Waarskynlik sit meeste gelowiges met ‘n onvolledige beeld van Jesus Christus as die lydende Kneg van die Here.
Die meer volledige beeld is as jy Hom ook sien in sy verheerlikte staat… aan die regterhand van die troon van
God! Hy heers! Hy beheer die geskiedenis.
Op Hom vertrou ons in tye van nood en rampe en vervolging.
Deesdae is dit meer so: “Sunday is funday”. Vir baie van ons is dit braai-dag. En ons kán braai! En tog is die vraag: Wat wil God met die weeklikse ritme van, een dag per week is “die dag van die Here”, in ons lewe bereik?
Kyk wat op die Sondag daar op Patmos met die apostel Johannes gebeur. Hy hou by die gewoonte om op “die dag van die Here” (Sondag!) homself af te sonder vir die diens en aanbidding van die Here… en dan vind daar ‘n heerlike ontmoeting plaas.
Het ons nog tyd op Sondag om die nabyheid van die Here te soek? Kom jy ook na die gereelde eredienste met die verwagting dat daar so ‘n ontmoeting sal plaasvind? Het jy nog tyd vir die Here?
Skriflesing: Op 20:1‑15; II Kor 5:10; I Kor 15:26 Teksvers: Op 20:12
Terwyl Petrus ons gewaarsku het teen die dwaalleraars wat die oordeel ontken, het ons verlede week seker gemaak dat ons in die wederkoms glo en daarmee saam in die dag van oordeel.
Nou gee Johannes ons ‘n idee van wat presies op daardie laaste dag gaan gebeur. Een ding is seker en dit is dat Je-sus daar sal wees! So verwag ons ons Verlosser as Regter, komende om te oordeel én te red!
Vir die goddelose is daar op daardie dag egter geen goeie nuus nie.
Skriflesing: Op 2:12-17; Heb 4:12,13 Teksvers: Op 2:16
Pergamum is ‘n dorp in Klein Asië, vandag bekend staan as Bergama in Turkye. Die stad is bekend vir sy hospitaal, die Asclepion, asook die Akropo-lis waar daar verskeie afgodstempels en altare was. Almal in die dorp is na die verskeie funksies by hierdie plekke uitgenooi en moes jy maar “saamspeel” anders is jy uit die gemeenskap verstoot. Dit sou ‘n knou kon wees vir jou besigheid of jou status.
Die verwyt van ons teksgedeelte is dat sommige mense juis aan hierdie “saamlopery” meegedoen het en so van die waarheid afgedwaal het.
Jesus roep sy kerk op tot voortdurende reformasie, anders sal ons te doen kry met “die swaard van sy mond”… en die swaard is die Woord van God! Christus sal oordeel volgens sy Woord.
Na wie se uitnodigings luister jy?