Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Blogs (Page 10 of 52)

Jubel ook met jou kerklike bydrae in 2025

Ons kerklike bydrae is in alle opsigte ’n dankoffer aan God. Uit dankbaarheid teenoor die Here vir Sy genade wil ons die eerste deel van alle inkomste aan Hom van harte en gewillig gee (2 Kor. 8,9). Ons gee met blymoedigheid, as teken vir die opregtheid van ons liefde en nie uit dwang nie. Ons gee omdat alles wat ons is en het aan die Here behoort en Hy vir ons Sy gawes gee om te gebruik (Ps.24:1; Pred.5:17-18). 

Praktiese oorwegings: 

  • Jou bydrae moet eerste en eers afgedra word voordat jou persoonlike begroting in werking gestel word met die oog op die maand wat voorlê (Lev 23:14 en Lev 14:23). Dit lê op die gewete van elke gelowige of jy wil bydra uit jou inkomste voor belasting of na belasting. Bereken wel jou bydrae, voor enige ander uitgawes soos huis-, motor-paaiement, kruideniers- en klere-aankope, kredietkaartrekening en brandstof. 
  • Swak finansiële bestuur, spandabelrigheid, suinigheid en selfsug moet jou nie verhinder om gereelde bydraes te gee nie. 
  • Alhoewel ons in die perspektief van die Nuwe-Testamentiese vryheid leef, is daar nie werklik getuienis in die Skrif wat sê dat dit nie ’n tiende moet wees nie! Ons laat ons in ons heiligmaking en praktiese etiese lewe tog lei deur die gees van die Wet

Ten diepste bly die gee van ’n keurige kerklike bydrae ’n saak van die geloof en die gewete (Maleagi 3:10). As jy gemaklik sonder die geld kan klaarkom wat jy as ‘n bydrae aanbied, moet jy dalk weer besin oor die keurigheid daarvan! 

Ten slotte: “…God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.” (2 Kor. 9:8) 

Oudl Drikus van der Walt 

DIE ONEINDIGE

Openbaring 22 vers 13: “Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.” 

Tydens ons gemeente se Jubeljaar moet ons besin waarvoor en waaroor ons jubel. Ons gemeente is 50 jaar oud, of eerder 50 jaar jonk. Dit is soos ons vyftigste huweliksherdenking as die bruid van Christus. Dit is baie meer besonders as ‘n vyftigste verjaardag. Met die herdenking van ‘n huwelik weet jy van meet af daar is iets besonders. Dit is immers twee mense wat trou beloof het en dit volhou het vir vyftig jaar. ‘n Gewone vyftigste verjaardag is immers besonders en baie mense behaal dit deur die genade van ons Vader. 

Met ons gemeente se vyftigste verjaardag moet ons dankbaar wees teenoor die predikante, kerkraad, katkisasie onderwysers, susters, juventus, projekkoördineerders en nog talle ander wat bydraes gelewer het. 

Met dankbaarheid moet elke lidmaat elke keer as ons saam kom, die Here se Naam groot maak. Nuwe sowel as ou lidmate, jonk en oud, bekend en onbekend moet saam in geloof verenig voor die Hoof van die kerk, ons Here Jesus. Daar is lidmate wat van die begin van die gemeente se bestaan af hier is, daar is ook die wat nog in die toekoms in die gemeente gaan wees. So kom daar ʼn begin en einde aan alles, selfs hierdie gemeente. Maar die kerk van die Here hou nooit op bestaan nie. 

Waarop moet ons fokus en dankbaar wees volgens Openbaring 22 vers 13? Ons Verlosser Jesus Christus alleen. Dit was van die begin af Jesus waardeur ons losgekoop is van ons sondes. Dit moet ons fokus wees as Christene om in Jesus dankbaar te wees en te aanbid. Dit waaroor die totale Woord van God gaan, Jesus wat vir ons ‘n plek gaan berei in die hiernamaals as jy onvoorwaardelik in die Drie Enige God glo. 

Jesus is die Ewige Koning, die Oneindige, Almagtige Here, “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.”— Johannes 1:1-3 (1953 Vertaling) 

Oudl Frikkie Pelser 

DIE EER WAT GOD TOEKOM

Dit is opvallend dat beide die Wet, Eksodus 20, en die gebed, Matteus 6, begin met God se heiligheid. Dit is goed om in die hersteljaar weer na te dink oor God se heiligheid en ons respek vir Hom. Dit is ook belangrik om daarop op te let dat die Heidelbergse Kategismus vanaf Sondag 34 tot 52 oor die Wet en Gebed handel. Dit beteken dat hierdie aspekte bedoel is vir Christene wat reeds die eerste beginsels van die geloof verstaan en bely. 

Wanneer ons besef dat ons God se genade nodig het, dan verstaan ons hoe Hy ons verlos van ons doodsbestaan buite sy liefde. Dit berei ons om ons te bekeer omdat Hy ons tot bekering bring deur die wedergeboorte, deur sy Heilige Gees, en kan ons die ou lewe aflê en die nuwe lewe leef. 

Deel van hierdie nuwe lewe is die respek vir Sy heiligheid soos in die eerste Gebod en eerste Bede beskryf word. Naamlik dat ons geen ander gode sal dien nie en dat Sy Naam geheilig sal word (eerstens deur onsself). 

Aangesien ons deur Christus geleer is dat ons op grond van geloof gered word en uit dankbaarheid ‘n heilige lewe moet lei, is dit goed om ons toewyding aan God te herstel. Laat ons die bede uitleef dat Sy Naam geheilig word in wat ons doen, die plekke waarheen ons gaan, die goed waarna ons kyk, die dinge waarna ons luister, die manier en toewyding waarmee ons, ons werk doen, die manier waarop ons met ons gesin, kollegas en vreemdelinge omgaan en op elke ander terrein van ons lewe. 

Matteus 5: 16 lees “Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is verheerlik.” (2020) 

Oudl Corné Smuts 

ONS MOET VOORBEREI OM TE RUS

Die konsep van ’n jaar van rus, soos in Levitikus 25 beskryf, vra van gelowiges om te stop, te vertrou op God, en te fokus op geestelike herstel. Dit is verstaanbaar dat gelowiges wonder oor wat dit beteken om te ‘rus’? En, hoe kan gelowiges voorberei op ‘n jaar van ‘rus’? Om geestelik te rus en te herstel beteken egter nie net ’n fisiese rus nie, maar ook ’n geleentheid vir geestelike verdieping en versoening. 

Eerstens, gelowiges moet hulle afhanklikheid van God versterk. Levitikus 25:20-22 wys hoe God belowe om in die behoeftes van sy volk te voorsien as hulle die grond in rus laat. Voorbereiding behels gebed en Bybelstudie, om daardeur te leer om in getrouheid God in alledaagse omstandighede te vertrou. 

Die Jubeljaar vra ook vir versoening en vergifnis (Deuteronomium 15:1-2). Dit bied ‘n geleentheid vir gelowiges om konflik aan te spreek, vergifnis te vra en te gee, en gebroke verhoudings herstel. 

Die jubeljaar vereis ook ‘n tyd van geestelike verdieping. 

Psalm 46:1 (53-vertaling) herinner ons: “Laat staan en weet dat Ek God is.” Gebruik die tyd om geestelike dissipline te bou deur gebed, nadenke en stil te word voor God. 

Lukas 4:18-19 wys ons ook hoe Jesus self vryheid en herstel bring – rus is ’n kans om hierdie genade te ervaar: 

Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die goeie boodskap aan arm mense te verkondig. Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word, en vir blindes dat hulle weer sal sien, en onderdruktes te bevry, en om die genadejaar van die Here aan te kondig”. 

Deur hierdie stappe kan gelowiges die dieper betekenis van rus ontdek: om nader aan God en naaste te beweeg terwyl hulle rus in Sy voorsiening. 

Oudl Werner Human 

Wanneer ons die onbekende ingaan

Wanneer ons die onbekende ingaan soos byvoorbeeld ‘n nuwe jaar wat vir ons voorlê is daar altyd onsekerheid in ons hart en gemoed. Ons verwagtinge en toekomsplanne word maklik in die wiele gery deur onbeplande dinge wat gebeur. Dinge waaroor ons geen beheer het nie. 

Ons kan ons egter as gelowiges nie daardeur laat onderkry, of terugsit en depressief en ongemaklik raak vir die onbekende wat voorlê nie. As ons Jesaja 42 lees, dan word dit duidelik aan die volk gesê (wanneer hulle die donker onbekende ingaan en nie weet wat voorlê nie) sal die Here die ongelyke plekke voor hulle gelyk maak en die donker in lig verander. 

Jesaja 42:16 “Ek laat die blindes loop op ‘n pad wat hulle nie ken nie, ek laat hulle op paaie gaan wat vir hulle onbekend is. EK verander die donker voor hulle in lig en Ek maak die ongelyke plekke gelyk. Dit is wat Ek gaan doen, Ek gaan daar nie van afsien nie.” 

Die Here maak ‘n belofte in hierdie hoofstuk en in hierdie vers naamlik dat Hy die onbekende pad wat vir ons voorlê in 2025, met sy woord, sy nabyheid, liefde en genade gaan belig, dat ons die onsekerheid kan ingaan wetende dat ons pad reeds vir die jaar belig is. HY het tog reeds ons blinde paaie met die koms van Sy Seun Jesus Christus verlig, toe hy ons blindheid weggevat het en dit vervang het met die ewige lig. 

Ons kan nie anders as om opgewonde en bly te wees, te Jubel oor die feit dat ons ‘n persoonlike verhouding met die enigste ware God het. Hy vat nie die blindheid weg nie en hy vat nie die ongelyke paaie weg nie, maar Hy loop langs ons en help ons deur die onbekende- en ongelyke beligte paaie. 

Die Heilige Gees lei ons gees elke dag om ons fokus op God te hou. Mag jy ook die nabyheid van God drie-eenheid ervaar in die jaar wat voorlê met die sekerheid dat jy nie alleen loop nie. 

EINDE 2024

Ons het sowaar by die laaste nuusbrief van die jaar gekom. ‘n Jaar met sy eie dinge, maar voorwaar nog ʼn jaar geseën deur ons troue Here en groot Herder. Ons dank Hom vir genade op genade. 

Ons sluit nou die jaar se verrigtinge af met die beste wense vir almal in hierdie feesgety en met die bede dat u mag rus en uitrus in die vrede van God. As u dalk op reis gaan bid ons julle ‘n veilige en voorspoedige reis toe. Mag u elkeen die nabyheid van die Here op ‘n besondere manier ervaar. 

Volgende jaar se uitsig is die groot feesviering van ons gemeente se Jubeljaar. Ons roep vyftig jaar se genade in herinnering en beplan vir die groot naweek van 1 Junie 2025. Ons hoop en glo dit gaan in baie opsigte ‘n baie spesiale jaar wees onder liefdevolle hand van die Here se seën. 

Al ons lof en eer en dank aan Hom wat kan doen vér bo dit wat ons bid of dink. Aan Hom die heerlikheid tot in ewigheid. 

Vergun my om namens u leraars en die kerkraad u elkeen ʼn vreugdevolle Kerstyd en vakansie toe te wens. Mag dit vir ons almal ʼn ware herinnering wees aan die grootste gawe van God en laat ons nie ophou om Hom daarvoor te loof en te dank nie. 

Ds Maarten 

« Older posts Newer posts »