Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 24 of 52)

‘n Eselsbegrafnis!

Ek kan nogal dink dat ongelowiges of agnostiese mense nie so baie van die Bybel hou nie (dis nou as mens die Bybel in geheel lees). Daar is gedeeltes soos Jer 22:19 en 36:30 wat vertel van die uiteinde van koning Jojakim. Hy word nie eens begrawe nie.
Wanneer iemand destyds gesterf het is hy of sy gou begrawe, meesal nog dieselfde dag. Die weer kan nogal baie warm word in die Midde-Ooste. Niemand is egter op ‘n Sabbat of Feesdag begrawe nie, maar dan in reukolie en linne toegedraai en die vol-gende dag begrawe. Die oë toegedruk, liggaam is gewas en op ‘n draagbaar geplaas (nie in ‘n kis nie), en so in die graf gelê.
Die liggaam is nie gebalsem nie. Ook nooit verbrand nie, behalwe as dit ‘n misdadiger was of iemand wat ‘n vreeslike sonde gepleeg het.
Die grootste skande was om onbegrawe gelaat te word. En dit is presies wat met hierdie koning Jojakim gebeur. Sy sonde was so groot en sy verwerping van die profetiese woorde (die boekrol wat hy openlik verskeur en in die vuur verbrand) so erg, dat God hom verwerp. Hy word soos ‘n domme dier behandel. Begrawe soos ‘n donkie – maw weggegooi, sonder begrafnis, in die veld.
Hierdie gedeelte wys ons weereens dat God nie met Hom laat speel nie, en dat sy profete en hulle profetiese woorde (vandag die Bybel) nie geminag mag word nie. Wie werklik nie wil glo nie en sy Woord verwerp word voor God nie eintlik veel beter beskou en behandel as ‘n domme dier wat nie eens ‘n siel het nie!
Die wonder is egter dat God ons anders as diere maak. Hy gee ons ‘n siel en gees wat diere nie het of ooit gehad het nie (die werklike antwoord op die evolusioniste). Hy sluit ‘n verbond met ons en ter wille van sy verbond gee Hy sy Seun. Jesus betaal vir die ergste van ons sondes en was ons skoon en vry. Hy word begrawe en staan op om selfs die graf te oorwin.
Vir so ‘n mens het God plek en tyd, selfs by jou begrafnis!
Daarom hanteer ons ook die liggame van ons afgestorwe medegelowiges met eer. So word God ook by die begraafplaas verheerlik.
Ds Maarten

Voorbereiding met die oog op Nagmaalsviering

Calvyn het in Straatsburg waar hy predikant was, verwag dat alle voornemende Nagmaalsgangers hulleself gedurende die weke voor die Nagmaal by hom en die ouderlinge sal aanmeld met die oog op die behoorlike voorbereiding vir die gebruik van die Nagmaal. Dit is vir ons ’n bewys van hoe belangrik en hoe ernstig die viering van die Nagmaal is. 

In artikel 62 van die Kerkorde word daar beskryf hoe die Nagmaal gevier moet word. Die vraag is: Het Nagmaalsviering nie by ons maar afgewater geraak nie? As ek hier is, is dit goed, en as ek nie hier is nie is dit ook maar goed so. Baie mense vra verbaas: “O is daar Nagmaalsviering vandag?” 

Hoe kan dit dan wees dat jy jouself ernstig verootmoedig voor die Here as jy nie eers weet daar is Nagmaal nie? Daarom moet die ouderlinge toesig hou oor die gemeente deur huisbesoek en navrae na elke lidmaat se leer en lewe. 

Die ouderlinge en die predikante moet toesien dat die Nagmaal tot eer van God gehou word. Alhoewel dit gewone brood en wyn is wat by die Nagmaal bedien word, dui dit op ons Here Jesus Christus se eie liggaam en bloed wat Hy aan die kruis gestort het vir ons sondes. Jesus se versoeningsdood was nie maar ’n ligtelike sakie nie, dit het helse pyn en smart en bloedvergieting gevra, sodat ons die ewige lewe kan verkry. 

Daarom moet elkeen van ons onsself ernstig gaan voorberei met die oog op die Nagmaal. Gaan verootmoedig jou voor die Here. Bely jou diepe afhanklik-heid van God. Bely jou sondes voor God. Vra vergiffenis daarvoor. Nagmaal kom nie maklik en goedkoop nie. Bel jou ouderling of predikant as daar sake is wat jy wil bespreek en uitklaar voor die Nagmaalsviering. Dan kan ons as gemeente volgende week die heilige Nagmaal vier met erns en opregtheid, met diepe ootmoed en verootmoediging voor God. 

Ds. Gerrit 

“Julle moet eerder sê: Deo Volente…”

Dit is opvallend hoe ons as mense so gou kan vergeet wat die belangrike lesse is wat ons al voorheen in die lewe geleer het. Hoeveel keer het u nie al self gedink: “Ek het mos geweet ek moenie dit of dat doen nie.” 

Ons het in die onlangse verlede geleer dat ons nie alle dinge in die wêreld sommer so as vanselfsprekend moet aanvaar nie. Ons het geleer dat al ons baie planne vir die toekoms in ‘n oomblik kan verander. Ons het geleer hoe belangrik ons familie en ons gemeenskap van geloof is. Ons het geleer hoe noodsaaklik dit is om liggaam, siel en gees gesond te hou. 

Al hierdie lewenslesse word egter soms so gou vergete as ons nie in die oog hou om God se wil te soek nie. Al die ywer en al die inspanning van ons kragte en geloofsambisie kan so gou verydel word as ons nie D.V. as fondament het nie. 

In Jakobus 4 skryf die apostel aan lidmate in die verstrooiing oor hulle sorgelose ambisie vir die toekoms wat bloot op eie belange berus. As ons nie eers weet wat more gaan gebeur nie, hoe sien ons die lewe vooruit? Dit is maar soos ‘n miswolkie! 

Julle moet eerder sê: As die Here wil en ons nog leef, sal ons dit of dat doen.” Jakobus 4:15 

So moet dit ook wees met ons. Nie net om te sê: Deo Volente, as die Here wil nie, maar veral ook om te soek na die wil van die Here. 

In hierdie komende weke sal ons as gemeente die Nagmaal vier en familie naweek hou. Daar sal Bybelstudies wees, en Bybelskool, daar is vergaderings en geestelike opbou. Maar dit sal alles slegs geskied D.V. 

Mag die Here u toekomsplanne in gedagte hou. Mag u toekomsplanne gerig wees op die soeke na die wil van God. En mag u toekomsplanne D.V. vervul word. 

Lourens (vdm) 

‘n Goeie man pleit vir slegte mense!

Gen 18:16-33 

n Goeie man pleit vir slegte mense. Dit klink nie vir ons goed nie, want in die eerste plek was Abraham ook ‘n sondaar. In die tweede plek hoeveel keer het ons nie al gesê en in geselskap gewees waar mense gesê het: “Boontjie kry sy loontjie! Dit is sy verdiende loon.” Ja ons is dikwels hard en ongenaakbaar teenoor die wêreld en veral hulle wat buite die dampkring van die kerk staan. Maar Abraham, was anders gesind. Abraham was vol van liefde vir God en omgee vir sy medemens. Daarom lees ons in Gen 18 dat Abraham ‘n dienaar was. 

Abraham het die Here gedien. Gen 18:1-8. Daar het drie mans by hom gekom en heel waarskynlik was een die Here in ‘n menslike gestalte en Abraham het vir hulle ‘n ete voorgesit. Hy word dan ook genoem, die vriend van God. 2 Kron 20:7 

Abraham het sy vrou Sara bedien. Gen 18:9-15 

Abraham het die verlore wêreld bedien. Gen 18:16-33. God wou Sodom vernietig. Want Sodom was vol van sedeloosheid en perversiteit. Ons sou verwag dat Abraham sou sê, vergeld hulle na hulle sondige lewens. Soos Jona wat nie na Nineve wou gaan om die evangelie te bring nie, maar Nineve vernietig wou sien. Hoeveel keer dink ons nie ook vandag dat die goddelose wêreld, die sondige wêreld, maar vernietig kan word nie. Ons dink hulle verdien dit mos, hulle het gesoek daarvoor, dit is hulle eie toedoen en skuld. Dink ons nie ook vandag maar maklik, ag verdelg tog maar die goddelose nasies nie. Maar wat het Abraham gedoen, Hy pleit vir slegte mense! Hy pleit vir sondaars! Abraham was nie haatdraend nie. ‘n Goeie man pleit vir slegte mense! 

Abraham wou graag sien dat alle mense tot geloof sou kom en gered sou word! Abraham pleit in nederigheid voor God, dat God Sodom genadig sal wees. Hy neul nie by God nie, maar in nederigheid vra hy vir God, al sou daar net tien gelowiges in die stad wees of God nie die stad sal begenadig nie. 

Geliefdes, ook ons moes eintlik verdelg gewees het vanweë ons sondes, maar God het sy Seun Jesus Christus gestuur om vir ons te betaal en nou soos Abraham van ouds, is Hy ook ons pleitbesorger by God. Jesus pleit vir ons op grond van sy kruisdood dat God ons sal begenadig. Dit is daarom ook net vanweë Jesus Christus dat ons as sondaars die ewige lewe ontvang. Kom ons bid ook vir die sondaars in die wêreld. Kom ons bid vir God se genade oor almal. Kom ons bid dat God ons as instrumente sal gebruik in sy diens om die evangelie uit te dra. 

Ds Gerrit 

Tekens van die tyd…

Ons beleef die afgelope paar jaar sulke interessante en te gelyk skrikwekkende uitdagings in die groot toneel van die wêreld dat ‘n mens onwillekeurig wonder of dit nie nou baie, baie naby aan die wederkoms van Jesus gekom het nie. As maar net ‘n paar van die sogenaamde komplot-teorieë waar sou word, loop ons letterlik op die randjie van die skrikwekkende einde van hierdie bedeling en baie naby aan die koms van die Here Jesus met die wolke. Ten minste maak dit ons as kerk meer waaksaam, terwyl die wêreld meer bedwelmd raak in sy eie gemaksones. Die vraag bly steeds wat sê die tekens van die tyd? 

In sy boek ‘The Bible and the Future’ onderskei prof A Hoekema drie soorte tekens: 

Eerstens, tekens wat die werking en triomf van God se genade wys. Daaronder val hoofsaaklik die verkondiging van die evangelie. Die evangelie sal en moet eers aan al die nasies verkondig word – iets wat natuurlik nou baie makliker geword het met die internet en tegnologie wat so vinnig vorder. 

Tweedens, tekens wat wys op die intensivering van die konflik tussen die koninkryk van Christus en die ryk van die Antichris. ’n Konflik wat sal uitloop op die oorwinning van Christus en die onderwerping van alle dinge onder sy voete. Hieronder noem hy vier dinge: vervolging; die groot verdrukking; die afval; die Antichris. (vgl veral 2 Tess 2) 

Die derde soort tekens is dié wat God se oordeel openbaar en in toenemende mate vooruitwys na die finale oordeel by Christus se wederkoms. Daaronder noem Hoekema dinge soos oorloë en gerugte van oorloë; hongersnode en aardbewings en die finale stryd en oorwinning oor God se vyande. 

Die apostel Petrus sê: “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer. 

Maar die dag van die Here sal so onverwags soos ‘n dief kom. En op dié dag sal die hemel met ‘n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame brand en tot niet gaan, en die aarde met alles wat daarop is, vergaan. Aangesien al hierdie dinge so aan hulle einde gaan kom, moet julle des te meer vroom en aan God toegewy lewe. Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor, die dag waarop die hemel in vlamme sal vergaan en die hemelliggame sal brand en wegsmelt. Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.” (2 Pet 3:9-13) 

Ds Maarten 

“… en van oorkant die Jordaan”

Die koms van die Messias wat verlossing bring het deur die eeue heen vir menige gelowiges ‘n anker vir die toekoms en enigste troos beloof. Dit is hoop en lewe. 

Vir die Jode, wat steeds die Ou Testamentiese verwagting koester van die koms van die Messias, sal daar geregtigheid en vergelding wees. Dit is die herstel van Israel op aarde en die vernietiging van die vyande van God. 

Die Moslems het vir hierdie rede die “Goue Poort” of “Skone Poort” in die muur teenaan die tempel in Jerusalem toegemessel sodat die Messias nie kan inkom nie. 

Verwagting en tydsberekening maak hier nogal ‘n groot verskil… 

So is dit ook as jy self voor die Jordaanrivier staan. Ietwat teleurstellend. Of dalk anders as verwag. Maar nie onbelangrik nie. Dit is nie ‘n Oranjerivier of Limpopo nie. Wat nog om te dink die Nyl… Eerder soos die Caledon of dalk Jukskei. Dit is nie die rivier in opsigself nie, maar eerder wat dit simboliseer waar die verskil kom. Israel/Palestina is aan die Wesbank, en oorkant die Jordaan, Jordanië, dit is Moab, en Ammon, ook Assirië of Assur. Daaragter Iran, Irak, Saoedi-Arabië. Dit is die land van die heidene. 

‘n Skynbare onbelangrike en eenvoudige geografiese verwysing in Matteus 4 kan ‘n mens se begrip maklik ontglip. Of ten minste, dit het nie altyd vir my konkrete betekenis gehad nie. 

Behalwe vir Jesus se geboorte word daar baie min gegewens in die Bybel bekend gemaak oor ons Here se lewe, totdat Hy omtrent 30 jaar oud is, en in die openbaar optree. Na die versoeking in die woestyn word daar vermeld hoe Jesus mense gesond gemaak het van siektes en kwale, van onrein en bose geeste. 

Van oral oor het die mense gekom. Letterlik van oral oor. 

“Groot skares het Hom gevolg, uit Galilea en Dekapolis en Jerusalem en Judea en van oorkant die Jordaan af.” Matteus 4:25 (2020-vertaling) 

In een oomblik slaan dit jou asem weg. Die mense, buite die grense van die beloofde land, oorkant die Jordaan het na die Here Jesus gekom vir bevryding. Daar in Galilea van die heidene, daar begin Jesus om die koninkryk van God te verkondig. 

Hy het gekom om sondaars te red. Was dit nie hiervoor nie, sou ek en jy moes Jode word om deel te kry aan die koninkryk van God. 

Immers, ook ons bly oorkant die Jordaan. 

Lourens Venter (vdm) 

« Older posts Newer posts »