Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 317 of 346

“Kuier onder die sterre”

Psalm 8:4,5

“As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?”

In hierdie lofpsalm word die Skepper, God, in die skepping in digterlike taal beskryf. Sy grootheid, sy almag, sy heerlikheid en sy wonderlike Naam word beskryf. Dawid wat sekerlik baie nagte in die natuur onder die sterre deurgebring het besing hoe glansryk en onbeskryflik groot is die hemelruim met die maan en die sterre daarin. Hy voel homself klein voor God en die skepping van God.

Dit vervul hom met soveel blydskap en vreugde dat hy ook diep onder die besef kom van sy eie nietigheid, sy kleinheid as mens voor hierdie pragtige skepping. Hierdie Psalm is so belangrik dat Jesus Christus dit self aanhaal met die reiniging van die tempel in Mat 21:15,16. Die mens is so belangrik vir God gewees dat Hy sy eie Seun Jesus Christus ‘n mens laat word het sodat Hy sy kinders kon red en verlos met sy dood aan die kruis. Heb 2. God kry al die eer vir die skepping, die maan en die sterre en ook vir die mens wat God as heerser geskape het.

Saterdagaand, 8 September gaan ons as gemeente onder die sterre kuier. Dit gaan daaroor dat ons as gemeente aan God die eer toebring onder die sterre met ‘n heerlike kuier, Koinonia, gemeenskap van die heiliges. Ons gaan ‘n paar Psalms sing, die groot-heid van die skepping beleef en lekker saam eet aan potjiekos en lekker kuier.

Mag ons die grootheid van God altyd raaksien in die skepping.

Mag ons God altyd eer en verheerlik.

Mag ons saam met die Psalmdigter altyd God se grootheid besing met die woorde: Ps 8:2,10

“Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!”

Ds Gerrit

God het alles goed geskape

Skriflesing: Gen 1:1-31
Teksvers: Gen 1:311; Pred 7:29; Tim 4:4,5

Genesis 1 is baie meer as net ’n verhaal oor die skepping. Dit is baie meer as net ses dae waarin alles gemaak is. Dit gaan hier oor die Drie-enige God wat geopenbaar word as die enigste God wat geskape het omdat Hy almagtig is. Hoeveel keer het u al gevra, gereël sodat iets gedoen moet word en dit het nie gebeur nie. God het net gespreek en dit het gebeur. Psalm 33:8,9 “Die hele aarde moet die Here vrees, al die bewoners van die wêreld moet vir Hom ontsag hê, want Hy het gepraat en dit was so, Hy het beveel en dit was daar.”

Ons gaan na drie sake kyk met die klem op die woorde in vers 31 “…en dit was baie goed.”

  • God het geskape.
  • God het geëvalueer.
  • God het alles baie goed verklaar.

Laai af

Christus is die Uitkomsgewer

Skriflesing: 1 Korintiërs 10
Teksvers: 1 Korintiërs 10:13

In hierdie hoofstuk word die geskiedenis van Israel as waarskuwing en herinnering aan die gelowiges in Korinte gegee. Die gelowiges word herinner aan die afvalligheid van Israel en die gevolge daarvan. Net soos Israel, so kon die gelowiges in Korinte hulle nie verontskuldig oor hulle afvalligheid weg van die Here nie. Daarom lei die Heilige Gees vir Paulus om hulle te waarsku dat daar geen versoeking oor hulle kan kom behalwe ’n menslike een nie. God is egter getrou. Hy sal nie toelaat dat die gelowiges bo julle vermoë versoek word nie, maar die Here sal saam met die versoeking ook uitkoms gee, sodat hulle die versoekings sal kan verduur.

Laai af

Eljada Huis Opedag

Datum:       1 September 2018
Tyd:            09h30 vir 10h00

RSVP:        voor of op 30 Augustus 2018

Plek:          Eljada Huis
                   Boekenhoutkloofstraat 949
                   Claremont
                   Pretoria

« Older posts Newer posts »