Die term Koningskinders is al sinoniem met evangelisasie in die GKSA. Dit staan elke gemeente vry om self die geleentheid aan te gryp om op so ‘n besondere wyse kinders uit ons gemeenskap geleenthede te bied wat nie altyd moontlik is nie. 

Die inisiatief het in die 1980’s begin toe ds. Lammert Stavast sommer ‘n kombi vol kinders gelaai het en met hulle see toe gery het. Stelselmatig het die behoefte gegroei veral vir kinders wie se huise nie kerklik gebonde is nie, en al hoe meer gemeentes het die “patent” gebruik vir kinder-evangelisasie. 

In my matriekjaar het ons gemeente in Pietersburg-Noord die eerste keer ‘n kamp gehou. Dit het my lewe drasties verander. My oë het oopgegaan vir die geestelik nood in ons gemeenskap en selfs eie buurt. Ek het ook betrokke geraak by die koningskinders in Cachet-gemeente tydens my studentejare. Daar was ook kampe wat ek help aanbied het in Ellisras en Potgietersrus. Later saam met sewe gemeentes in die Bosveld streek. 

Ons het ook kampe gehou in Hoedspruit en Kimberley, en so ook hier in Centurion. Die nood bly oral dieselfde, die verlange na die suiwere evangelie van Christus wat sondaars red. 

Dit maak hierdie woordjie so uniek, Koningskinders, want dit is nie net vir kinders aan wie die evangelie verkondig word nie. Elke kind van ons hemelse Vader is ‘n kind van die Koning. Ook ek en jy is Koningskinders. 

Kyk watter groot liefde God aan ons bewys het, dat Hy ons sy kinders noem! 

Dit is ‘n voorreg en seën om ‘n kind van die Koning te mag wees. Ons wat natuurlik kinders van die sonde was, word nou kinders van God gemaak. Deur sy liefde maak Hy ons sy kinders. Hy neem ons aan sodat ons egte kinders mag wees. En ons moet dit ook wees. Maar kinders van die Koning maak jou ook ‘n prins en prinses. Dit is ‘n wonderlike eretitel en status, en tog ook nie. Want ‘n prins en prinses wat nie hulle ereplek waardig is nie, bring die Koning in onguns. 

Watter voorreg geniet ons tog om kinders van God genoem te word. Mag ons ook met die Nagmaal sien hoe kosbaar dit is, om saam met ons Here Jesus te deel in die wonderlike gawe as Koningskinders. 

Lourens (vdm)