Losgekoop met die bloed van Christus
Vrydag 3 Maart 2023
Lees: 1 Petr 1: 18-19 ‘83 “Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. 19 Inteendeel, julle is logeskoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.”
Losgekoop is vir ons as christene vandag ‘n verstaanbare, teologiese term. Ons is losgekoop met die bloed van Jesus Christus van ons sondes. Jesus Christus het vir ons sondes betaal met sy bloed. Maar ons sal die begrip nog beter verstaan as ons dit lees in die konteks van die tyd waarin Jesus Christus geleef het, dit is in die eerste eeu na Christus. In Jesus Christus se tyd was daar baie slawe. ‘n Slaaf het ten volle aan sy eienaar behoort en ‘n eienaar van ‘n slaaf kon met die slaaf doen net wat hy wil. Hulle kon die slawe gebruik en misbruik soos wat hulle wou.
Hoe kon’n slaaf weer ‘n vryman of vrou word? Daar was twee maniere:
Eerstens Hy kon geld bymekaar maak en ‘n losprys betaal, of
Tweedens, iemand anders moes die geld vir hom betaal.
As ons nou dink, daar was na berekening, ongeveer 60 miljoen slawe in die Romeinse ryk.
Die Israeliete het goed geweet wat slawerny was. In Egipte was hulle slawe wat hande-arbied moes verrig. God het hulle egter bevry deurdat Moses hulle uit Egipte gelei het. Daarna was hulle weer slawe toe hulle weggevoer is na Babilonië toe, maar God het hulle weer daar bevry deurdat Koning Kores van Persië hulle teruggestuur het na Israel. (2 Kron 36:23) Nou is Israel weer slawe maar onder die Romeine, dit is ook in die tyd wat Jesus gebore is en geleef het.
Ons was ook slawe van die sonde, MAAR ons is losgekoop van ons sondige bestaan.
Tit 3:3-7 “3Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat. 4 Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. 5 Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. 6 God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser. 7 So is ons dan deur sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag.”
Verlossing of losgekoop beteken dus om vry te word deur die betaling van ‘n bedrag of prys.
- Vir ons as sondaars wat slawe van die sonde was is daar betaal met die bloed van Jesus Christus, een maal vir altyd.
- Ons is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekkeloos en sonder liggaamsgebrek is.
- Geliefde, jy wat luister en hierdie boodskap lees.
- Glo dit wat die Bybel verkondig.
- Leef uit dankbaarheid in afhanklikheid van God.
- En jy sal die ewige vreugde van God in en deur Jesus Christus ervaar.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com