Gebed is een van die grootste voorregte wat God aan sy kinders gee. Deur gebed mag ons met eerbied, maar ook met vrymoedigheid, tot die Here nader. Dit is nie bloot ‘n lys van versoeke nie, maar ‘n persoonlike gesprek met ons hemelse Vader, waarin ons Hom loof, ons sondes bely, dankie sê en ons behoeftes aan Hom bekend maak. 

Die Here Jesus het sy dissipels geleer hoe om te bid en het self ‘n lewe van gebed gelei. Hy het dikwels afgesonder om met sy Vader te praat. Dit herinner ons daaraan dat gebed nie net vir moeilike tye bedoel is nie, maar deel van ons daaglikse wandel met God behoort te wees. 

Die Bybel leer dat God die gebede van sy kinders hoor. Tog antwoord Hy volgens sy volmaakte wil en wysheid. Soms is sy antwoord “ja”, soms “nee”, en soms “wag”. Daarom bid ons met vertroue, maar ook met oorgawe aan sy wil. 

Ware gebed kom uit ‘n opregte hart en word gedra deur geloof in Jesus Christus. Soos Filippense 4:6–7 ons leer, hoef ons oor niks besorg te wees nie, maar moet ons alles deur gebed en smeking, met danksegging, aan God bekend maak. Dan sal die vrede van God ons harte en gedagtes bewaar. 

Mag ons daarom volhard in gebed, want dit versterk ons geloof, bring ons nader aan God en leer ons om in alle omstandighede op Hom te vertrou. 

Die Bybelskool van Centurion olv ds Maarten begin eerskomende Dinsdag 4 Augustus oor die Gebed. Moet dit nie misloop nie. Ons het verskeie sprekers ingevoer. Elke Dinsdagaand van 19:00 -20:30 in die kerkgebou. Sien jou daar! 

Ds Maarten