In die geskiedenis van die Christendom is daar donker hoofstukke wat ons nie mag vergeet nie. Een daarvan is Bartolomeusnag, wat in die nag van 23–24 Augustus 1572 in Parys begin het.

Frankryk was destyds diep verdeeld tussen die Rooms-Katolieke meerderheid en die Protestantse Hugenote. Te midde van hierdie godsdienstige spanning is ’n huwelik tussen die Protestantse Hendrik van Navarra en en die katolieke Margareta van Valois gereël, in die hoop om versoening te bevorder. Talle Protestantse leiers het vir die troue na Parys gekom.

Die vrede was egter van korte duur. Ná ’n aanslag op admiraal Gaspard de Coligny, ’n invloedryke Hugenoteleier, het geweld uitgebreek. Op Bartolomeusnag is Coligny vermoor, waarna ’n bloedbad op Protestantse gelowiges in Parys gevolg het. Die geweld het daarna na ander dele van Frankryk versprei. Duisende Hugenote is doodgemaak.

Hierdie tragiese gebeurtenis herinner ons daaraan hoe gevaarlik dit word wanneer mense godsdiens gebruik om haat, wraak en geweld te regverdig. Geloof wat deur dwang en bloedvergieting afgedwing word, weerspieël nie die liefde van Christus nie.

Die Protestantse Hervorming het mense teruggeroep na die gesag van die Woord van God en die verlossing wat alleen deur Christus kom.

Bartolomeusnag herinner ons dat hervorming nie net oor kerklike leerstellings gaan nie, maar ook oor die gesindheid van ons harte.

Mag ons nooit vergeet dat Christus ons roep om selfs ons vyande lief te hê nie (Matteus 5:44). Ware geloof lei nie tot vervolging nie, maar tot waarheid, genade, vrede en liefde.

Waar geloof haat voortbring, is daar ’n dringende behoefte aan hervorming.