Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 33 of 343)

Die ewige lewe is die moeite werd

Skriflesing: Handelinge 13:13-52 (2020)
Teksvers: Handelinge 13: 46-48

Die apostel Paulus is, gelei deur die Heilige Gees saam met Barnabas op die eerste sendingreis. 

Nadat hulle Ciprus besoek het, vaar hulle terug na die vasteland, en van Perge loop hulle deur die Taurus- berge tot by Antiogië in Pisidië. Hulle verkondig kragtig die evangelie, en die hongerige harte van die mense begeer om nog te hoor. Maar die volgende Sabbat, as die hele stad kom om die evangelie te hoor, is die harte van die Jode vol onguns. 

Is die ewige lewe tog die moeite werd? 

Sien jy die Lam van God?

Skriflesing: Joh 1:19-34; Heb 12:1-3; Op 5:1-7; Job 42:5 (1983)
Teksvers: Johannes 1:29

Die Here leer ons in sy Woord om anders na dinge te kyk. Anders kyk is ook anders dink en doen. In ons eie gedagtes is ons mos tot alles in staat, maar in die oë van die Here net nog verlore sondaars! 

Hy roep ons op om die wonder van sy genade nie mis te kyk nie. Die Man van Nasaret, die seun van die timmerman, die mens Jesus, is die Een wat in staat is om die onmoontlike te doen. Om versoening tussen die heilige God en mense te bewerk. 

En die eenvoudige tekens van die Nagmaal stel u vandag weer in staat om Hom en sy versoeningswerk raak te kyk/sien: Die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. 

 VIER HIERDIE JAAR EN ELKE JAAR ‘n JUBELJAAR

 Ons Jubeljaar of eerder jubellewe begin by die Here. Hy seën ons met ʼn nuwe lewe van oorvloed. Ons deel reeds, en sal eendag in volmaaktheid, deel in sy ewige lewe. Ons jubel nie net elke 50 jaar nie, maar elke dag. Vir ons as verlostes is dit hierdie jaar en elke jaar ʼn jubeljaar. Ons lees van die belangrikheid van rus: 

“So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê” (Jesaja 30:15). 

In ʼn jubellewe kom ons die Here se voorskrifte na en gehoorsaam sy bepalings. Die belofte is: “As julle dit doen, sal julle sonder sorge in die land kan woon” (Lev 25:18). Die aarde en alles daarop behoort aan die Here. ʼn Jubellewe is alles wat ek is en het, en is deur die Here aan my geleen. 

Ons moet dus vir Hom alles gee wat Hy van ons vra. Ons moet gereeld bid dat die Here ons lewe sal verander sodat Hy meer word en ons minder en dat ons meer aan Hom toegewyd sal wees. 

Jubeljaar (Louis Brittz se lied) 

Ons kies die kruispad met ʼn glimlag 
Losgekoop, getuig ons van die kruis 
Jesus, gee sy jubelgees, dat ons al meer soos Hy kan wees. 
Die grond waarop ons voete loop, sal bewe, 
Sal vrugdra want die kruis bring lewe 
Die jubeljaar-belofte bly, skud jou kettings af, jy’s vry 
Kyk, kyk die Koning het gekom om te sê 
Hy bring die jubeljaar. 

Daar’s hoop, hope hoop, ons kan maar droom. “Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want Hy is getrou: Hy doen wat Hy beloof het” (Heb 10:23). 

Daar’s vreugde in die jubeljaar. 

Dis hierdie jaar en elke jaar, ʼn jubel, jubel, jubel, ʼn jubeljaar… 

Is dit ook waar van jou lewe? 

Oudl Ben Erasmus 

Die Here bewaar jou oppad 

Skriflesing: Psalm 121 (1983)
Teksvers: Psalm 121:8

Ons het verlede week geleer dat ons bestemming veilig is. Wat ‘n heerlike uitsig op ewige herstel (Jes 35). Ons weet dat Jesus ook saam met ons op hierdie reis is! Ons weet nou ook dat Hy die pad voor ons uitgeloop het, die pad/weg na die kruis, waarvoor Johannes die Doper die wegbereider was (Mat 14). 

Psalm 121 leer ons vanaand dat die Here ons op hierdie pad bewaar. Selfs al gaan ons pad deur die dood heen is Hy steeds daar met sy bewarende regterhand. Ook hiervan is die Nagmaalviering van volgende Sondag ‘n bewys en versekering. 

« Older posts Newer posts »