Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 318 of 346

Eljada Huis Nuusbrief

ELJADA HUIS
Boekenhoutkloofstraat 949, Claremont
012 377 0503 / 060 984 0809(An) / 079 377 5711 Petro)
eljadahuis@mweb.co.za / www.eljadahuis.weebly.com
Bankbesonderhede: Eljada Huis, Standard Bank, Montana,
Marketlink spaar, 044396058, Bankkode 051001

***********************************************************

2 Augustus 2018(10)

Goeiemôre Almal,

My gebed: “Dankie Vader vir U beskerming, troos, liefde, genade en versorging, Amen”

Die huis se alarm maak my vir die tweede keer hierdie week wakker. Toe my oë oopgaan is dit daglig in my kamer en die besef van iets groots en angswekkend is besig om buite te gebeur tref my op die krop van my maag. Ek spring op en trek die gordyn weg. Met afgryse en ‘n totale gevoel van hulpeloosheid staar ek na die vlamme wat besig is om die lapa te verteer. Dis 00:32 27 Julie. My onmiddelike reaksie is om vir Ubuntu, ons sekuriteit te skakel en ek skree-sê vir die operateur die adres en dat hulle die brandweer  moet laat weet want dit brand buite. Die alarm skree steeds onder en ek de-aktiveer hom sodat ek kan uitgaan en gaan kyk. Buite staan daar reeds ‘n skare mense wat kom probeer help maar hulle kannie inkom nie. ‘n Man wat op ‘n manier oor die hek geklim het en plat op sy boude sit by die westelike hek, ruk en pluk om hom oop te kry maar vergeefs. Ek skree vir hom om op te hou want ek het die sleutel van die slot by my. Ek maak die hek oop en almal storm in om te kom help maar weet nie waar om te begin nie. Intussen het die krag uitgeskop toe die drade begin smelt het en dis donker om ons behalwe vir die verterende vuur wat hoog brand. Dankie Vader daar was geen wind nie en die lapa is ‘n entjie van die huis af maar, ten spyte daarvan het die verksriklike hitte my kamervensters laat kraak. Die brandweer daag op en die manne begin spuit. Bykans ‘n uur later lyk dit asof die vuur geblus is maar bly smeul. Ek staan steeds stil, in my (ordentlike) slaapklere, kaalvoet(voel nie eens die dorings wat steek nie) en staar verstom en verslae na wat oorgebly het – ‘n swart massa. Daar was kosbare items in bokse gestoor onder die lapa wat ons Woensdag en Donderdag gaan laai het by ‘n huis waar beide man en vrou gelyktydig in ‘n motorongeluk gesterf het en die kinders veroek het dat ons dit gaan haal as dit bruikbaar is vir ons. Ja dit was, maar die Here het ook besluit om deur die satan alles van ons weg te neem en daardeur vir ons laat besef dat ons dit nie nodig gehad het nie. Ek berus my daarin.

Maandag laataand het iemand ook die hek se motor aan die brand gesteek om op die manier toegang tot die perseel te kry. Satan nie sy sin gekry nie want die  buurtwag manne en vroue het op die brand afgekom en toe die hek oopgaan is die huis se alarm geaktiveer wat my wakker gemaak het. Hulle het dadelik die brandblussers wat buite was gegryp en die brand geblus. Die motor is egter totaal vernietig en ek het geen antwoorde vir enige van die twee gebeurtenisse wat soos die Here dit wou hê in dieselfde week gebeur het nie.

Dankie GK Centurion wat dadelik bereid was om die uitgawe vir die vervanging van die hek se motor te dek ten spyte daarvan dat die versekering ook ‘n deel betaal het. Ons waardeer sulke vriende in nood onbeskryflik baie. Ons uitgawes verder was om weer die brandblussers aan te vul en addisionele blussers – een in my kamer en een by die kantoordeur – aan te bring @ R2200. Die besef tref my dadelik dat die “veldkombuis” wat ‘n gasbrander is met ‘n 48kg gasbottel daarnaas ook beveilig en gesertifiseer moet word as wetlik. Dit kos ons R4000. Hierdie uitgawes maak ‘n duik in ons finansies, maar is nie onderhandelbaar nie maar noodsaaklik. Ek moes ook kos gaan aankoop om vir die naweek genoeg te kon hê vir ons gesinne. Dit het R6500 beloop.

Steeds is ons kosnood groot, maar ons weet dat die Here ons sal seën met dit wat ons wel nodig het. Dankie nou reeds aan Hom.

Ons behoefte is nie-bederfbare blikkies of pakkies, koffie, tee, boksmelk, suiker, ontbytpap, broodsmere, pasta en toiletware. Enige iets wat in ʼn huis gebruik word behalwe luukshede(vir ons bederfies) is welkom. Ook daardie klein komplimentêre sepies, sjampoo en ander toiletware wat so lastig in jou huis rondlê kan baie goed aangewend word hier by my.

Ek het ook ‘n uiters verdienstelike dogter hier by my wat R900 vir haar veldskool kamp benodig.

Ek wil weereens my dank aan elkeen oordra wat getrou maandeliks bydraes vir die huis maak. Klere, kos, meubels, finansieel en die heel belangrikste dat julle aan ons dink in jul gebede. Sonder hierdie dinge sal Eljada Huis verval in maar net nog ‘n gemeenskapsprojek wat gefaal het. Die bewyse is daagliks sigbaar hoe God vir ons sorg  en iemand het vir my ‘n baie mooi kompliment gegee naamlik dat satan ons sal beproef want iets wat hier gedoen word is vir God aanvaarbaar en Hy sal sorg. Hy is in beheer hier en ek, kleingelowige moet dikwels my kop in skaamte laat sak oor Sy almag. Dankie weereens.

Lekker naweek

Annatjie

“Smaaklike ete”

Daar sit meer in ‘n heerlike ete as bloot net ‘n smaaklike ete. Het jy al deur die Bybel geblaai om te kyk na al die etes wat in die Ou- en Nuwe Testament beskryf word? Ons kan byvoorbeeld dink aan die heerlike kos wat voorberei was in die lewe van Abraham, Isak en Jakob. So kan ons dink aan die etes wat voorberei is in die tyd van Josef. Josef het byvoorbeeld by geleentheid die drome van die Farao uitgelê wat oor kos gehan-del het. Josef het selfs etes vir sy broers voorberei. Ons kan dink aan die offers wat die Here voorgeskryf het, waar die gesin saam geëet het. Verder die instelling van die Paasfees met die Paaslam, met al die simboliese betekenis wat daarin opgesluit is. Dink aan Jesus wat soveel wonders gedoen het rondom kos. Byvoorbeeld die eerste wonder waar water in wyn verander is op ‘n troue en by ʼn ander geleentheid waar broodjies en vissies genoeg was om ‘n menigte mense te voed. Dink aan die gelykenisse wat Jesus vertel het wat rondom kos gegaan het. So kan ons dink aan die etes wat Jesus saam met gelowiges en ongelowi-ges, vriend en vyand gehad het. Dink aan Petrus wat die visioen gehad het met die onrein en rein diere waar die Here aan Petrus opdrag gegee het om dit te eet. Verder het Jesus die nagmaal ingestel wat van-dag nog deur ons gevier word. Ook Sy belofte dat ons eendag in die ewigheid saam met Hom by die brui-lofsmaal sal gaan aansit.

Dit is juis met hierdie ewige feesmaal in gedagte dat ons onder andere na Jesaja 25:6-9 kan gaan kyk. Dit is Jesaja wat onder leiding van die Heilige Gees hierdie woorde aan Israel rig. Dit is nie net die Jode nie, maar alle volke wat hulle troos en redding by die Here soek, wat by die feesmaaltyd sal gaan aansit wat op die Sionsberg deur die Here die Almagtige gereed gemaak sal word. Hoor net hoe wonderlik hierdie fees sal wees wat deur die Here voorberei gaan word: Dit sal ’n feesmaal wees met die beste om te eet en te drink, goeie kos en geurige wyn. Die wat in Jesus Christus glo, sal die begenadigdes wees wat werklik sal kan verstaan dat die sluier oor hulle oë verwyder sal word. Hierdie fees is daarop ingestel om die oorwin-ning oor die dood te vier. Ons vier fees omdat Jesus Christus die dood doodgemaak het vir sy kinders. Dit is die Here God wat die dood vir ewig sal vernietig, en die trane op almal se gesigte sal afvee. Wat ‘n fees-vreugde dat die Here die smaad sal verwyder wat sy kinders ervaar het op aarde. Hierdie feesmaaltyd hou in dat elkeen wat by die feesmaaltyd is, sal kan getuig dat dit ons God is wat hierdie wonderlike dinge gedoen het. Hy is immers ons God op Wie ons vertrou het. Hy het ons gered. Dit is die Here! Ons het op Hom vertrou. Laat ons bly wees en juig omdat Hy ons gered het.

Daar is ‘n rede waarom mense saam eet. Dit hou in dat iets of iemand hierdie besondere groep mense saamgebind en saamgebring het. Vandag nog, is die saam met mekaar eet, vir ons as Christene iets beson-ders. Die nagmaal, die gemeenskaplike maaltye en etes saam met familie en vriende is vir ons meer as net ‘n blote ete. Medegelowiges wat mekaar in die Here vind en saam eet, maak iets bekend van hulle geloof in die gemeenskap van gelowiges. Ons saam eet, hou ook in dat ons mekaar graag werklik in Jesus Christus wil ontmoet en leer ken. Kom gerus, daar is vandag na die nagmaal, ‘n gemeenskaplike maaltyd waar jy jou liefde vir die Here en vir jou medegelowiges verder sal kan kom beleef.

Ds Paul

« Older posts Newer posts »