Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Nuwe Testament (Page 14 of 125)

Jesus Christus bewerk radikale lewensverandering

Skriflesing: 1 Petrus 3 (2020)
Teksvers: 1 Petrus 3:8-9

Word ‘n mens se lewe regtig radikaal verander op grond van jou geloof in Jesus Christus? Die vraag word gevra omdat die Here in sy Woord soveel dinge aan ons voorhou wat nie altyd in alle gelowiges se lewe realiseer nie. 

Kyk maar na die riglyne wat die Here aan ons voorhou in 1 Petrus 3: Mans en vrouens word gelei tot selfondersoek of hulle werklik die man of vrou is soos wat die Here dit aan ons voorhou? Veroorsaak die riglyne van die Here nie net onnodige spanning en skuldgevoelens nie? Tog kom die Here deur sy Woord en Gees om ons op te roep om eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig en nederig te wees. So asof dit somer so maklik is om die positiewe gesindhede altyd en oral teenoor ons mede-gelowiges en die ander mense te openbaar. 

Dit is daarom so belangrik dat ons by hernuwing sal besin oor die rede waarom die Here hierdie riglyne aan ons voorhou en hoe hierdie radikale lewensverandering in ons kan plaasvind. 

Losgekoop uit slawerny!

Skriflesing: Gal 4 (1983)
Teksvers: Gal 4:4-7

In aansluiting by die vrylating van slawe in die Herstel/Jubeljaar (Lev 25) , asook die vrywillige slawerny (soos ons dit in die huisgodsdiens die afgelope week leer ken het) (Dt15), lees ons van onsself as losgekoopte slawe. 

Die wonder hiervan word duidelik as ons selfs lees dat Jesus die vorm van ‘n slaaf aangeneem het (Fil 2). 

Waaraan is jy verslaaf? 

Christus kom ALTYD Eerste

Skriflesing: Kolossense 1:3-23 (2020)
Teksvers: Kolossense 1: 15-18

Mense hou daarvan om te wen. Om eerste te kom. Dit is ‘n ingeskape begeerte van die mens om te oorwin en bo jou omstandighede uit te styg. 

Om te wen mag ons nooit ons dryfveer wees, ten alle koste, nie. Soms verloor jy deur net te wil wen. 

Dink aan die werk van Christus, Hy wat sy lewe verloor het om eerste te wees. Deur sy lewe prys te gee, word Hy die eerste, die Een wat altyd Eerste kom. 

Ons staan vanaand stil by die loflied oor ons Verlosser en ons taak as Eerstelinge van God. 

Jubeljaar 2025!

Skriflesing: Levitikus 25 (1983)
Teksvers: Levitikus 25:2, 23; Lukas 4:19

Vyftig jaar gelede, op 1 Junie 1975 het die gemeente afgestig van GK Lyttelton. Aanvanklik was ons naam GK Verwoerdburg-Noord wat later aangepas is by die tydsomstandighede. Die GK Centurion kyk hierdie jaar terug op 50 jaar van genade uit die hand van ons Here en Herder, Jesus Christus, die Hoof van sy kerk. 

Ons begin vandag die tema verstaan soos dit aan Israel voorgeskryf is deur Moses by die berg Sinai: Die hoofsaak gaan oor herstel en verlossing wat in die koninkryk van God ons toekom. Mag hierdie jaar een wees van bekering en geloof en vrede in God. 

Waardig voor die Here

Skrifgedeelte: Kolossense 1:1-14
Teksvers: Kolossense 1:9-12

Paulus skryf aan die gemeente in Kolosse as hy onder huisarres is. Natuurlik is daar sekerlik uitdagings wat lidmate te bowe moet kom, maar geloof is baie meer as net om probleme op te los. Daar bestaan ‘n diepe dank vir God se werk. Hier deel die apostel sy blydskap en sy dankbaarheid oor die goeie dinge wat hy van hulle gehoor het. Van die geloof en die liefde en die hoop. Maar hy wil ook daarmee te kenne gee, dat hierdie dinge nie alleen genoeg is of voldoende is nie, want in die geloof is daar nie ‘n versadigingspunt nie. Die gemeente moet ook nie maar net te vrede wees met die vordering wat gemaak is nie, maar steeds daarna strewe en aanhou groei in die kennis van die wil van God.

Ons staan vanaand stil by die gebed vir die gelowiges om waardig voor die HERE te leef.

Jesus word ontklee om ons te beklee

Skriflesing: Joh 19:17 37; Gen 3:21; Ps 22:1-19; 2 Kor 5:1 5; Rom 13:14; Kol 3:12; Op 7:9; 19:1-8; Op 21:1,2 (2020)
Teksvers: Johannes 19:23,24

Jesus klou nie vas aan sy aardse goed nie. Self leer Hy ons dat as iemand jou onderkleed wil vat, laat hom ook die boklere kry (Mat 5:40). Dan doen Hy dit self – Hy word ontklee! Hulle vat sy klere en dobbel daaroor. Hy baklei nie oor aardse goeters nie. 

Hy is besig met die hemelse! Hy vervul Psalm 22 wat Hy later self ook gaan aanhaal! Hy is besig met die profesie! Die groot Profeet wat hier offer (ontklee) word selfverloënende Hoëpriester, en as Hy oorwin word hy Koninklik beklee met dié Naam wat bo elke naam is (Fil 2:11). 

« Older posts Newer posts »