Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 13 of 343)

Wag! Wat kyk jy?

Hemelvaart 14 Mei

Handelinge 1:1-14

Skriflesing: Ps. 47:1 en 2

Die Belofte van die Vader, is die geskenk van Christus se verdienste. As die werk van ons Here Jesus
vervul is, en Hy na die hemele opvaar, dan beveel Hy die dissipels om te wag. Daar is niks wat ‘n mens uit
eie kragte kan vermag in die koms van die koninkryk van God nie. Hulle moet wag. Die krag uit die hoogte
sal hulle toerus om die werk te doen. As Jesus dan wegvaar, en hulle staar die hemele in, vra die engele vir
hulle waarna kyk hulle so verstom! Wag, en kyk, jy sal sien.

Twee Jode en die Vraag oor die Messias

 Justinus die Martelaar is in 100 vC in Palestina gebore en weens sy Griekse ouers raak hy bekend as filosoof en kom mettertyd tot geloof weens die woorde van ʼn ou onbekende man op die strand van Efese. Hy is in die tweede eeu bekend vir sy apologetiese geskrifte. 

Een van die merkwaardigste gesprekke uit die vroeë kerk is die dialoog tussen Justinus die Martelaar en Trypho, die Joodse gespreksgenoot in Dialoog. Dis nie bloot ’n debat nie; dis twee mense wat saam worstel met die Ou Testament en die vraag: Wie is die Messias werklik? 

Trypho kon nie verstaan hoe die gekruisigde Jesus die beloofde Koning van Israel kon wees nie. Vir hom moes die Messias in heerlikheid kom, sy vyande verslaan en God se koninkryk oprig. Justinus antwoord egter dat die Skrifte van twee komste praat: eers die lydende Kneg van Jesaja 53, later die komende Koning van Daniël 7. 

Dis merkwaardig hoe aktueel die gesprek vandag nog klink. Ons verkies ook dikwels ’n Christus van krag en oorwinning, maar sukkel met die nederige, lydende Christus wat sy lewe gee vir sondaars. Tog lê juis daarin die hart van die evangelie. 

Vir Justinus is die wederkoms nie ’n losstaande leerstuk nie. Dit vloei uit die kruis en hemelvaart voort. Die Een wat gekom het in swakheid, het oorwin en opgevaar en kom weer in heerlikheid. Deur lyde tot heerlikheid! 

Daarom leef die kerk tussen twee groot waarhede: Christus hét gekom, en Christus sál weer kom. 

Die vroeë Christene het dit met een Aramese woord bely: Maranata — “Ons Here kom” of “Kom, Here Jesus!” Vir gelowiges is dit ’n woord van hoop, troos en verwagting. 

Ds Maarten 

Veilig in sy Voorsienigheid

Skriflesing: Psalm 34 (1983)
Teksvers: Psalm 34:8,9
HK: Sondag 10

Laat ons onthou dat ons in die aanddienste besig is in die leerprediking om die Heidelbergse Kategismus te verklaar. Vanaand kyk ons verder na die eerste sin van die Apostoliese Geloofsbelydenis: “Ek glo in God die Vader…” 

Die aanddienste gee aandag aan ons gereformeerde geloofsleer en dit sal raadsaam wees om te sorg dat ook ons groter kinders saam met u saans in die aand-eredienste kom vir hierdie onderrig. 

Vanaand bedink ons die Woordjie “voorsienigheid” wat God se omvattende beskikking en sorg vir sy kinders beskryf.

Hy wat in julle is, is groter as hy wat in die wêreld is

Skriflesing: 1 Johannes 4:1-21 (2020)
Teksvers: 1 Johannes 4:4,18

Die liefde dryf vrees buite. As die liefde van God in jou is, en jy in God leef, en Hy in jou, dan is daar geen vrees en verskrikking wat jou sal afsit om jou liefde aan God te bewys nie. 

God het ons eerste liefgehad, en daarom kan ons Hom liefhê. God is liefde. En die liefde is uit God. Maar die liefde is nie God nie. Die liefde het nie goddelike status nie. 

God is ook nie net liefde nie. God is ook Lig. God is Waarheid. God is Lewe. Met ander woorde, die liefde vind alleen betekenis as dit in God is. 

Watter heerlike troos is daar om te weet, dat Hy wat in die gelowige sy woning maak, en sy liefde vestig, is groter as hy wat in die wêreld is. 

 Die See het Gevlug

 Met die milde reën wat ons oral oor ontvang het die laaste maand of twee, is dit opmerklik hoeveel invloed die weer op die gemoed van mense het. Sommige saaiboere is moedeloos van al die water, wat die oeste op die land bederf. Die veeboere is dankbaar vir goeie weiding vooruitsigte, maar daar is nuwe siektes wat weer opvlam. Mense se besighede word geraak, buite aktiwiteite word beperk, en in sommige gebiede kom daar geweldige skade. 

Vir ‘n oomblik besef ‘n mens hoe dit moes wees in die tyd van Noag, toe die reën nie ophou nie. Toe die water aanhou styg. As mense probeer plan maak om hulle huisraad en besittings van die water te red. Dink uself in watter geweldige en vreesaanjaende verskrikking dit moet wees. Om die wêreld rondom jou te sien verdrink. Slegs die wat in die ark was, is gered. Christus is die ark van ons verlossing. Hy alleen is die Een waarin ons kan skuil, ‘n veilige Rots. 

Daar is egter ‘n tweede beeld van water, waaraan Psalm 114 ons herinner. Daarvan word beskryf hoe die water gevlug het. Die see het gevlug, die Jordaanrivier het terug gedeins. Voor die aangesig van God word die watervloede diensbaar. Die natuurkragte is gehoorsaam aan die Woord van God. Maar daardie selfde natuur elemente is simbole wat heenwys na God se oordeel en genade. 

Die vloed wat die beeld van die doop, net so ook die Rooisee en die Jordaan. Israel is gedoop deur die water, is gered deur die water heen. Christus self leer ons dat Hy die Water van die lewe is. Elkeen wat Hom drink, strome lewende water sal uit hul binneste vloei.

 Laat ons dan ook in hierdie tyd besef hoe God deur die natuur ons herinner aan sy genade en oordeel. Aan sy liefde en trou, en bo dit alles, ons verlossing. 

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »