Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Johannes (Page 4 of 14)

Oordenking 3 Julie

“EK IS die lig vir die wêreld!”

Lees: Joh 8:12
“Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Hierdie is die tweede “Ek is…” uitspraak van Jesus in die evangelie van Johannes. Met hierdie uitspraak van “Ek is die lig vir die wêreld.”, bring Jesus ‘n baie troosvolle boodskap. Deur die sonde het daar geestelike duisternis oor die wêreld gekom. Die wat in ongeloof in die sonde bly lê, is bestem vir die ewige duisternis. Maar Jesus Christus het na die wêreld gekom as Lig om ewige hoop en die ewige lewe te bring.

Vir Israel was die vuurkolom in die woestyn nie net simbool van die lewe nie, maar dit was deel van hulle lewe wat die duisternis verjaag het. Die lig was simbool van God se teenwoor-digheid, beskerming en leiding. Jesus Christus is dit nog meer, Hy is die Lig. Waar Hy is is daar geen duisternis nie. In Hom het ons ewige beskerming en verlossing en leiding.

Heel waarskynlik het Jesus hier opgetree tydens of net na die Huttefees. Vgl. Joh 7:37

Die Huttefees.
Tydens die huttefees is groot lampe in die tempel aangebring en elke aand aangesteek. Daardeur word die tempel rondom en van binne verlig. Die lig straal in die duisternis uit en verdryf die duisternis binne die tempel en ver daaromheen. Jesus sluit nou heel moontlik sy tweede uit-spraak van: “Ek is die lig vir die wêreld”, by hierdie ligte wat in die tempel is aan, deur prakties uitspraak te lewer dat Hy die lig vir die wêreld is.

Daar is nou nie meer kunsmatige ligte nodig nie. Daar is nie meer simboliese ligte nodig om na Hom te verwys nie. Jesus Christus self is die lig. Jesus self bring die lig in die lewe van elkeen wat in Hom glo. Hyself verlig die lewenspad van elkeen wat in Hom glo. Ja, sy lig gee lewe. Elkeen wat elke dag in Jesus se voetspore volg, loop in sy LIG. So iemand kan ook uitvoering gee aan die hoë roeping van die dissipel van Jesus Christus volgens Mat 5:14-16:
“Julle is die lig VIR die wêreld.
‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook
steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie, maar
op ‘n lampstaander en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle
lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en
julle Vader wat in die hemel is kan verheerlik.”

Johannes 12:44-46 “Toe het Jesus uitgeroep: ‘Wie in My glo, glo nie net in My nie, maar ook in Hom wat My gestuur het. En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het. Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat die wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.”

Christus se woorde: Ek is die lig, moet nie net gehoor word nie!
• Die persoon wat dit hoor, moet iets doen.
• Om uit die duisternis gehaal te word en die lig te ontvang, moet ’n mens dus ’n volgeling van Jesus word en Hom aanhou volg. Stap in die lig van Jesus Christus en dit beteken prakties om te bid, Bybel te lees en in ‘n persoonlike verhouding met Hom te leef. AMEN
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 29 Junie

“EK IS die brood wat die lewe gee!”

Lees: Joh 6

Eet is die natuurlikste saak in die lewe. ‘n Pasgebore babetjie se eerste behoefte is na melk, kos. Daarom reeds in die tuin van Eden het God aan die mens die heerlikste vrugte gegee om van te eet. Wie nie eet nie, kan nie lewe nie. Kos gee ons krag vir elke dag. Ons lewe gaan daaroor om elke dag so te werk en te leef dat ons kos op die tafel kan hê om te eet.

Nou lees ons in Joh 6 dat daar oor die 5 000 mense na Jesus kom luister het en teen die aand was hulle honger. Met net twee vissies en vyf brode het Jesus met ‘n wonderwerk hierdie mense gevoed. ‘n Wonderwerk. Onverstaanbaar groots. Maar Jesus gee kos vir honger mense. Brood en vis. Jesus het hulel gevoed en vir die kos gedank.

Die dag nà die wonderbaarlike vermeerdering van die brood, het daar weereens ‘n klomp mense na Jesus toe gekom. Die rede hoekom hulle weer na Jesus gekom het, was bloot om weer brood, kos te kry. Jesus sê dit self.

Joh 6:26,27 “24 Toe die mense sien dat Jesus nie daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle in die skuitjies geklim en na Kapernaum toe gevaar op soek na Jesus. 25 En toe hulle Hom oorkant die see kry, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het u hierheen gekom?” 26 Jesus antwoord hulle: “Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. 27 Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.”

Hoe eet jy dan by wyse van spreke vir Jesus as die Brood wat ewige lewe gee?

As Jesus sê: “Ek is die brood wat lewe gee.” dui dit natuurlik op geestelike voedsel. Dit is om in Jesus Christus te glo. Want Jesus is nie soos brood wat jy elke dag moet eet om versadig te bly nie. Jesus is geestelike brood, wat die ewige lewe gee. As jy Jesus eet, beteken dit dat jy in Hom glo. Geloof is meer as net kennis en vertroue. Geloof is ook om na Jesus toe te keer, om in ‘n intieme, persoonlike verhouding met Hom te staan. Jy eet Jesus as ‘ n ware deur die Woord te lees, te bid, die kennis te verkry hoe God homself openbaar, en deur met Jesus te wandel, Hom as ‘n ware te eet, jou te versadig met die kennis en vertroue en dat Jesus jou enigste weg tot saligheid is. En die Heilige Gees bewerk dit in jou hart.

Die Jode het gevra in Joh 6:28:
“Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?”
Jesus het geantwoord in Joh 6:29:
“Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.”

Om te glo in Jesus Christus is om…
• Te weet hoe groot God se onmeetlike liefde vir ons is.
• Te weet dat God sy Enigste, sy Eniggebore Seun geoffer het om in ons plek te betaal vir al ons sondes.
• Te weet dat die doel van God se liefde en versoeningswerk deur Jesus Christus is sodat ons die ewige lewe kan hê om God vir ewig te verheerlik in die hemel.
Jesus het gesê: “EK IS die brood wat die lewe gee!”

Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 27 Junie

“Die EK IS… uitsprake in evangelie van Johannes!”

Vir die volgende paar weke gaan ons kyk hoedat God en Jesus Christus hulleself aan ons openbaar in die” “EK IS…” uitsprake in die Bybel.
Ons kan vra, maar: Hoekom is dit nodig dat ons dit behandel?
• Ons ken mos God die Vader as ons skepper en onderhouer.
• Ons ken mos Jesus Christus as ons Verlosser, Saligmaker.
• Ons ken die Heilige Gees as ons Trooster wat in ons woon en bly.

Maar God openbaar Homself aan ons sodat ons nog meer vertroos en versterk in hierdie lewe kan wees.

Het jy ook al die vrae gehoor: Waar is God, dat Hy ons dan nie van die Covid virus bewaar nie? Waar is God wat sonde toelaat? Hoekom het God dan toegelaat dat daar oorloë hongersnood, selfmoord, egskeidings ens. is.

So het God aan Abraham belowe dat hy ‘n groot nageslag sal hê wat in Kanaän sal bly. Maar nou was daar ‘n droogte en hongersnood in Kanaän en moes Josef en sy hele familie na Egipte verhuis om te oorleef. En nou is hulle slawe in Egipte. Eers was hulle vry en nou is hulle slawe.

Is dit nie wat in Suid Afrika ook aan die gebeur is nie? Eers was Suid Afrikla ‘n welvarende land, ‘n land onder die 20 welvarendstes in die wêreld. Nou het Suid Afrika “Rommelstatus” bereik. Waarheen is die land heen op pad? Waar is God wat ons moet bewaar?

Israel het byna dieselfde lot gehad net nog baie erger in Egitpe.

Israel is uit Kanaän na Egipte vanweë hongersnood. Daar het hulle slawe geword. Hulle het gekerm en gekla en God het hulle gekla gehoor. En God roep en stuur vir Moses om die volk uit Egipte te lei!
• En Moses moet vir Israel sê Wie hom gestuur het!
• Sal hulle glo dit is die Almagtige God?
• En God sê Moses moet aan die volk sê: Ex 3:14 “En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.”

God verduidelik wat sy Naam beteken.

God OPENBAAR Homself aan Moses en aan Israel.
God sê “EK IS WAT EK IS!”
Dit beteken dat God is betroubaar. God is onveranderlik. Onveranderlik beteken juis dat God betroubaar is. Ons kan op God staatmaak. Al verstaan ons nie altyd alles nie. God bly dieselfde God. Dit is ons wat verander. Dit is ons wat vir onsself leef en God vergeet. Ons kan ook vandag op God staatmaak.

God het Israel uit Egipte verlos en gelei. Vir 40 jaar deur die woestyn, maar hulle het Kanaän binngetrek. Hulle het swaar gekry, maar God het getrou gebly.

God, “EK IS WAT EK IS…” lei ons vandag ook nog.

Al kry on sook hoe swaar. Al gaan dit swaar in die land. Al het ons Rommelstatus bereik. God is by ons en lei ons, wat Hy is betroubaar, Hy is wat Hy is. Hy bly altyd dieselfde van geslag tot geslag.

Ook aan ons is die hemel, die ewige Kanaän, belowe. Ons wat in Jesus Christus glo sal ook eendag in die hemel kom. Dit is belowe en Jesus Christus het reeds vir ons daar plek gaan voorberei. Maar ons trek nog deur die geestlike woestyn wat ook ‘n fisiese swaarkry is. Alles op aarde is nie rosegeur en maanskyn nie. Ons kry swaar omdat ons God vergeet het. Maar daarom openbaar Jesus Christus Homself met sewe Ek is uitsprake om ons te vertroos en te versterk. Hy openbaar Homself in die evangelie van Johannes met sewe Ek is uitsprake. Dit is wat ons gaan behandel vir die volgende paar kere.

Sewe “Ek is….” uitsprake in die evangelie van Johannes.
Joh 6:35 “Ek is die brood wat die lewe gee.”
Joh 8:12 “Ek is die lig vir die wêreld.”
Joh 10:7-9 “Ek is die ingang vir die skape.”
Joh 10:11-14 “Ek is die goeie herder.”
Joh 11:25-26 “Ek is die opstanding en die lewe.”
Joh 14:6 “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.”
Joh 15:1,5 “Ek is die ware wingerdstok en my vader is die boer.”

Daarna gaan ons na nog drie “Ek is ….” Uitsprake in die boek Openbaring kyk.
Open 22:12 “Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die einde.”
Open 22:16a “Ek is die Wortel, dit is, die Nakomeling van Dawid”
Open 22:16b “Ek is die helder môrester.”

Mag ons almal versterk en vertroos word deur hierdie reeks dat Jesus Christus vir ons die brood, die lig, die ingang na die hemel, die goeie herder, die opstanding, die ewg en die waarheid en die ware wingerdstok is.

Ds Gerrit Kruger; Gereformeerde Kerk Centurion. Sel 082 964 5595; gskruger1@gmail.com

Bronne
Coetzee. C.(red) 1984 Quo Vadis? http://www.cjbf.co.za/uitreik/quovadis/qv185.pdf

Die Heilige Drie-eenheid! 

Skriflesing: Joh 14:15-31; Jes 63:7-16
Teksvers: Joh 14:25,26:
HK Sondag 8

Kan ons die Drie-enige God verduidelik? 

Indien wel, hoe kan ons Hom verduidelik? 

Daar is al baie pogings deur gelowiges aangewend om God te probeer verduidelik. 

Ons belydenis is egter wat die Woord aan ons leer. 

NGB art. 1

“Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar ‘n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem. Hy is Ewig, Onbegryplik, Onsienlik, Onveranderlik, Oneindig, Almagtig, Volkome wys, Regverdig, Goed en die Alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.” 

Hier bely ons dat God Onbebryplik is. 

Kan ons God dan hoegenaamd verduidelik? 

  • Nee ons kan nie! 
  • Ons glo wat God in die Woord van Homself openbaar. 

Oordenking 1 Junie

Vervulling met die Heilige Gees!

Lees: Joh 14v15,16,17
15 “As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer.
16 Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te
wees,
17 naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom
nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”

Bron Kruger GS Julie 27 2018 Gereformeerde kerk Centurion.

Hoe word jy vervul me die Heilige Gees?
Wat beteken dit om vervul te wees met die Heilige Gees?

“In die Nuwe Testament word daar nêrens aan die mense die eis gestel: word wedergebore of word met die Heilige Gees gedoop nie. Maar wel verneem ons telkens met betrekking tot die Heilige Gees ’n hele aantal bevele:
• “word vervul met die Gees” (Ef 5:18);
• “wandel deur die Gees” (Gal 5:16);
• “as julle deur die Gees gelei word” (Gal 5:18, voorwaardelik gestel);
• “wees heilig” (1 Petr 1:16).” (Floor.1979:116)

God gee in Christus, uit vrye genade, aan al Sy kinders, sy lewendmakende Heilige Gees. Jesus Christus het ook aan ons geleer in Joh 14:16,17, “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17) die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”

Ons moet onderskei tussen die “inwoning” en “vervulling” van die Heilige Gees. Die Heilige Gees word aan al God se kinders gegee, (Ef 1:13) die oomblik van wedergeboorte, sodat hulle kan glo. Niemand kan uit eie inisiatief in God glo en die verlossing verkry as God dit nie aan jou gee of dit aan jou openbaar nie. (Gal 3:2) Daarom bly die Heilige Gees in al God se kinders.
Maar omdat ons die Gees ontvang het, die kosbare heilige geloof, moet ons ook groei in die geloof, in kennis en vertroue, Gal 3:2.

Daarom moet ons ook biddend die Bybel lees, en doelbewus van die sonde wegvlug en ons volmaak met die sake van God. In Psalm 19:14 leer ons: “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!”

Om daarom met die Heilige Gees vervul te word, beteken dat ons elke dag biddend ons sondes moet bely, wegvlug van die sonde af, en in gehoorsaamheid ons aan God toewy in gedagtes, woorde en werke. Dan het die Gees ’n vrye werking in ons om ons te lei. Sodoende word ons ook elke dag deur God se genade gelei om ’n al heiliger lewe te lei en meer en meer met die Heilige Gees vervul te word.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Jesus se bevel en opdrag: Julle moet mekaar liefhê!

Skriflesing: Joh 15:1-17; 1 Joh 4:7-21; Mat 22:34-40
Teksvers: Joh 13:34; Joh 15:9,12,17; 1 Joh 4:8; Kol 3:14; 1 Pet 1:22; 4:8

Jesus noem homself die ware/egte wingerdstok en sy Vader is die boer en almal wat in Jesus Christus glo, is die lote of takke van die wingerdstok. Die lote of takke word ook in twee kategorieë verdeel, die wat vrugte dra en die wat nie vrugte dra nie. 

Om vrugte te dra, moet die lote of takke gesond wees, vas aan die wingerdstok vanwaar die lote al hulle lewenssappe vandaan kry om vrugte te dra. Dit kan alles net gebeur as daar werklike liefde is. Liefde is die oorheersende en groot begrip van al die verhoudinge in die lewe. 

  • Die Vader het sy Seun lief. 
  • Die Seun het ons lief. 
  • Ons moet mekaar liefhê. 
« Older posts Newer posts »