Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 99 of 343)

Ons lewe in Pottebakkershande 

Skriflesing: Jeremia 18:1-23 (2020)
Teksvers: Jeremia 18:6
HK: Sondag 9/10

Soos klei in die hande van die pottebakker, so is die kinders van die Here in sy hande. Hierdie troosvolle woorde laat ons tog ook diep nadink oor alles wat soms in ons lewe gebeur. Die reën en droogte, die goeie en die slegte. God is al die tyd besig om ons te vorm en te maak wat ons moet wees. 

Ons staan vanaand stil by die beeld uit Jeremia waardeur die Here ons ook prakties leer hoe ons in Sy vaderlike sorg moet leef en op Hom moet vertrou. 

Die Liturgie: Die Votum 

Skriflesing: Psalm 124 (2020); Romeine 8:31-34
Teksvers: Psalm 124:8 (2020)

Ons begin vandag met ‘n reeks preke oor die liturgie wat tydens eredienste in die gerefomeerde kerke gebruik word. Alhoewel die liturgiese orde sinodaal vasgestel word, is die bedoeling geensins dat dit elke Sondag identies hoef te wees nie. Die vryheid word aan die liturg oorgelaat en aanpassings in die orde mag selfs help dat alles nie net stereotiep (en dalk effe doods) raak nie.

Die erediens neem sy aanvang met die uitspreek van die VOTUM. ‘n Latynse word wat dui op ‘n verklaring aan die begin van die samekoms. Letterlik beteken die Latynse woordjie “votum” iets soos verklaring, begeerte, gebed of verlange. Met hierdie kort verklaring verlang ons die teenwoordigheid van die Here en konstitueer ons die heilige samekoms in sy Naam.

Bekyk die stad van God – Ps 48:13 

“Gaan om die stad Sion, trek reg rondom, tel sy torings, bewonder sy mure, bekyk sy versterkings” – Ps 48:13 

As ‘n mens na Israel gaan toer en as hoogtepunt op die Olyfberggaan staan en die berg Sion bekyk met die ou stad Jerusalem, dan speel die geskiedenis van die stad van Dawid en die bou van die tempel en die verwoesting daarvan voor jou geestesoog af. Jy sien die ontsaglike mure en fortifikasies en dan word jou gees weggevoer na die nuwe stad Jerusalem (Openb 21 en 22). 

Dit vra egter dat die toerleier jou help om nie by die uiterlike stad stil te staan nie… Jy word herinner dat die kerk/gemeente van God die eintlike stad van God is. 

Die kerk van vandag is die ou Jerusalem, vol gebrokenheid en sonde. Daardie kerk se toekoms is om deur die heiligmaking en groei van die geloof uiteindelik die ware Jerusalem te word: geheilig in die bloed van Christus, skoongewas soos ‘n bruid wat vir haar man versier is (Op 21:2). 

Kyk dan na die kerk van vandag en sien haar skanse en toringtranse: ‘n vestingstad vir die kinders (volk) van die Here; ‘n skuilplek in ‘n wilde en wrede wêreld. Die aanslae is groot en die versoekings geweldig. In die kerk is daar skuilplek teen die bose en sy aanvalle. 

Bekyk dan Jerusalem se mure (skanse) en torings en paleise: Elke huwelik en gesin is ‘n pragpaleis en fort waarin ons, ons veiligheid en krag en vrede vind. Daarom moet u en ek ons huise en huwelike met alle mag teen die vernietigende krag van die bose beskerm. Daar is skuilplek in die kerk en sy bediening. Elke Bybelstudie en Bybelskool en kleingroep en huisgodsdiens en huisbesoek is ‘n vesting om na toe te vlug, waar ons weer krag by die Here kan vind. Die heilige eredienste en kategese is soos ‘n versterkende besoek aan die tempel waar die Here onder sy volk woon. Jou geestelike vriende en broers en susters is jou stuwalle en fortifikasies waardeur ons weerstand teen die bose opgebou word. 

Gaan deur die gemeente van Centurion, bekyk wat die Here gedoen het vir hierdie gemeente en wees bewus van die wonderlike genadegawes wat die Here aan ons elkeen gegee het. Bewaar jou lidmaatskap (attestasie) met ‘n heilige erns deur nie net ‘n meeloper en toeskouer te wees nie, maar deur jou gawes tot nut en voordeel van die liggaam van Christus aan te wend. 

Bekyk hierdie stad as heilige vesting. Doen dit biddend. Dankend. Bid vir jou ampsdraers en leraars en medegelowiges. Dra die bediening op in gebed en weet dat ook gelowiges van die breër kerkverbande saam met ons in dieselfde stryd (en belydenisse) staan as medewerkers en mede-arbeiders en medestryders in die koninkryk van God. 

Laat Sionsberg weerklink van vreug! 

“Aanskou die stad met skanse, 
Paleise, toringtranse – 
hoedat hul pryk met nuwe prag. 
En meld dit aan die jong geslag…” 
(Ps 48:5 berymd) 

Ds Maarten 

In die oordeel van God vind ons rus en vrede

Skriflesing: Ester 9:1 – 10:3
Teksverse: Ester 9:20-22

In die laaste hoofstukke van die boek Ester breek die oordeelsdag aan. Die 13de Desember is die dag van die Pur, die lot van Juda! Maar die HERE het die lot verander sodat die oordeel oor Juda ‘n oorwinning word. So word die geskiedenis van Ester vir ons ‘n vooruit wysing na die groot dag van die HERE, die Jom Jahwe, die oordeelsdag waarop elke mens voor die troon van God sal staan. Dit is juis in daardie oordeel van God wat ons rus en vrede vind.

In die krag van God lê ons sterkte en vreugde

Skriflesing: Ester 8:1-17
Teksverse: Ester 8:16 en 17

Die spanningsvolle opbou van Ester wat haar lewe waag voor die koning en telkens haar versoek laat uitstel, word ontknoop met ontsaglike verligting as Haman die oordeel ontvang wat hy vir Mordegai beplan het. So verander die HERE self die lot (pur). En tog kry Ester nie waarvoor sy vra nie. Sy het gepleit dat haar lewe aan haar geskenk word, maar die wet van die Meders en Perse is onveranderlik.

Hier in Ester 8 sien ons hoe God die kommernis en oordeel verander in oorwinning en vreugde.

« Older posts Newer posts »