In Johannes 1 openbaar die Heilige Gees aan ons dat Jesus Christus, die Logos, die Woord, mens word en onder ons kom woon. Dit is ook wat so mooi verwoord is in die belydenis van Nicea: “Hy het ter wille van ons mense en ons saligheid, uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees, uit die maagd Maria, vlees geword, Hy het mens geword.”

Dit is hierdie menswording waarin ons die volle openbaring van God aanskou. Hy wat Jesus is, is die ware mens. Hy is die Woord van God. Hy is die volle openbaring, die volle bekendmaking van God se genade en oordeel.

Dit is waarna die hele Skrif verwys. Dit is waarop die hele “testament” gebou word. Petrus skryf dat die profete aangaande hierdie saligheid ondersoek ingestel en navorsing gedoen het hoe en waar en wanneer die Christus sou verskyn om die belofte van die testament te vervul.

Die Bybel is nie bedoel vir die engele nie. God gee sy Woord aan ons as mense. Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die nageslag van Abraham, dws oor die gelowiges, is Hy besorg. Hierdie woorde kom uit Hebreërs 2 waar die skrywer Psalm 8 verklaar en wys op die Mens na wie verwys word. Hy wat skaars minder as die engele geword het. Hy wat Sy heerlikheid neergelê het, om aan mense gelyk te word.

Dit is hierdie wonderlike evangelie, die Blye Boodskap wat ons vandag in ons eie taal mag ontvang en lees en daaruit naspeur wie die Christus is. Die splinternuwe 2020 direkte vertaling word vandag in gebruik geneem na baie jare se harde werk.

Ons hoop en vertrou dat elkeen nie net die nuwe vertaling van die Bybel sal hou op die rak as vertoonstuk nie, maar dat hierdie woorde ingedrink, ingeasem en oordink mag word. Want hierdie woord word aan ons gegee sodat ons sal leer ken wie Hy is en wat Hy doen. Hy lê Sy woord in ons harte en messel dit vas deur die kragtige werk van die Heilige Gees. Laat die Heilige Gees dan in elkeen se hart strome van lewende geloofswater vloei deur ywerige Bybelstudie om geloofswaarhede keer op keer te herbevestig. Dan is ons toegerus om aan gewillige luisteraars in gehoorsaamheid aan Mat 28:19 hierdie nuwe lewe in Christus te getuig sodat daar ook lewe in hulle dooie harte kom en God daardeur die lof en eer ontvang.

Lourens Venter (vdm)