Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Nuwe Testament (Page 41 of 129)

Oordenking 17 April

Jesus se oorwinning.

Maandag 17 April 2023
Lees: 1 Petr 3:19-20 “En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. 20 Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net ‘n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered.”

Ek gebruik ruimskoots die verklaring en woorde van Dr. EP Groenewald in sy verklaring van 1ste Petrus in die Die Briewe van Petrus van 1985.
Bron Groenewald EP 1985 Die briewe van Petrus p.66-69

“Hierdie twee verse in 1ste Petrus 3:19 en 20 is uiters moeilik om te verklaar, omdat byna elke woord in die griekse grondteks sy probleme oplewer…” sê Dr. Groenwald.
Dit gaan oor die lewe en werk van Jesus Christus. (Groenewald. 1986:66-69)

Baie mense wil in die verklaring hiervoor ook 1ste Petrus 4:6 gebruik om dit te verklaar.
1 Pet 4:6 “Daarom is die evangelie immers ook verkondig aan dié wat nou dood is sodat, hoewel hulle as mense onder die oordeel was om na die liggaam te sterwe, hulle na die gees sou lewe soos God lewe.”

Maar die twee tekste handel nie oor dieselfde saak nie en elkeen moet dus afsonderlik in sy eie teksverband ondersoek en verklaar word. Dr. Groenewald verklaar hierdie twee verse aan die hand van vyf vrae wat hy vra. (Groenewald. 1986:66-69)
1 Wie is die prediker van vers 19?
2 Wanneer het Hy daar gepreek?
3 Wie is die geeste vir wie Hy gepreek het?
4 Wat is die gevangenis?
5 Wat was die inhoud van sy prediking?

Groenewald gee kort antwoorde op elke vraag:

1 Wie is die prediker van vers 19? Die antwoord op hierdie vraag is voor die hand
liggend. Dit is Jesus Christus. Maar in watter gestalte of hoedanigheid het Hy gegaan om te preek? In die ’53 Afrikaanse vertaling staan daar in vers 19, korrek vertaal, “in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis,” Die 1983 vertaling verklaar dit direk met “En so het Hy, (Jesus Christus) na die geeste in die gevangenis gegaan…”

2 Wanneer het Hy daar gepreek? Het Jesus daar gaan preek voor sy opstanding of
terwyl Hy in die graf was? Die vraag is dus wanneer en gaan nie nou oor die plek nie.
Die gevolgtrekking waartoe Groenewald kom is … “dat die triomftog van Jesus wat
met sy opstanding uit die dood begin, as sodanig ‘n verkondiging was aan die geeste in die gevangenis.” (Groenewald. 1986:68)

3 Wie is die geeste vir wie Hy gepreek het? Daar is verskeie verklarings hiervoor.
Is dit bose geeste, is dit geeste in die doderyk, is dit gevalle engele? Mat 12:45; Luk 10:20
“Daar is egter ‘n duidelike verwysing na die dae van Noag, Mat 24:37-39. Die
gevolgtrekking van Groenewald is dat die “geeste” die tydgenote van Noag aandui:
mense wat die geleentheid tot bekering gehad het, maar wat in die verharding van hulle
harte gesterf het.” (Groenewald. 1986:68)

4 Wat is die gevangenis? Daar is ‘n opvatting dat die bose geeste in die lug woon
volgens Ef 6:12 “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die
owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen
die bose geeste in die lug.” Dus ‘n blyplek tussen die hemel en die aarde, êrens in die
lug. Die Jode het egter gepraat van die doderyk as “sjeool” en die grieke as “hades”. Hiervolgens is die voorstelling dat die doderyk êrens diep onder die aarde is. Volgens Simon J. Kistemaker, (1987:143) intepreteer hy die gedeelte as volg: “Gevolglik interpreteer ek die frase die geeste in die tronk om te verwys na bonatuurlike wesens en nie na die siele van mense nie.”

5 Wat was die inhoud van sy prediking?
Van die latere verklarings, waarmee ek saamstem, is dat die opgestane Christus, met sy hemelvaart, aan almal wat nog op aarde leef en diegene in die hemel, sy oorwinning oor die dood verkondig het met woord en daad. Die opgestane, verhoogde Christus, het sy Oorwinningstog aangekondig, verkondig en geproklameer met sy koms na die aarde, sy kruisdood en opstanding en hemelvaart.

Samevatting

Om daarom mee af te sluit, bely ons, glo ons, en loof ons God volgens Rom 8:31-39, die Oorwinningslied van Paulus.
Rom 8:37-39
37 “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.
38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige
dinge of kragte
39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei
nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

• Jesus Christus leef.
• Jesus Christus berei vir ons plek voor in die hemel.
• Jesus Christus is my Koning, my Here, My Verlosser.
• Jesus Christus is die Oorwinnaar en ek saam met Hom en deur Hom.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Jesus se bevel en opdrag: Julle moet mekaar liefhê!

Skriflesing: Joh 15:1-17; 1 Joh 4:7-21; Mat 22:34-40
Teksvers: Joh 13:34; Joh 15:9,12,17; 1 Joh 4:8; Kol 3:14; 1 Pet 1:22; 4:8

Jesus noem homself die ware/egte wingerdstok en sy Vader is die boer en almal wat in Jesus Christus glo, is die lote of takke van die wingerdstok. Die lote of takke word ook in twee kategorieë verdeel, die wat vrugte dra en die wat nie vrugte dra nie. 

Om vrugte te dra, moet die lote of takke gesond wees, vas aan die wingerdstok vanwaar die lote al hulle lewenssappe vandaan kry om vrugte te dra. Dit kan alles net gebeur as daar werklike liefde is. Liefde is die oorheersende en groot begrip van al die verhoudinge in die lewe. 

  • Die Vader het sy Seun lief. 
  • Die Seun het ons lief. 
  • Ons moet mekaar liefhê. 

Oordenking 13 April

Dat ek ly vir Jesus Christus, is goed vir my!

Donderdag 13 April 2023
Lees: 1 Petr 3:17-22 17 “As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen.”
Ps 119:75 “Dat U my laat swaarkry, is ‘n teken van u trou.”

Die lyding vir ons as christene gaan toeneem, namate die wederkoms naderkom. Lyding veral omdat ons as christene wil lewe soos wat God wil hê ons moet lewe. Christene wil veral die goeie doen soos wat Paulus aan ons leer in Rom 7:19. Ons wil veral ‘n lig wees vir die wêreld volgens Mat 5:15.

Die goddelose wêreld hou nie van christene wat goed doen nie. Ons lees so duidelik in
1 Petr 2:12 “Gedra julle altyd goed onder die heidene, sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.”

Weereens wys Petrus aan ons dat ‘n goeie lewenswandel, nie ‘n waarborg is dat die gelowiges teen lyding gevrywaar sal word nie. Dit is juis as ek goed doen, dat ek na die wil van God soek.

Wat is goed doen of goeie werke? (Heidelbergse Kategismus Sondag 33 vr en antw 91)

“Slegs die…
• wat uit ‘n ware geloof,
• volgens die wet van God,
• tot sy eer gedoen word
en nie die …
• wat op ons goeddunke
• of op oorlgelewerde gebruike van mense gegrond is nie.”

As ons dus goeie werke doen tot eer van God, sal die wêreld, die Satan en die goddelose mense nie van ons hou nie. Maar as dit tot eer van God is, is dit goed. As ons moet ly of lyding daarom moet ervaar omdat ons goed doen, dan is dit vir ons goed.

Dit kan wees dat God die beproewing oor ons bring vir ‘n heilige doel. 1 Petr 1:6-7 “Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7 sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.”

Daar kan ‘n sterk versoeking wees om kwaad met kwaad te vergeld, maar dit word verbied.
1 Petr 3:9 “Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel antwoord met ‘n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry.”

Leef dus tot eer van God selfs al moet ons ly in hierdie wêreld twv ons geloof in ons Here Jesus Christus. Ons leef tot eer van God. Ons ly dikwels omdat ons goed doen.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Mý Evangelie!

Skriflesing: 2 Timoteus 2:8

Kom in die gees van die gebeure van die Paasfees in Jerusalem 2000jr gelede, en kom sing en luister na voorlesings en koorsang en prediking oor die grootste en beste nuus van alle tye. 

Dood, maar lewend!

Skriflesing: Romeine 6:1-14; Kolossense 2:9-15
Teksvers: Romeine 6:5

In die Romeine-brief kom die Heilige Gees deur die apostel ons daarop wys dat as ons nie eers vir die sonde sterwe nie, kan ons ook nie eintlik vir God lewe nie. Draai dit nou om: Ons is dood vir die sonde en lewend vir God. 

So kom die opstanding van Jesus Christus tot ʼn werklikheid in ons lewens. 

Kyk hoe dit ook simbolies in die sakrament van die Doop geteken word. 

Jesus op die stembrief

Skriflesing: Matteus 26:47-56; 27:11-31; Josua 24
Teksvers: Matteus 27:17

Dié Paasnaweek in Jerusalem is toe anders. Byna was daar ʼn groot opstand. Dan sou die Romeine weer moes ingryp. Pilatus probeer sy bes om die oproerigheid te beperk. Hy laat die mense kies: Jesus Barabbas of Jesus wat Christus (Messias) genoem word. 

Barabbas is ‘n figuur van wie ons eintlik niks weet nie en tog speel hy ’n belangrike rol in die lyde van Jesus Christus. Soos by Josua word die volk voor ‘n keuse gestel en kom die naam Jesus op die stembrief, nogal twee maal? 

« Older posts Newer posts »