Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 109 of 343)

Bou jou huis op die Rots 

Skriflesing: Matteus 7:1-29
Teksvers: Matteus 7:24-25

Om nie ‘n huis te hê nie, is glad nie lekker nie. Daar is oor die wêreld miljoene mense wat nie ‘n huis het nie.

Almal probeer tog om vir hulleself ‘n skuiling te maak of ‘n veilige plekkie waar hulle beskerm word teen die elemente van die natuur. Maar as jy hierdie huis of skuiling op die verkeerde plek bou, kan dit jou duur te staan kom. So is daar in Centurion baie huise wat sommer net wegsak in die grond, want die fondamente is nie goed.

Op hierdie manier verduidelik Jesus dat ons ook ons geestelike lewe op die vaste fondament moet bou en nie op sandkastele nie.

Oordenking 24 April

Dien mekaar met julle gawes.

Maandag 23 April 2023
Lees: 1 Petr 4:7-11 7 “Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid. 8 Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes. 9 Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla. 10 As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ‘n genadegawe ontvang het, die ander dien.
11 As iemand die gawe ontvang het om te preek, moet God deur hom aan die woord kom; as dit is om in die gemeente te dien, moet hy dien met die krag wat God verleen. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! Amen.”

Ons lees in vers 7: “Die einde van alles is naby…” Die christene van die vroeë kerk het verwag dat die Jesus in hulle leeftyd, weer sal terugkom aarde toe. Maar die presiese tyd weet niemand nie net die Vader in die hemel. Ons lees in Mat 24:36 “Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.” Maar alhoewel ons nie die presiese dag en datum en tyd van Jesus se wederkoms weet nie, beteken dit nie dat ons nie voorbereid moet wees nie. Ons weet verseker dat Jesus Christus weer sal terugkom aarde toe met die wederkoms, wanneer die einde van die aarde aanbreek. Daarom moet ons in Verwagting leef.

Maar hierdie tyd waarin ons in verwagting leef, beteken nie dat ons maar kan terugsit en niks doen nie. Inteendeel ons lees van Paulus se harde werk onder die gemeente van Tessalonika in 2 Tes 3:6-18. Dit is om hierdie rede dat ons in verwagting moet leef, maar met ‘n voorbereidheid en dit terwyl ons mekaar dien.

Petrus gee hier tien opdragte van hoe ons moet leef terwyl ons wag op die wederkoms.
1 Wees nugter en selfbeheers. V7a Die Heilige Gees woon in jou en leef onder Sy leiding.
2 Bid gedurig. V7b
3 Wees hartlik lief. V8
4 Wees gasvry. V9
5 Gebruik jou geestelike-gawes om ander te dien. V10,11
6 Moenie verbaas wees oor swaarkry nie. v12
7 Verbly julle oor lyding namate die wederkoms nader kom. V13
8 Moet nie skaam wees oor lyding nie. V15,16
9 Verheerlik God. V16-18
10 Vertrou jou lewe toe aan God. V19

Hoe ons as christene moet optree namate die eindtyd naderkom is om in liefde mekaar te bedien. Ons moet so leef dat ander mense en gelowiges kan sien dat ons liefhet en omgee vir mekaar en vir alle mense. Ons opdrag is om opreg en eerlik en in liefde vir God en vir mekaar te leef.

Ware liefde is om mekaar se goeie punte raak te sien en daarop te fokus en dit te help uitbou. Moet nie iemand anders se swak punte raaksien en dit uitbuit, sodat dit hulle tot oneer strek nie. Werklike liefde is om mekaar te bedien met die liefde van God tot eer van God en tot voordeel van jou naaste. Dit is regtig harde werk, want as mense is ons dikwels geneig om die slegte in mekaar raak te sien en net oor die slegte te praat, te skinder en nie die goeie oor te praat nie.

Dien dus jou medemense met liefde en begrip en gasvryheid. Bid vir mekaar en wees lief vir mekaar. Namate die wederkoms nader kom gaan dit ook al hoe moeiliker raak op aarde, maar verbly jou in die Here, in jou verlossing in en deur Jesus Christus, want ons weet waarnatoe ons op pad is, na die ewige lewe by ons Hemelse Vader.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Hoe dankbaar? 

Skriflesing: Romeine 12 
Teksvers: Romeine 12:1-2 
HK Sondag 1 vr 2 

Ons leer by die kategismus-leraar dat ons troos nodig het. Sy tweede vraag veronderstel dat ons sekere kennis nodig het wat ons sal troos. 

Kennis wat swaarder weeg as die probleem van die gemors waarin ons weens die sonde beland het. Gewoonlik sal ‘n goeie gereformeerde dit opsom as kennis van sonde-verlossing-dankbaarheid… 

Miskien is daar meer in die belydenis as net die drie woorde of dinge. Paulus skryf selfs dat ons ‘n metamorfose moet ondergaan! 

Eerlik vir liefdesappels gehuur 

Skriflesing: Genesis 30:1-26
Teksvers: Genesis 30: 14-16

Sommige mense voel hulle lewe lank verwerp en nie goed genoeg dat iemand hulle sal liefhê nie. Lea was so vrou. Jakob haar man, het 7 jaar lank gewerk vir haar pa Laban om met haar suster Ragel te trou, maar haar pa het haar, die ouer suster aan Jakob gegee. Maar dit was nie die vrou wat Jakob wou hê nie, daarom het hy nog 7 jaar gewerk vir Ragel. 

In hierdie tragiese gebeure sien ons hoe twee susters veg om liefde. Ons staan vanmore stil by die kwartaal tema van die huisgesin waar Lea so ver gaan as om haar eie man, nogal eerlik vir liefdesappels te huur. 

Koningskinders: Die huis op die Rots 

Eerskomende Woensdag vertrek ons gemeente op ons tweede koningskinderskamp na Udolpho Rivierplaas. Ons het ongeveer 100 kinders genooi uit ons gemeenskap hier in Centurion vanuit die verskillende laerskole. 

Vir baie van hierdie kinders is dit die eerste keer in hulle lewe wat hulle op ‘n kamp gaan. Die laaste drie jaar het ‘n nog swaarder las op baie gesinne geplaas wat dit glad nie kan bekostig om enigsins van die huis af weg te kom nie. 

Daar is ongeveer 50 lidmate uit ons gemeente wat saam op die kamp gaan as groepleiers, kosspan, triekfabriek en sommer net algemene hulp. Daarby het nog tientalle lidmate gehelp om al die middele in te samel wat ons nodig het om hierdie kamp moontlik te maak. 

Daar is sjampoe in botteltjies afgemeet, lekkergoed pakkies gepak, handpoppies gemaak en koekies en beskuit gebak. Daar is te veel om op te noem om te kan dankie sê. Vir elke lidmaat wat hand uitgereik het, ons innige dank. Maar dan moet ons ook dit sê: hoe sê ons dankie as ons doen wat ons as gelowiges moet doen. Dit is tog ons roeping om die evangelie uit te dra. 

Daarom gaan ons ook vir elkeen wat nie ‘n Bybel het nie, hulle eie Bybel gee. Ons tema hierdie jaar is: die huis op die Rots gebou. Ons gaan vanuit God se Woord ondersoek hoe ‘n huis lyk met goeie fondamente en wat gebeur met ‘n huis wat nie goeie fondamente het nie. 

Dit geld ook vir ons gemeente en ons elkeen se eie lewe. Ons moet lewende stene wees gebou op die fondament, die Hoeksteen, Christus. As die Here wil sal ons volgende Sondag, almal saam hier die erediens bywoon, as die hoogtepunt van ons kamp. 

Mag die samekoms van die gelowiges, ook vir jou die hoogtepunt wees waar elke nuwe week begin, om jou huis op die Rots te bou. 

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »