Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 25 of 53)

“… en van oorkant die Jordaan”

Die koms van die Messias wat verlossing bring het deur die eeue heen vir menige gelowiges ‘n anker vir die toekoms en enigste troos beloof. Dit is hoop en lewe. 

Vir die Jode, wat steeds die Ou Testamentiese verwagting koester van die koms van die Messias, sal daar geregtigheid en vergelding wees. Dit is die herstel van Israel op aarde en die vernietiging van die vyande van God. 

Die Moslems het vir hierdie rede die “Goue Poort” of “Skone Poort” in die muur teenaan die tempel in Jerusalem toegemessel sodat die Messias nie kan inkom nie. 

Verwagting en tydsberekening maak hier nogal ‘n groot verskil… 

So is dit ook as jy self voor die Jordaanrivier staan. Ietwat teleurstellend. Of dalk anders as verwag. Maar nie onbelangrik nie. Dit is nie ‘n Oranjerivier of Limpopo nie. Wat nog om te dink die Nyl… Eerder soos die Caledon of dalk Jukskei. Dit is nie die rivier in opsigself nie, maar eerder wat dit simboliseer waar die verskil kom. Israel/Palestina is aan die Wesbank, en oorkant die Jordaan, Jordanië, dit is Moab, en Ammon, ook Assirië of Assur. Daaragter Iran, Irak, Saoedi-Arabië. Dit is die land van die heidene. 

‘n Skynbare onbelangrike en eenvoudige geografiese verwysing in Matteus 4 kan ‘n mens se begrip maklik ontglip. Of ten minste, dit het nie altyd vir my konkrete betekenis gehad nie. 

Behalwe vir Jesus se geboorte word daar baie min gegewens in die Bybel bekend gemaak oor ons Here se lewe, totdat Hy omtrent 30 jaar oud is, en in die openbaar optree. Na die versoeking in die woestyn word daar vermeld hoe Jesus mense gesond gemaak het van siektes en kwale, van onrein en bose geeste. 

Van oral oor het die mense gekom. Letterlik van oral oor. 

“Groot skares het Hom gevolg, uit Galilea en Dekapolis en Jerusalem en Judea en van oorkant die Jordaan af.” Matteus 4:25 (2020-vertaling) 

In een oomblik slaan dit jou asem weg. Die mense, buite die grense van die beloofde land, oorkant die Jordaan het na die Here Jesus gekom vir bevryding. Daar in Galilea van die heidene, daar begin Jesus om die koninkryk van God te verkondig. 

Hy het gekom om sondaars te red. Was dit nie hiervoor nie, sou ek en jy moes Jode word om deel te kry aan die koninkryk van God. 

Immers, ook ons bly oorkant die Jordaan. 

Lourens Venter (vdm) 

Hoe lank nog voordat die wederkoms sal plaasvind?

Dit is sekerlik ’n vraag wat in baie van ons se gedagtes is. Alhoewel ons die Bybelse antwoord ken dat net die Vader in die hemel dit weet. 

Mat 24:36 “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.” Maar ons lees ook in Mat 24 oor die profetiese rede wat alles sal gebeur voordat die wederkoms sal plaasvind. Daaruit is dit duidelik dat daar baie rampe en vervolgings sal plaasvind. Nou het baie mense al probeer om te bepaal of die eerste of tweede wêreldoorlog die begin was van die eindtyd. Nou weer met die inval in Oekraïne deur Rusland was daar weer baie teoloë wat voorspellings uit die Bybel gemaak het. 

Dit is egter duidelik uit die Skrif dat daar in die laaste dae baie vervolgings en swaarkry sal wees. Dit beteken nie dat ons hoegenaamd die dag en datum van die wederkoms sal kan bepaal nie. Maar dat alles wat gebeur tekens is dat die einde nader kom is duidelik. Dit kan nog honderde of duisende jare wees, maar ons sien die tekens. 

Dit hoef ons nie bang en bevrees te maak nie, inteendeel, dit behoort by ons ‘n afwagting te skep van …Wanneer Here? Hierdie swaarkry behoort ons eintlik opgewonde te maak, nie vir die swaarkry nie, maar vir die feit dat dit tekens is! Dat die wederkoms elke dag ‘n dag nader daaraan is. 

Hoe wonderlik sal dit nie wees as Jesus Christus met die wolke kom om al sy kinders te kom haal nie. Om vir ewig by ons Hemelse Vader te kan en mag wees, sonder enige swaarkry of bekommernis of hartseer. 

Daarom kan ons uitroep soos daar in Openbaring 22 staan: “Kom Here Jesus. Ja kom gou!” 

Ds. Gerrit 

Lewe in en uit die dood

Die gebied rondom die Dooie See is sielsaangrypend. ‘n Mens kan die oordeel
van God steeds aanvoel in die totale verwoesting van die hele omgewing van
Sodom en Gomorra. Nie net is lewe totaal uitgewis nie, jy proe en sien die dood in
die dorre aarde.

In Genesis 13 word verhaal hoe Lot en Abram van mekaar skei omdat hulle goed
te veel is. Lot trek dan op na die Jordaanstreek waar oral volop water was. Dan
staan daar: “…voordat die HERE Sodom en Gomorra verwoes het, was dit in die
rigting van Soar soos die tuin van die HERE, soos Egipteland.”

Vandag is hierdie gebied bekend vir die Dooie See waarin ‘n mens kan dryf, en
waaruit sout en minerale geoes word, sowel as die wonderlike skoonheidsprodukte
wat van die modder gemaak word. Dit is die laagste plek op aarde, 430 meter
onder seevlak. En dit is WARM!

Wat my die meeste aangegryp het, in hierdie woeste en dorre landskap, is die
ontdekking wat gemaak is in ‘n grot in 1947. Dalk het u al gehoor van die Dooie
See Rolle van Qumran. ‘n Herderseun het opsoek na sy verlore skape, ‘n klip in
die grot gegooi om te kyk of hulle nie dalk daar skuil nie, en gehoor hoe iets breek.
Na ondersoek, is feitlik die hele Ou Testament hier ontdek. Weggesteek in kleipotte
deur ‘n groepie mense wat hulle totaal afgesonder het eeue gelede weg van die
samelewing. Hierdie ontdekking is nie ‘n bewys van die Bybel nie, eerder ʼn
bevestiging dat dit nog altyd waar is.

Is dit nie merkwaardig nie? In die midde van God se oordeel, waar geen lewe is
nie, is die behoud van God se Woord. Ja, selfs uit die Dooie See kom daar
behoud vir die lewe. Die sout genees (al brand jou wonde soos vuur). Lewe in en
deur die dood. Dit is die kruis van Christus.

Lourens (vdm)

God se standhoudende liefde en troue sorg

(Jes 8:6) 

Tydens die afgelope toer na Israel was die hoogtepunt van die laaste dag in
Jerusalem vir seker die stappie deur die tonnel van Hiskia in die ou stad van
Dawid. Almal het met gemengde verwagting daarna uitgesien want dit ‘n
tonnel van minder as ‘n meter breed en soms tot net 1.5 hoog! Nogal ‘n uitdaging
vir die grotes onder ons (vra maar vir ds Lourens!) Die tonnel is in die tyd
van Hiskia onder die stad deur gegrawe dwarsdeur die klipharde rots (en nogal
van twee kante af!) en is 530meter lank. Op sommige plekke is die water
enkeldiep en selfs kniediep en mond uit in die bad van Siloam. Dit neem so
net meer as ‘n halfuur om as groep daar deur te kom, elkeen met sy waterskoene
en kopliggie bewapen.

Koning Hiskia (ongeveer 700vC) het hierdie watertonnel laat grawe om die
waterbron wat buite die stadsmure geleë was te verseël en nou die water met
hierdie kanaal na binne te lei. Dit loop dan uit op die Siloambad in die suide
van die stad. Jesaja verwys na hierdie waters as Siloa of Siloag se kalm of
klein waters (Jes 8:6). Hier vergelyk die profeet die standhoudende waters van
Siloam met die troue liefde van die Here. Hy stel dit teenoor die wispelturige
beloftes van die koning van Assirië, met wie Juda ‘n verdrag gesluit het, om
hulle teen hulle vyande te beskerm. Volgens Jesaja is dit absolute dwaasheid
om die Here se betroubare beloftes te versmaai en jou hoop op wisselvallige
mense en konings/leiers te stel.

Laat ons dit vandag ook maar weer bely. Ons stel ons vertroue vir die hede en
die toekoms op die Here alleen. Soms lyk sy liefde en genade maar soos hierdie
klein stroompie, maar die groot wonder is dat die gegrond is in die ewige
trou en vaste beloftes van die HERE wat nooit ontrou kan wees nie. Mag Hy
aan ons ook in moeilike dae die geloof gee om onvervals op Hom en sy
verbondliefde te vertrou en te weet Hy sal ons nie begewe of verlaat nie. Sy
belofte van wederkoms en oordeel is ook nie vaag nie en sal binnekort ewige
uitkoms en verlossing bied.

Ds Maarten

Ons kinders se opvoeding in die vrees van die Here

En Manóag het tot die HERE gebid en gesê: Ag, Here, laat tog die man van God wat U gestuur het, nog ‘n keer na ons toe kom, dat hy ons kan leer hoe ons moet maak met die seun wat gebore sal word. Rigters 13:8 

Ons kinders is ‘n gawe uit die hand van die Here en eintlik behoort hulle steeds aan die Here. Ons het vroeër altyd gepraat asof hulle net aan ons geleen is. Daarmee saam het die opdrag gekom om hulle geestelik vir die lewe en vir die ewige lewe toe te rus en voor te berei. Vir hierdie ontsaglike groot taak het ouers by die doopvont ‘n belofte afgelê wat hierdie taak aanvaar het voordat die Here die kind in die Doop met sy beloftes verseël het! 

Wanneer Manoag en sy vrou die boodskap hoor dat hulle hierdie spesiale kind, Simson, gaan kry, neem hulle hulle toevlug tot die Here self. Laat die engel tog net weer verskyn en ons leer… 

Vandag gaan daar nie ‘n engel jou kom help met die opvoeding van jou kinders nie, want God het sy volle woord (Bybel) nou al in skrif aan ons geopenbaar en daarin kan ons sien en weet wat Hy van ouers en kinders verwag. 

Dit sal dus gerade wees om jou kind met die Bybel as rigsnoer groot te maak. Om hulle so groot te maak dat hulle sal weet wie die Here is en waartoe Hy hulle geskape en geroep en getaak het. Dit is dus enorm belangrik om as ouers jou kind in die erediens te bring en steeds voor God te stel asook om die kategese van die kerk te gebruik in jou taak. 

Maar dan moet ons hulle ook elke dag voor die Goddelike Woord stel en met hulle op goeie pas deur die Bybel lees. So kan hulle God in sy werke leer ken en in Hom glo. Dan sal die Heilige Gees self ons lei in die opvoeding en toerusting van die kinders wat Hy ons gegee het. 

Ds Maarten 

Vervul met die Heilige Gees

Vandag is Pinkstersondag. Pinkster of Pentakost, beteken 50, dit verwys na die oesfees of ook genoem die fees van die weke wat 50 dae na Paasfees plaasvind. Ons lees onder meer in Numeri en Levitikus van hierdie fees wat gevier moet word in verhouding met die graanoes sowel as die Paasfees en die aankoms in die beloofde land. 

Vir die eerste 40 jaar was daar geen “oesfees” nie want die volk het deur die woestyn geswerf, en geleef van die manna. Die Here gee die opdrag aan die volk dat hulle die fees van die weke moet gedenk as hulle die beloofde land in besit neem. Dit is ook dan wanneer die manna ophou. Dit begin die dag na Paasfees as die eerstelinge van die opbrengs van die land gewy word aan die Here. Vir sewe weke lank word geoes, en dan op die 50ste dag, is dit die einde van die oes, die oesfees. 

Met hierdie fees word God geloof en geprys omdat die volk versorg is deur die brood wat Hy gee. Dit is die fees van oorvloed, van genade, van lewensbehoud. Die hele volk kom bymekaar om God te eer vir die “brood” wat Hy gee. 

Met hierdie fees word al die eer aan God gegee dat Hy die kerk behoue laat bly om haar ‘n plek te gee en bestaansreg te bied op hierdie aarde. Die Paasfees verkondig God se verlossing, die Pinksterfees verkondig God se behoud. 

Dit is tydens die Pinksterfees waar die hele volk bymekaar gekom het om God te eer vir die oes, wat die Heilige Gees uitgestort is. Christus as Eersteling, is die offer van die Paasfees. Hy is die Verlosser, en nou kom die vervulling van die volle vrug van die werk van Christus, in die uitstorting van die Gees. 

Elkeen wat deel het aan die Verlosser, het ook deel aan die behoud wat die Verlosser gee. Kom dan na die tafel van God se genade. Sien die “vrug” van die werk van Christus, en word vervul met die Vrug van die Gees wat daaruit voortvloei. 

6Wat hier gebeur, is deur die profeet Joël aangekondig: 17“‘En dit sal in die laaste dae gebeur,’ sê God: ‘Ek sal my Gees op alle mense uitstort – julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongmense sal visioene sien, en julle ou mense sal drome droom. 18Ja, ook oor my slawe en slavinne sal Ek in daardie dae my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. 19En Ek sal bo in die hemel wonders bewerk en tekens onder op die aarde: bloed en vuur en rookwolke. 20Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom. 21Dan sal elkeen wat die Naam van die Here aanroep, verlos word.’ 

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »