die rusdag, en dink aan jou verlossing

Skriflesing: Eksodus 20:8-11;
Deuteronomium 5:12-15
Teksvers: Eksodus 20:8
HK Sondag 38

Gedenk die rusdag, en onderhou die rusdag, dit is die onderskeid in die 40 jaar van die woestyn. Gedenk die rusdag, want God het op die 7de dag gerus, maar so ook moet jy hierdie herdenking bly onderhou in die beloofde land. Want Israel was ‘n slaaf in Egipte. Dink dan aan jou verlossing, en gedenk die HERE se werke.

So kan ons ook op die rusdag gedenk en onderhou, dat ons van die slawerny van die sonde vrygemaak is om God te dien. Kom dan na die Nagmaal, om te gedenk, om te dink aan jou verlossing…

JALOERS is die Naam van die HERE

Skriflesing: Eksodus 34:1-16
Teksvers: Eksodus 34:12-14

Jaloesie is ‘n eienskap wat nie baie positiewe optrede kweek by mense nie. Oor die algemeen is dit ‘n negatiewe kenmerk wat baie sterk op jou eie belange fokus. Ons hou nie van mense wat jaloers is nie, want hulle tree uiters selfsugtig op. Die Bybel leer ons ook dat jaloesie die ondergang van die huwelik, verhoudinge en lewe kan veroorsaak.

Waarom dan sal die HERE Homself Jaloers noem?

Ons staan vanoggend stil by die tema: JALOERS is die Naam van die HERE.

Staan op HERE, en keer terug!

Skriflesing: Eksodus 34:1-23; Numeri 10:29-36
Teksvers: Eksodus 34:14-15

Terwyl Moses op bevel van die HERE bo op die berg was vir 40 dae, het Aäron die volk verlei tot afgodery met die goue kalf. Met oorvloed goud en weelde, was die versoeking net te groot. Moses doen voorbidding vir die volk en die HERE sien hom gunstig aan. Maar die HERE wil nie onder die sondige volk bly nie, want sy heiligheid sal hulle dood veroorsaak. Daarom rig Moses ‘n tent op buite die laer. 

Tog kom die pleidooi: Wat sal al die voorspoed en weelde help as die HERE self nie teenwoordig is nie. Wat beteken al die rykdom van die wêreld sonder God? Ons staan vanog-gend stil by die oproep van Moses dat die HERE self hulle Leidsman mag wees. 

DIE HERE SE PAD IN MENSLIKE DOODLOOPSTRATE

Skriflesing: Eksodus 14:1 -15:3; 15:20,21; Jes 43:1-5
Teksvers: Eksodus 14:14-16

Die wêreld was lanklaas so deurmekaar soos die laaste tyd. Dit gaan van kwaad na erger en mens voel letterlik die prooi van allerlei boosheid en korrupsie en skelmstreke. 

Dit lyk of ons niemand meer kan vertrou nie. Ja, nie eens ons eie leiers nie. Die prentjie het maar somber geraak en dit voel soms of ons in ’n doodloopstraat beland het. 

En dit is juis in hierdie tye wat die Here ons leer om op Hom alleen te vertrou. Hy sien die groot prentjie, maar meer as dit, Hy beheer/regeer dit ook. Daarom is dit juis dan die tyd vir geloofsvertroue op Hom alleen! 

« Older posts Newer posts »