Die ouderlinge en diakens het die afgelope week vergader nadat ‘n kortlys van 5 name saamgestel is vir die beroeping van ‘n nuwe predikant. Om te beroep, is dus niks anders nie as ‘n noodkreet, ‘n vra vir hulp. Ons vind hierdie beskrywing in Handelinge 16 waar Paulus op die tweede sendingreis is, en graag die evangelie verder wil uitdra na Asië. Die Heilige Gees verhinder egter die geselskap se planne, totdat hulle in Troas kom. Daar sien Paulus in ‘n droom ‘n Macedoniese man wat roep om hulp.
“En Paulus het ‘n gesig in die nag gesien—daar staan ‘n Macedóniër wat hom smeek en sê: Kom oor na Macedónië en help ons!” Handelinge 16:9
Die beroep, of roeping van ‘n bedienaar van die Woord is ‘n vra vir hulp met geestelike leiding. Paulus moes daar in Europa die Woord gaan verkondig. Hy moes die evangelie van genade uitdra. Dan sou ons tot ‘n sekere mate hierdie woorde kon verander na: “Kom oor na Centurion en help ons.” Dit moet ons biddend vra. Ons moet vra dat die Heilige Gees ons sal lei en so ook die beroep sal lei, sodat wie die Heilige Gees roep, sal kom. Dan is dit nie die gemeente wat roep nie, maar God wat self roep en stuur.
Binne die volgende klompie weke gaan ons twee predikante nooi om by ons in die gemeente te kom preek, sodat die gemeente ook met die predikante kan kennis maak. Daarna gaan ons ‘n gemeentevergadering reël om te beroep.
Mag ons dan saam biddend in vertroue tot God nader, sodat Hy self ons sal lei in die roeping, nie net van die bedienaar van die word nie, maar in ons hele lewe.
Namens die beroepingskommissie
Lourens (VDM)